Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en sielkundige tot ’n SARIE-leser en berader in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek en my vriend is albei 30 jaar oud, al 4 jaar saam en baie lief vir mekaar. Ek is egter die sterker een en verdien ook 3 keer meer as hy. Dit pla hom effens, want in sy gesin het sy pa die broek gedra. Hy was egter sy ma se kind. Wat my pla, is dat hy nog glad nie lus is vir ’n vaste verbintenis nie en terugdeins vir die idee van trou. Hy weet ook nie of hy eendag kinders wil hê nie. Hy is nie baie stabiel in sy werk nie en bedank sommer impulsief as daar die geringste ontevredenheid of konflik is. Moet ek wag totdat hy eendag volwasse geword het? Die vraag is: Gaan hy ooit grootword?’

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD

  • Moenie wag dat hy volwasse word nie. Moenie vra of hy gaan grootword nie. Dis sý besluit. Die vraag is eerder wat jou vier jaar lank aan ’n verhouding laat vasbyt het, terwyl daar geen bewustelike verbintenis van sy kant af is nie én dinge jou pla.
  • Wat soek jy in ’n verhouding? ’n Verbintenis? Huwelik? Kinders?
  • Wil jy ’n man hê wat selfvertroue het en homself kan handhaaf? Soek jy ’n vennoot of iemand wat ’n vrou soos sy ma wil hê? Jy dink kláár hy is nie “groot” nie. Was sy pa dalk oorheersend en het sy ma al haar warmte en liefde op haar seun uitgestort? Het hulle dalk van mekaar afhanklik begin raak, die “stabiele, versorgende ma” en die “dankbare, liefdevolle seun”? Is daar dalk parallelle daarvan in jóú gesinslewe en júl verhouding? Want mense met soortgelyke probleme trek mekaar dikwels aan.
  • Sê reguit vir hom wat jy soek. As hy nie reageer nie, moet jy ernstig oor jul verhouding besin en dalk hulp vir die verhouding én jouself soek. Anders projekteer julle naderhand al meer jul onderdrukte aggressie en onvervulde behoeftes op mekaar – en herhaal die geskiedenis homself.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD

Jy het as kind waarskynlik eerder met jou pa en hy met sy ma geïdentifiseer. Jy is dus meer gemaklik om jou manlike persoonlikheidseienskappe uit te leef. Jy deins nie terug vir mededinging, selfgelding, inisiatief en daadkrag nie. Hy daarenteen, voel gemakliker in ’n ondersteunende of versorgende rol. Só ’n verhouding kan werk, mits julle mekaar se rol respekteer. Hy het klaarblyklik nog nie sy inisiasie-proses as man deurloop nie en is dus nog in die tiener- of seun-mentaliteit vasgevang. Hy is nie ryp om verantwoordelikheid te aanvaar en verbintenisse in stand te hou nie. Dit beteken dat hy homself van sy ma se warm, veilige gemaksone moet losmaak. Jou natuurlike impuls gaan wees om druk op jou vriend toe te pas. Hy gaan egter net daarteen rebelleer. Jy sal dus meer subtiel te werk moet gaan:

  • Saai saadjies deur jou eie seerkry te verbaliseer. Kommunikeer slegs gevoel. Soos: “Ek is só lief vir jou en dis swaar om nie ’n toekoms saam te visualiseer nie.” Moenie verwyt nie.
  • Gee hom boeke om te lees sodat hy kan verstaan hoe die inisiasie-proses werk. Soos Iron John deur Robert Bly (Element Books, 1991) en Fire in the Belly deur Sam Keen (Sunbow Books, 1991).
  • Motiveer hom om ’n terapeut te besoek wat hom met dié oorgang kan help.
  • Dis belangrik dat hy weet daar is ’n spertyd. Besluit op ’n datum en verduidelik aan hom dat jy ryp is vir ’n vaste verbintenis. En dat hy voor dié datum ’n besluit moet neem. Gaan intussen voort met jou lewe, brei jou vriendekring uit en ontwikkel jou belangstellings.

Marieke Brand

SARIE-leser van Kaapstad

 

ANTWOORD

  • Dis nie noodwendig ’n probleem dat jy meer as hy verdien en hy meer impulsief en minder verantwoordelik as jy is nie. Maar dit pla hom en dit pla jou. Dis ook nie belangrik wat ander mense dink nie. ’n Verhouding lyk soms ongebalanseerd, maar vir die betrokke partye werk dit. Dit gaan daaroor of julle julself en mekaar liefhet, ten volle aanvaar en aanvul. Is dit hoe jy oor hom voel? En voel hy dieselfde oor jou? Dat hy huiwer om te trou en nie seker oor kinders is nie, laat ’n mens wonder of hy nie intuïtief bekommerd is oor ’n wanbalans in jul verhouding nie.
  • As hy voel dat jy hom bedreig en oorheers en jou stilletjies daarvoor verkwalik, kan hy jou aan ’n lyntjie hou. Omdat dit jou selfvertroue ondermyn, kan dit hom ’n gevoel van mag gee. As een mens in ’n verhouding minderwaardig voel, kan dit mettertyd verwyte en woede by albei veroorsaak. Die een voel magteloos, die ander een weer met verantwoordelikheid oorlaai. En albei raak dan slagoffers, wat ’n baie negatiewe dinamika is. Dink mooi daaroor en gesels dan eerlik. Dis tyd dat julle julself daartoe verbind om saam te wees. En hard werk om julself en mekaar te aanvaar en aan te vul. Of dis tyd om te aanvaar dat dié verhouding nie een van julle gelukkig gaan maak nie.

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek Self – Die essensiële gesondheids- en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg)

 

ANTWOORD

  • Dis moeilik om te sê of hy gaan grootword of nie. Want soms verander mense tog op ’n positiewe manier. My gevoel is egter dat dit waarskynlik nie gaan gebeur nie. Hy wil nie enige van die dinge hê wat jy begeer en verdien nie: ’n Vaste verhouding, huwelik en kinders. En belangriker: Respek, erkenning en waardering. Jy is ’n bemagtigde vrou wat ’n goeie salaris verdien en duidelik ’n goeie werk het. As hy jou regtig baie lief het, sal hy trots op jou sukses wees en jou tot groter hoogtes aanspoor.
  • Dis nie ’n verskoning dat sy pa “die broek gedra het” nie. Dinge het die afgelope twintig jaar verander en mense omhels deesdae ekonomiese en geslagsvryheid. Op dertig moet hy gereed wees om die verskuiwing weg van Mammie af na die liefde van sy lewe te maak. Ek dink hy het op baie maniere vasgehaak. Soek jy ’n gesonde verhouding, gegrond op wedersydse besorgdheid vir mekaar? Een wat jou die vryheid bied om die beste te wees wat jy kan? Jy gaan dit nie by dié man vind nie.

 

Ons praat seks

VRAAG
My kêrel gebruik reeds die afgelope 4 jaar ’n antidepressant. Dit het sy libido aangetas. Hy het al talle natuurlike produkte gebruik, maar dit help nie. Ek is 25 jaar oud, hy 35. Dit plaas geweldige druk op ons verhouding. Ek verstaan dat mans nie graag daaroor praat nie, maar ek is besig om desperaat te raak.

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg


ANTWOORD

  • Dis frustrerend as medikasie ’n toestand verlig, maar ook newe-effekte het. Sowat 60% van mense wat medikasie vir angs en depressie neem, ervaar newe-effekte. Dit sluit in die onvermoë om ’n orgasme te kry, ’n laer libido en (by mans) ereksie-probleme. Moedig jou vriend aan om sy geneesheer te vertel dat hy newe-effekte ervaar.
  • Is die verandering onaanvaarbaar vir hom, vir jou of vir julle albei? Dis interessant dat hý nie die brief geskryf het nie – miskien is dit nie vir hom so belangrik nie. Dis moeilik om hieroor te praat, maar jy (of hy) moet vasstel of daar ’n oplossing is. Ons reageer nie almal dieselfde op medikasie nie. En die newe-effekte van anti-angsmiddels en antidepressante kan wissel, afhangende van die soort medisyne wat jy neem.
  • Jou vriend kan ’n ander soort antidepressant neem, hy kan die dosis verminder, die skedule wanneer hy dit neem, verander, sodat dit nie rondom die tyd is wanneer hy graag ’n orgasme sou wou hê nie, en ’n ander soort medikasie of kruie-aanvulling as teenvoeter vir die antiorgasmiese effek van sy medikasie. Alles natuurlik in samewerking met sy geneesheer. Sy geneesheer moet ook weet watter ander medisyne (konvensioneel of aanvullend) hy neem, sodat hy nie bestanddele meng wat negatief op mekaar inwerk – met gevaarlike gevolge – nie.