Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit ’n sielkundige, holistiese terapeut en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek en my man was 22 toe ons 5 jaar gelede getroud is. Die verhouding het geleidelik afgewater. Ons leef goed saam, maar daar was van die begin af konflik en irritasie. Ek verlang na innigheid en romantiek, maar ek het al opgehou vra. Hy wil weer meer aanraking en komplimente hê. Hy sê ek is te kwaai en krities. Dis nie hoe ek dink ’n huwelik behoort te wees nie. Nou is daar ’n man by die werk wat my hart vinniger laat klop. Die aantrekkingskrag word sterker en ek weet nie of ek my hart daarvoor moet oopmaak nie. Ek wéét dit kan my huwelik vernietig.’

 

Terry de Vries Nel

Energie-terapeut van Stellenbosch

 

ANTWOORD

  • Jy is nooit verlief op enigiemand nie. Jy is net verlief op ’n vooropgestelde en hoopvolle idee van die ander persoon. Is dit nie hoe jy “on-verlief” raak nie? Jou idee verander en daarom ook jou verliefdheid. Dié woorde van Anthony de Mello, Jesuïetpriester, laat ’n mens dink.
  • Hy skryf in sy boek Awareness (Image-uitgewers, 1990): “Mense wil nie regtig grootword nie, mense wil nie regtig verander nie, mense wil nie regtig gelukkig wees nie.”
  • Mense kan net gelukkig wees mits hulle ’n beter kar of huis kry. Of só glo hulle. In jou geval is dit ’n beter man. En dis nie die oplossing nie. Want as die nuwigheid eers weg is, dan sit jy in presies dieselfde bootjie. Wat is ’n huwelik? Wat is enige verhouding? Dit bied jou die kans om liefde te ervaar. En die doel van dié liefde is om jou liefde vir God wakker te maak. Liefde is liefde. Dis onvoorwaardelik, dis groots, dis onverganklik.
  • Dit volg nie jou ego-wense nie en beskuldig nie ander nie. Moenie vaskyk in die lyf en ego nie, sien eerder die siel raak. Sien jou dilemma as ’n wonderlike geleentheid vir persoonlike groei. Soek die fout eers by jouself voor jy jou feromone volg.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD

  • Dit voel dalk of die nuwe man behoeftes vervul wat jou man nie kan nie. Ek sou jou aanraai om op vriendskaplike voet met hom te bly.
  • Laat hy dus jou lewe verryk, sonder om seksueel betrokke te raak. Baie van ons raak soms op ’n derde persoon verlief. Die doel is nie geluk nie, maar om jou tot groter bewustheid en dus groter selfaktualisering te dwing. Dis egter jóú keuse wat jy met dié gevoelens doen. As die spanning onhoudbaar raak, moet jy oop kaarte met jou man speel. Oneerlikheid en geheime affairs lei uiteindelik tot seerkry. Die oomblik wanneer jy ’n seksuele verhouding met iemand anders aanknoop, het jou vorige verhouding gesterf.
  • Volwassenheid is jou vermoë om verantwoordelikheid vir jou keuses te aanvaar. Jy het immers gekies om met jou man te trou. En as jy kies om die nuwe verhouding te verken, sal jy die opofferings moet hanteer.
  • Ek beveel aan dat jy en jou man ’n huweliksterapeut besoek en die dilemma bespreek. Hy sal die wrede werklikheid makliker in ’n ondersteunende atmosfeer hanteer. Dalk lei dit tot ’n oop gesprek, nuwe deernis en beter vervulling van mekaar se behoeftes. Jul huwelik groei dus. Of die teendeel. Dalk besef julle dat julle nie bymekaar pas nie – en kan jy met sekerheid die nuwe verhouding voortsit. Maar ’n nuwe geliefde is nie ’n waarborg vir geluk nie.
  • ’n Gelukkiger verhouding is ’n uitvloeisel van persoonlike groei.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD

  • Ek kan hoor dat jy en jou man ’n kommunikasie-probleem het. Daar was van die begin af konflik en irritasie – terwyl julle albei dieselfde behoeftes het. Aan méér nabyheid, méér intimiteit. Klaarblyklik kry julle dit nie reg om jul behoeftes op só ’n manier oor te dra dat die ander een dit positief beleef nie. Hoekom nie? Dit kan dalk wees dat julle aanneem julle verbaliseer wel jul emosies en behoeftes. Maar dit kom in werklikheid oor asof julle mekaar beskuldig. As dit só is, praat “ek-taal”. Soos: “Dis vir my lekker as jy . . .” Niemand kan jou gedagtes lees nie. Nog ’n rede kan wees dat julle dalk onseker van julself is, dus maklik afhanklik raak en dan trou – ten spyte van konflik en irritasies.
  • In só ’n verhouding word jou geluk deur jou maat se gedrag bepaal. As hy/sy nie jou behoeftes vervul nie, is jy kwesbaar vir iemand anders se aandag. Werk eers aan jul selfvertroue en hoe julle kommunikeer – en soek hulp as dit nie verbeter nie. Maar moenie jou in ’n ander verhouding begewe vóór jy nie met dié een klaargemaak het nie.

Marieke Brand

SARIE-leser van Kaapstad

 

ANTWOORD

  • Dis ’n besluit wat jy ongelukkig self moet neem: Vasbyt met ’n huwelik wat jou frustreer, of alles waag vir die moontlikheid van iets méér. Jy is realisties oor jou situasie. Maar ek wil ’n paar harde feite byvoeg. Enige verhouding kan in vyf jaar afgewater raak – as twee mense nie moeite doen om intimiteit en romanse te koester nie. As die een die ander as kwaai en krities beleef, gaan dit moeilik wees om lewe in daardie sy van die verhouding te blaas.
  • Die ander man laat jou hart nou vinniger klop. Maar as jy vyf jaar gelede met hóm getrou het, was jy dalk ook maar verveeld met die verhouding. Opwinding hou nie vir ewig nie. Daar is geen waarborg dat julle goed sou saamleef, soos jy en jou man nou nie. Jy weet wat jy het. As jy en jou man moeite doen om minder geïrriteerd met mekaar te wees, mekaar meer te waardeer en te koester, kan dit jul huwelik nuwe skop gee. Jy weet nie wat jy gaan verloor, of in die plek daarvan kry nie. Moenie jouself bluf nie, ’n buite-egtelike verhouding, of selfs ’n egskeiding, is nie ’n kitsoplossing nie.

Ons praat seks

VRAAG

Ek en my vrou het ’n normale sekslewe (een of twee keer per week). Ek het egter ’n probleem: Ek het so vier keer wet dreams (nagtelike ejakulasies) gehad. Ek weet nie hoekom nie, maar ek voel sleg daaroor. Is daar iets met my verkeerd? Hoe kan ek dit stop?

Dr. Elna McIntosh

seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD

  • Al waaroor jy bekommerd hoef te wees, is of jou wasmasjien werk. Hoewel wet dreams meer dikwels met tienerseuns vereenselwig word, kry volwasse mans en vroue ook dié nagtelike orgasmes.
  • Studies toon dit kom by sowat 90% van mans en 37% van vroue voor. Sommige mense kry dit meer dikwels as ander. En sommige mense geniet dit meer as ander. Erotiese drome, insluitende dié wat tot ’n orgasme lei, gebeur. Of jy dit nou wil hê of nie. Dis nie ’n teken dat jy nie seks met jou vrou geniet nie. As die inhoud van die drome jou pla, bv. ’n ou vriendin, ’n nuwe seksuele scenario, ’n beer op ’n driewiel, wat ook al: Onthou dat drome en fantasieë maniere is om jou seksualiteit te verken – sonder dat jy daarop hoef te reageer. Dis net ’n manier om dinge te ondersoek. Jou wet dreams kan dalk verminder as jy meer seks het, of masturbeer. Maar dis nie ’n waarborg dat jy dit nooit weer sal hê nie.
  • Hoekom dit dan nie geniet nie? Dis heeltemal normaal en gesond. En die orgasme wat dikwels daarmee saamgaan, is net nog ’n manier om jou seksualiteit te geniet. Selfs al moet jy die lakens of jou slaapklere meer dikwels was!