Diverse

Leef 100%

Proe die reënboog

Die lewe is nie ’n bak vol kersies nie. Miskien moes dit gewees het – ryk, dieprooi kersies gemeng met soet bloubessies en sappige perskes, alles tot barstens toe vol geur. Dié kosse, met hul aanloklike kleure en geure, is ook propvol beloftes van gesondheid.
The color code: A revolutionary eating plan for optimum health deur James A. Joseph en ander (Hyperion, 2003).

 

 

Gedink Popeye, daardie veglustige strokies-matroos met die bultende biseps, is die toonbeeld van blakende gesondheid? Gesien deur die oë van die gesondheidsbewuste millennium-mens is hy waarskynlik op steroïede (daardie spiere is ’n bietjie erg), hy ly aan die dieetsiekte orthorexia (wie eet nou net spinasie?) en hy is te lief vir sy pyp!

En daardie uitpeuloë? Dalk skildklierprobleme …

 

 

Volgens die nuutste dieet-neiging moet hy boonop die groen spinasie afwissel met ander kleure van die kosreënboog, soos rooi, oranje en blou-pers.

Kos-profete soos The color code se James Joseph en David Heber, direkteur van die Sentrum vir Menslike Voeding aan die Universiteit van Kalifornië en medeskrywer van What color is your diet? (Regan Books, 2002), beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n dieet wat uit ’n wye verskeidenheid mildelik gekleurde kosse bestaan.

 

 

As jy hoofsaaklik bruin en beige kos eet, is dit waarskynlik meesal biefstuk en skyfies, verfynde en peuselkos (baie Westerlinge se stapelvoedsel).

 

 

Heber verdeel plantkosse in sewe kleure: rooi, rooi-pers, oranje, oranjegeel, geel-groen, groen en wit-groen. (Sjoe, en ek voel edel as ek die dag groen én rooi plantkos oor my lippe kry!)

 

 

Baie van die plant- of fi to-chemikalieë en ander bestanddele wat vrugte en groente sulke gesonde kos maak, is dikwels ook verantwoordelik vir hul kleur. Daar is baie verskillende plantchemikalieë en ander bestanddele wat met kleur geassosieer word. Om te verseker dat jy ’n wye verskeidenheid inkry moet jy vrugte en groente uit soveel moontlik kleurgroeperings eet.

 

Jy moet dus nie net ’n minimum van vyf porsies groente en vrugte per dag eet nie, maar ook konsentreer op kleur … kleur … en nogmaals kleur. (’n Porsie is sowat ’n hand vol.) En moenie die skil verwyder nie: dis die rykste bron van gesonde plant-nutriënte.

IN THE COLOR CODE NOEM JOSEPH DIT ‘PIGMENT-KRAG’

  • Die natuurlike kleurstof wat tamaties rooi maak, kan dalk help om kanker af te weer. ’n Studie aan die Universiteit van Harvard toon mense wat minstens tien porsies tamatie-produkte per week eet se risiko verminder met die helfte om kwaadaardige gewasse te ontwikkel.
  • Suur kersies se hoogrooi kan moontlik artritispyn verlig. Studies aan die Universiteit van Michigan toon kersies se suur is tien keer sterker as dié van aspirien.
  • Die indigo pigment in bloubessies kan dalk die verstandelike aftakeling wat met die ouderdom gepaard gaan, afweer. Stapel kleurryke vrugte en groente dus hoog op jou bord. Veral nou in die somer kan jy kreatiewe slaaikombinasies van kleur, tekstuur en geur skep met vrugte, groente en kruie (soos knoffel, gemmer, kappertjies, roosmaryn, tiemie, basiliekruid en orego).

Die dividende in gesondheid en gewigsverlies is groot. Dit is meestal laag in vet, propvol vesel en gelaai met natuurlike plant-chemikalieë wat jou teen chroniese siektes soos kanker, hartkwale, diabetes, hoë bloeddruk en vetsug kan beskerm.

Kleur jou dieet in

Rooi

Kersies, rooi soetrissie, radyse, aarbeie, rooi appels, tamaties, rooi druiwe, waatlemoen

 

Likopeen is een van die plant-chemikalieë in hierdie groep wat vir sy gesondheidsvoordele nagevors word. Volgens dr. Willem Serfontein in Genesende Voeding (Tafelberg, 2001), is dit die sterkste antioksidant van al die karotenoïede (stowwe in plante met helder kleure) en waarskynlik die mees onderskatte. Dit kan moontlik tot tien keer meer beskerming teen kanker bied as betakaroteen, die geel kleurstof in onder meer geelwortels. Dis besonder doeltreffend teen bors-, long-, endometriale en prostaatkanker, aldus dr. Serfontein.

 

Nog moontlike gesondheidsvoordele van die rooi groep: ’n beter geheue, en dit help om infeksies van die urienweë te voorkom.

Geel / oranje

Appelkose, wortels, lemoene, geel appels, mango’s, geel soetrissies, nektariens, perskes, botterskorsies, pampoen, geelwortels, suikermielies

 

Dit bevat kragtige antioksidante soos vitamien B, C en E. Ook karotenoïede en bio-flavonoïede, twee soorte plant-chemikalieë wat deur navorsers bestudeer word vir hul vermoë om jou gesondheid te verbeter. Ons ken almal die karotenoïed betakaro teen. Dit word deur die liggaam in vitamien A omgesit en bied beskerming teen verskeie kankers, veral longkanker.

 

Nog moontlike gesondheidsvoordele van dié groep: dit versterk die immuunstelsel, verbeter sig.

Groen

Avokado, broccoli, groen soetrissie, kiwivrug, slaaiblare, komkommer, groen appels, groenbone, ertjies, spinasie, groen druiwe, artisjok, aspersies

 

Dit bevat plant-nutriënte soos luteïen en indole. Die natuurlike pigment chlorofil bevat vitamien A en C, minerale (yster) en vesel.

 

Moontlike gesondheidsvoordele van dié groep: dit versterk bene en tande, verbeter sig.

Blou / pers

Pruime, swart-, blou- en rooibosbessies (cranberries), pruimedante, pers druiwe, rosyne, beet, eiervrug

 

Dit bevat plant-chemikalieë wat tans nagevors word vir hul eienskappe as antioksidante en om veroudering teen te werk.

 

Moontlike gesondheidsvoordele van dié groep: Voorkom infeksies van die urienweë, verbeter jou geheue, voorkom ouderdomsverwante siektes.

Bruin / wit

Piesangs en aartappels (laasgenoemde is ook ’n goeie bron van potas), sampioene, bruin pere, uie, blomkool

 

Dit bevat verskeie plant-chemikalieë waarin wetenskaplikes belangstel, soos allisien in die ui-familie.

 

Moontlike gesondheidsvoordele: verlaag cholesterol en bloeddruk.

Lewenslus, energie en kleur

Rooi kosse (aarbeie, rooi appels, rooi soetrissies) gee ekstra energie en help as jy lusteloos en moeg is. Rooi is die kleur van passie, lyflike ervaring en opwinding.

Kruie: ginseng, dropwortel, brandrissies. Om te ontspan: Laventel, lemoenblom (neroli) en kamille.

 

Oranje kosse (geelwortels, papaja, botterskorsies) laat jou optimisties en gereed vir verandering voel. Oranje simboliseer vuur, kreatiwiteit en dryfkrag. Die kruie jasmyn en ilang-ilang sal weer vuur in jou lende sit.

 

Geel kosse (geel soetrissies, suurlemoene) moedig jou aan om te lag en pret te hê. Dit kan depressie help voorkom. Dis die kleur van son, lewe, werklus en werkbevrediging.

Melkdissel suiwer jou lewer; malva- en sitrusolie balanseer die bo-buikarea. Peperment-olie in ’n brander by die werk maak jou meer produktief.

 

Groen kosse (avokado’s, spinasie, kiwivrug) verbeter fisieke uithouvermoë en help om paniek en angs te beheer. Dis die kleur van medemenslike liefde en die uitreik na ander; van heling en rus en vrede. Echinacea ondersteun die immuunstelsel.

 

Blou kosse (bloubessies) help jou kalmeer, ontspan en konsentreer. Blou is die kleur van kommunikasie en kan jou help om jouself doelgerig en selfversekerd uit te druk. Bloubessies en laventel balanseer die keelkliere. Gorrel met salie in kookwater getrek vir keelseer en warm gloede in die menopouse. Kelp bevat jodium wat ’n lui skildklier ’n hupstoot gee. Blou/pers/lila is die kleure van jou siel, jou reikwydte na die heelal en die wêreld om jou.

 

Pers kosse (eiervrug, pers druiwe) bevorder leierskap, emosionele krag en stabiliteit. Dit voed jou siel én kop. Kava kava maak jou rustig as die wêreld te vinnig op sy as tol. Ginkgo biloba verskaf suurstof en voedingstowwe aan jou rustelose, uitgeputte brein. Valeriaan-tee help om die gekekkel in jou kop hok te slaan as jy wil slaap.

Bron

Stres Strategie deur dr. Arien van der Merwe (Tafelberg, 2004). Sy is ’n mediese dokter met ervaring in natuurlike en aanvullende medisyne en ’n stresbestuur-konsultant.

ANDER BRONNE: Eet jou gesond deur dr. John Briffa (Tafelberg, 2001); www.5aday.co.nz

Barbara se gesonde somerslaai

 

Barbara Joubert, SARIE se kosredakteur, se resep vir ’n kleurryke slaai: Sny 2 tamaties in skywe. Rangskik op ’n bord. Sny ’n geel soetrissie in dun repies en plaas bo-op die tamatie. Sny 1 ui in ringe en plaas bo-op die geel soetrissie. Gebruik sowat 100 g wit sampioene, sny in dun skywe en rangskik bo-op die uie. Rangskik gesnyde beet en avokadopeer bo-op. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Sprinkel olyfolie en die sap van ½ suurlemoen oor!