k6e8825_edit
Diverse

Leer ken jou bier

1. Lager

Gars, hop, water en gis is die sleutelbestanddele van bier in sy suiwerste vorm, waarna allerlei byvoegings gedoen word en prosesse gevolg word om verskillende style bier te maak. Lager is een van die twee hoofstyle (die ander is ale of Engelse bier).

Lagers is gewoonlik onderfermenteerders, wat beteken die gis in die bier gaan lê onder in die fermentasie- tenk. Dit word ook teen ’n baie lae temperatuur gefermenteer. Dis die goedkoopste manier van bier maak en word in massaproduksie gebruik. Die smaak is fris en vars, perfek vir kook of souse en selfs brood maak.

Pasmaats
• snoek oor die kole
• kerries
• Duitse wors   

2. Ongefiltreerde donker lager

Die meeste soorte bier kry hul bitter smaak van hop, wat ook as ’n natuurlike preserveermiddel dien. Die mout (oftewel ontkiemde en gedroogde gars) vir dié bierstyl word eers gerooster soos vir swartbier (stout). Die eindproduk is verfrissend en ryk, met ’n ligte bittersjokolade-nasmaak.

Pasmaats
biltong
• beesstert
• wildsvleis
• steak

3. Swartbier

Die soort gis wat in ales gebruik word, dryf bo-op die vloeistof in die fermentasie-proses en werk net teen baie hoë temperature. Tipiese ales het vrugtegeure en sterk, komplekse smake en reuke.

Swartbier of stout is deel van die ale-familie en van Ierse afkoms. Dis ’n donker bier met ’n bitter smaak wat van geroosterde mout gemaak word. Daar is 8 style van stout op die mark: droog, imperial, porter, baltic porter, melk, hawermout, sjokolade en oester.

Pasmaats
bredies
• vleispastei met bruinsous
• donkersjokoladenageregte

4. Ongefiltreerde Lager

Dit word gewoonlik net op klein skaal gemaak omdat dit so ’n duur vervaardigingsproses behels. Die bier lyk troebel in die glas, want dis ongefiltreer en ongepasteuriseer. Daarby is dit propvol geur, met ’n vol lyf, en dit voel sag en rond op die tong. Bier wat volgens dié styl gemaak word, gaan lekker met sterk kosse.

Pasmaats
kerries
• salami’s
• oesters

5. Romerige Ale

Bier se alkoholinhoud wissel van 3 – 10%. Romerige ale word gebrou met ’n kleur wat wissel van amber tot rooi en het ’n ryk, bevredigende, sagte neutsmaak – soet en romerig en effens bitter. Daarby is dit gelaai met borrelrige stikstof, wat sorg vir ’n stabiele skuimkop.

Dis ook Iers van oorsprong, maar nie so swaar soos stout nie.

Pasmaats
pastageregte
• soppe met ’n roombasis

6. Dunkel

’n Duitse donker bier. Dit word verdeel in twee groepe: donker koringbier en donker lager, wat albei bofermenteerders is. Die donker lager word gebrou met geroosterde mout, nes stout. Dunkels het ’n melkerige voorkoms en daar is meestal nog ’n bietjie gis-sediment in die bier.

Pasmaats
gekruide kosse
• sjokolade
• swaar winterbredies

7. Tapbier

Dit heet draught of draft op Engels en verwys tradisioneel na bier wat direk uit die vat getap word, gewoonlik in jou plaaslike oog. Op blikkies bier word die woord draught deesdae as bemarkingsmetode gebruik, want dit impliseer dat die bier in die blikkie dieselfde smaak as dié uit die vat. Die bier word in die vervaardigingsproses onder druk in blikke getap met ’n stikstof-inspuiting wat dit soos egte tapbier laat skuim wanneer dit oopgemaak word.

Pasmaats
braaivleis
• pub-kos soos worsies en kapokaartappels

8. Sider (Appel)

Na sider word dikwels verwys as bier, maar dis glad nie bier nie. Sider is gefermenteerde appelsap met ’n alkoholinhoud van 2 – 8%. Dis ’n goeie plaasvervanger vir mense wat nie van bier hou nie, en perfek vir kook. Geregte soos varklies kan bv. in die sap geoondbraai word.

Pasmaats
gestoomde vis
• slaai
• gestoomde groente soos aspersies