louis_en_lise_1
Diverse

Louis & Lise se Wie is ek: Wat veroorsaak anoreksie en bulimie?

LOUIS ANTWOORD: Eetversteurings is ingewikkeld om te verstaan en daar is nie presiese sekerheid oor die oorsake nie. ‘n Lae selfbeeld, traumatiese gebeure in die verlede, veral seksuele molestering, en konstante sielkundige probleme in gesinne speel elkeen ‘n rol. Dit is ook so dat die media (televisie, films, tydskrifte) ‘n oorwegend “ideale” beeld voorhou van hoe ‘n mens “veronderstel is om te lyk”, bv. in die modelwệreld. 

LISE VRA: Wat is die verskil tussen anoreksie en bulimie?

LOUIS: Persone wat aan anoreksie ly het ‘n obsessie met hul gewig. Hulle wil nie gewig optel nie, weier om ‘n gesonde liggaamsgewig te behou en het ‘n onrealistiese siening van hul liggaamsbeeld. Die meeste mense wat hiermee sukkel sal die hoeveelheid kos wat hulle inneem ten alle koste beperk en beheer en hulself as oorgewig beskou terwyl hulle duidelik ondergewig is.

Anoreksie kan op die lang duur tot orgaanprobleme, breinbesering en hartversaking lei. Die risiko om aan anoreksie te sterf is groter as met ander eetversteurings. Dit kom die meeste by tienermeisies en jong vroue voor, veral tussen die ouderdomme van 16 en 20.

Bulimie word gekenmerk deur herhaalde oor-eet, gevolg deur gedrag wat daarvoor moet kompenseer. Geforseerde braking, oormatige oefening en onnodige gebruik van purgasiemiddels is die mees algemene gedrag. Omdat mans en vroue wat hieraan ly erg ongelukkig voel oor hulle liggaamsvorm en -voorkoms, is hulle baie bang om gewig op te tel. Oor-eet en braking/oefen, ens. word meestal in die geheim gedoen, wat intense skuldgevoelens tot gevolg het. Bulimie is eweneens gevaarlik vir ‘n mens se gesondheid, want dit kan tot dehidrasie, maag- en hartprobleme lei.

LISE: Wat is die simptome waarvoor ‘n mens moet uitkyk?

LOUIS ANTWOORD: Ek wil net eers daarop wys dat ‘n amptelike diagnose slegs deur ‘n gekwalifiseerde persoon gemaak mag word. Die anoreksie-simptome wat wêreldwyd aanvaar word om ‘n diagnose te kan maak, is die volgende:

• Gewig is konstant minder as 85% van die verwagte liggaamsmassa vir lengte en ouderdom

• Intense vrees om “vet” te wees, selfs as hy/sy ondergewig is

• “Onrealistiese” liggaamsbeeld en oormatige klem op en invloed van liggaamsgrootte en bou op selfbeeld. Ontken die erns van ondervoeding

• Geassosieerde fisiese siekte met verhongering (bv. amenoree vir langer as 3 maande, of menstruasie slegs ná estrogeentoediening)

Vir iemand om aan bulimie te ly, moet die volgende simptome voorkom:

• Herhalende ooreetsessies. Sulke sessies sluit albei die volgende elemente in:

a) ‘n “private” eetsessie waarin hy/sy baie meer kos inneem as wat die meeste mense in dieselfde tyd sou inneem

b)`n Gevoel van verlies aan beheer gedurende die eetsessie (`n gevoel dat hy/sy nie kán ophou eet of beheer het oor die hoeveelheid wat geëet word nie)
 
LISE: Dit is duidelik dat hierdie toestande baie gevaarlik vir die persoon kan wees. Ouers behoort tieners se privaatheid te respekteer,  maar as ‘n mens in ag neem dat eetversteurings se gedrag meestal in die “geheim” plaasvind, kan ouers tog nie die simptome ignoreer as hulle dit by hul kinders opmerk nie!  Dis dus ‘n baie ernstige saak en ‘n mens behoort onmiddellik te reageer as jy daarvan bewus word.

Stuur vir ons jou vraag of storie (KAN ANONIEM OOK WEES) in die kommentaarboks hieronder.

* GESELS SAAM OP FACEBOOK: Stel jou vraag aan Louis op SARIE se Facebookblad. Onthou om ook Wie is ek? – met Louis & Lise op Facebook te ‘like’ om meer gereeld met hulle te gesels oor kwessies wat pla. Hier kan jy ook al jou vrae vir Louis post en jou storie vertel.

* Lees nóg artikels deur Louis & Lise op sarie.com

  • Jolene Oktober

    What can I do if See these simptomes , have a 14jear old daugher and I believe anoreksia is aproblem I am dealing with dont know what to do