Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en sielkundige tot ’n SARIE-leser en energie-terapeut in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek ly al langer as 25 jaar aan bulimie. Ek is oortuig dat my dokters, vriende en familie dit weet, maar niemand praat daaroor nie. Alleen kan ek nie meer nie. Ek haat myself en belowe om dit nie meer te doen nie. Dit gaan dalk 2 weke lank goed, maar dan is dit weer die ou storie. Ek is baie oorgewig, eet te veel koek en lekkernye, vomeer en stop myself dan weer vol. Ek wil nie hê my gesin en vriende moet daarvan weet nie. Maar die front wat ek voorhou, raak te veel.’

Terry de Vries Nel

Energie-terapeut van Stellenbosch

 

ANTWOORD

Ek sien net enorme letters wat “help!” skree. ’n Eetsteurnis is ’n vreeslike monster om mee te worstel. Dis ’n verslawingsiekte soos alkohol- en dwelm-afhanklikheid, en jy kan dit nie met ’n towerstokkie wegwaai nie. Dat jy al sover gekom het om ’n brief te skryf is ’n teken jy is uiteindelik bereid om verantwoordelikheid vir jou eie gesondheid én jou lewe te neem – en dis al klaar ’n groot tree op die pad na genesing. Dis tyd om jou monster uit die kas te haal en vierkantig in die oë te kyk.

Praat heel eerste met jou man daaroor. Jy sal na ’n kliniek vir ’n intensiewe 6 week lange program moet gaan en het sy hulp en ondersteuning nodig. Bulimie is ’n siekte van skaamte, geheimhouding, skuldgevoelens en selfhaat en is ’n manier om intense emosies te verdoof en te hanteer. Dis nie ’n skande nie, net ’n noodkreet. Vergeet van enige dieet, want dit werk nie. Jou gedragspatroon en lewenstyl moet verander en jy kan by ’n kliniek daarmee gehelp word. Jy word ook geleer om oor jou emosies te praat. Jy moet weet dat jy nie alleen is nie. Die engele is by jou. Al wat jy hoef te doen is om hulle te vra om jou te help.

Kenilworth-kliniek, Kaapstad: 021 763 4500.

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD

Jy het die belangrikste stap geneem om hulp te vra. Stap nou ’n pad met jou dokter, dieetkundige en ’n sielkundige. Ek glo jou eetgewoontes en bulimie is onder meer ’n emosionele verdedigingsmeganisme teen talle emosies soos skaamte, skuldgevoelens, angs, magteloosheid, eensaamheid en aggressie. Miskien het jy ’n sterk behoefte aan intimiteit, maar terselfdertyd ’n vrees daarvoor. Want laat jy iemand na aan jou toe, ervaar jy een of meer van genoemde emosies. Te veel “lekkernye” en vomering word dan jou “veilige” plaasvervanger vir intimiteit. En daar is verligting as jy daarvan ontslae raak (van die eetgoed én die emosies). Die einste verdedigingsmeganismes wat jou beskerm, maak jou naderhand nóg meer eensaam, magteloos en vol selfverwyt. Jy leef dan al hoe meer geheimsinnig en innerlik afgesny van vriende en familie. Dikwels leef ons eerder met die negatiewe gevolge van ons probleem saam, eerder as om aandag aan die oorsprong daarvan te gee. Want dit gaan baie seerder maak.

Soek ’n sielkundige wat jou kan help om die verband tussen jou emosies, liggaam en gedrag te herken en ander maniere te vind om jou emosies en behoeftes te hanteer. Só kan jy meer vertroue in jouself en jou verhoudingslewe kry.

Marieke Brand

SARIE-leser

 

ANTWOORD

Geluk! Jy het teenoor jouself erken dat jy bulimie het. Jy het besluit jy wil nie meer so voortgaan nie. En jy het hulp gevra. Bulimie is ’n algemene probleem, en daar is kundiges wat mense help om dit te oorwin. Begin by ’n huisdokter wat jy vertrou en vra ’n verwysing. Soos alle dieetafwykings is jou probleem ’n kombinasie van dieet en gedrag. Jy sal sekerlik ’n dieetkundige moet raadpleeg omdat jy meer gesond wil leer eet. Maar ook iemand wat jou kan help met jou swak selfbeeld en om jou selfvernietigende patroon te verbreek. Dis ook ’n goeie plan om groepsessies saam met ander bulimie-lyers by te woon. Hulle gaan jou probleem die beste verstaan en kan jou ondersteun en raad gee.

Jy sal ook besef dat jy nie alleen is nie en jouself nie so hoef te kasty nie. Dis nie nodig om dit aan die groot klok te hang nie. Dalk sien jy later kans om met vriende en familie daaroor te gesels. Hulle weet waarskynlik wat die situasie is, maar respekteer dit dat jy nie gereed is om daaroor te praat nie. Maar jy gaan dalk lekker verras wees deur hoeveel hulle vir jou omgee en bereid is om jou te ondersteun. Dis moeilik om selfvernietigende gedrag te verander. Maar jy gaan dit regkry. Want jy gaan nie die stryd alleen verder stry nie.

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek Self – die essensiële gesondheids- en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg)

 

ANTWOORD

Hoewel jy bang en skaam is om die probleem met enigeen te deel is jy skynbaar tog gereed om dit te konfronteer en iets daaraan te doen. Bulimie is ’n ernstige probleem en soos jy sê, veroorsaak dit baie gesondheidsprobleme. Jy kan inderdaad nie so voortgaan nie. Moenie teenoor jouself beloftes maak jy sal ophou nie. Jy gaan baie hulp nodig hê om die yslike gesondheids- en sielkundige probleem te oorkom. Dis nie iets wat jy op jou eie sal kan doen nie. Hoewel dit reeds baie lank voortduur, is daar tog hoop op genesing en herstel. Die belangrikste stap in die genesingsproses is dat jy erken jy het ’n probleem en dat jy hulp nodig het. Ek stel voor dat jy dit heel eerste met jou naaste familie deel en hul hulp en ondersteuning vra.

Daarna moet jy professionele hulp soek. Besoek jou huisdokter (of enigeen van jou ander dokters). Hy/sy sal jou na die beste spesialiste (psigiater en sielkundige) verwys. Daar ís baie hulp. Jy hoef jou ook nie te skaam nie. Jy het ’n mediese probleem wat dringend aandag moet kry. Daar is hoop op herstel, maar onthou: Daar is nie ’n kitsoplossing nie. Dis ’n lang proses en jy moet die eerste stap neem. Doen dit nóú. Deel jou probleem met jou geliefdes. En soek dadelik hulp.

Ons praat seks

 

VRAAG

My vriend is in sy vroeë vyftigs en steeds ’n “maagd”. Hy het nog nooit ’n “regte” verhouding gehad nie. Ek was voorheen getroud. Ons het ’n oop verhouding en kan oor alles praat. Hy slaap deesdae by my as ons uit was en ons is liefdevol in die bed. Ons sou graag verder wou gaan. Maar hy verloor óf sy ereksie óf kan nie ejakuleer nie. Hy is boonop bang ek raak swanger, selfs al gebruik ons ’n kondoom. Ek verseker hom dat alles op die regte tyd sal gebeur en dat daar geen druk is nie. Ons het al alles probeer: Gesoen en gedruk, gemasseer en na gewaagde rolprente gekyk. Maar op die kritieke oomblik “verloor” sy penis “belangstelling”. Ons het dieselfde konserwatiewe opvoeding gehad.

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD

Dit klink of jou vriend goeie verhoudingsmateriaal is. Maar ’n “maagd” op 50+? Wat het hom al die jare verhinder om ’n seksuele verhouding met ’n vrou aan te knoop? Dalk is daar iets wat jy moet weet. ’n Onvermoë om te ejakuleer kan dikwels op ’n latente wantroue in vroue dui. Maar sy probleem om ’n ereksie te kry of te behou kan dalk wel met die kondoom verband hou. Dit sal tyd vereis, maar besluit hoe lank jy bereid is om te wag dat dit vanself regkom. Ondersoek ander maniere om mekaar sensueel en seksueel aan te raak: Dit verwyder die druk van seksuele penetrasie. Sê hy moet met ’n kondoom aan masturbeer. Probeer verskillende handelsmerke totdat hy een vind wat hom nie minder gevoelig maak nie.

 

Gebruik ander maniere van voorbehoeding – dit sal sy angs verminder. Maar onthou: Selfs al is hy ’n “maagd” kon hy steeds intieme ervarings met ander mense gehad het. ’n Kondoom beskerm jou teen seksueel oordraagbare siektes. Hou aan om daaroor te praat. As dinge nie ná ’n redelike tyd verbeter nie, kontak ’n seksterapeut.