Diverse

Leef 100%

LEEF 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en holistiese terapeut tot ’n sielkundige en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek is 36 jaar oud en my tweede kind is 21 maande gelede gebore. Ek is terselfdertyd gesteriliseer. Twee maande ná die geboorte het ek paniekaanvalle begin kry. Ek is slaaploos, depressief, huilerig en het geen behoefte aan seks nie. My man plaas nie druk op my nie, ondersteun my en respekteer my gevoelens. My dokter het anti-depressante voorgeskryf, maar die donkerte wil net nie verdwyn nie.’

Marleen de Villiers

Holistiese terapeut en sielkundige van Johannesburg

ANTWOORD

  • Dit klink of jy aan nageboortelike depressie ly (die sogenaamde baby blues), en dit lyk of dit chronies geword het. Jou dokter het anti-depressante voorgeskryf, maar hormonale skommelinge weens die sterilisasie dra dalk tot die donkerte by. Gesels met jou ginekoloog daaroor. Dis bemoedigend dat jou man soveel begrip toon. Dit klink of julle ’n besonderse en diep liefdesverhouding het. Probeer energie en krag hieruit put. Gaan gereeld vir refleksologie. Dit kan jou energievelde balanseer en sal beslis met die slaaploosheid en selfs verlies aan lewenslus help.
  • Het jy ’n goeie ondersteuningstelsel? Vriendinne, dalk ’n boekklub, joga of ander vorme van oefening en ontspanning? Ek beveel ook meditasie aan. En besoeke aan ’n goeie, ervare terapeut. Ek kry die gevoel dat jou sterilisasie ’n groter aandeel aan jou ongelukkigheid het as wat dit op die oog af lyk. Dit kon selfs onderdrukte, sielkundige ervaringe in die onderbewussyn geaktiveer het – wat nou aandag en genesing vra en verdien. Onthou, anti-depressante verbloem bloot simptome. En doen niks aan die onderliggende oorsake nie.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD

  • Bly in kontak met jou dokter. Dis dalk nodig om die dosis van die anti-depressante te verhoog. Of dat ’n ander middel voorgeskryf moet word. Ek glo nie die sterilisasie alleen is die oorsaak van jou simptome nie. Sulke simptome en hormonale skommelinge is nie ongewoon ná die geboorte van ’n kind nie. Maar ek glo daar is ook ’n ander kant. Al gaan alles ook hóé goed, die verantwoordelikhede én vreugde van ’n nuwe baba veroorsaak baie stres by jou as ma. En ook by die ander gesinslede. Dié druk, saam met die chemiese veranderinge, kan die sneller wees wat opgekropte emosies uit die verlede laat opborrel.
  • Dit gebeur veral van sowat 35 jaar af. Dis egter meestal onbewustelik – en dan skryf ons dit te maklik toe aan die sneller-voorval (soos die geboorte van ’n kind of hormonale veranderinge). Moenie jouself te veel druk nie. Besoek ’n sielkundige en bespreek met hom/haar wanneer jy voorheen in jou lewe dieselfde soort emosies beleef het. Daar is altyd ’n patroon waarop ’n mens jou emosies en behoeftes hanteer. Gee aandag aan hoe jy dit tot nou toe gedoen het – en werk aan nuwe maniere om dit in die toekoms te doen.

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

 

ANTWOORD

  • Dis ’n moeilike tyd vir jou. Weet net dat jy nie alleen is nie. Vra die Here om mense te stuur wat jou kan help. En bid vir die regte leiding, want dis steeds jý wat hierdeur moet kom. Jy is op ’n plek waar al jou vrese en onsekerhede jou aftrek. Die enigste manier om dit te laat verdwyn, is om dit na die lig te bring. Daarvoor is stilte en afsondering nodig. Vra die Here om jou te help om al die seerplekke te identifiseer – en ook vir hulp om daardeur te werk.
  • Skryf saans voor jy gaan slaap alles neer waarvoor jy dankbaar is. Sê dankie vir die goeie dinge wat daar in jou dag was. Gewone dinge – dat jy kan sien, loop, hoor . . . Selfs al voel jy nie juis dankbaar nie. Jy sal sommer ook beter slaap.
  • Voor jy soggens heeltemal wakker is, dink oor al die positiewe dinge wat jy graag in jou lewe wil hê. En vra daarvoor. Probeer om deur die dag bewustelik liefde na die wêreld te projekteer – voel dit in jou hart. Luister na positiewe CD’s en laat net mense in jou lewe toe wat jou goed laat voel. Moenie in die donker bly sit nie. Al die raad in dié rubriek is kersies wat jy daarteen kan aansteek.

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheermet ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek Self – die essensiële gesondheids- en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg)

ANTWOORD
  • Wat jy beleef, is nie ongewoon nie. En jy is nie alleen nie. Jy het baie simptome van nageboortelike depressie – ’n toestand wat baie vroue beleef. Paniekaanvalle en angs is onlosmaaklik met depressie verweef. Só ook die verlies aan libido, slaaploosheid en tranerigheid. Dis wonderlik dat jou man jou ondersteun – dit sal jou sekerlik help om vinniger te herstel. Jou dokter het die regte ding gedoen om anti-depressante voor te skryf.
  • Maar dis ook nodig om terselfdertyd vir psigoterapie of berading te gaan. Dit neem minstens ses weke voor jy die uitwerking van anti-depressante begin voel, vandaar die gevoel dat die donkerte maar net nie wil wyk nie. Ek beveel aan dat jou dokter jou medikasie monitor. Nie alle anti-depressante werk vir almal nie en hy/sy sal dalk jou medikasie moet verander. Jy sal dit ’n jaar of langer moet gebruik. Moenie skielik net daarmee ophou nie, veral nie vóór jy dit ses maande lank geneem het nie. Jy sál beter word – en uit die donkerte na die lig toe beweeg.

Ons praat seks

VRAAG

Ek wonder oor seks in swembaddens en jacuzzi’s. Sal die chemikalieë ’n kondoom minder veilig maak? Kan spermdoders in water gebruik word, of sal dit afwas/wegspoel?

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD

Kondome word gewoonlik nie in swembaddens en jacuzzi’s getoets nie, of saam met chemikalieë wat in dié warm, nat plekke gebruik word nie. Onderwaterseks, hetsy in ’n
swembad, warmbad, see, rivier of onder die stort, is nie veilig nie:

  • Spermdoders gaan waarskynlik afwas of wegspoel.
  • Water bevat chemikalieë, sout of bakterieë wat tydens seks in die vagina of rektum kan beland. Dit kan irritasie, infeksie en tydelike droogheid veroorsaak.
  • Daar word aanbeveel dat lateks-kondome nie aan regstreekse sonlig blootgestel word nie. Dis moontlik dat verhitte water ’n soortgelyke uitwerking kan hê.
  • Water kan tussen die kondoom en penis insypel en die kondoom kan dalk afglip.
  • Produkte met ’n oliebasis – soos sonbrandroom, sjampoe en seep – kan lateks-kondome beskadig. Chloor het dalk dieselfde uitwerking. Dis natuurlik beter om ’n kondoom in ’n swembad of jacuzzi te gebruik as glad nie een nie.