Diverse

MA

Ietwat na ’n wese iewers uit ’n woesteny gelyk het, gespog het oor hoe gesond hy eet en suinig hy drink, getrou daagliks oefeninge met gewigte gedoen het – en toe op ’n dag net dood is, nie lank ná hy vyftig geword het nie. Wat ’n mens laat wonder oor die “gesonde lewe in die natuur”.

Op ’n keer het mense my gevra om ’n ou tante te besoek wat siek was. Ek het haar nie juis geken nie, maar sy wou “uit die kerk begrawe word”. Sy was ’n heel goedige ou dame en deel my toe mee dat die eksentrieke karakter haar seun was. Vreemd, het ek gedog, ek het nooit kon dink dat dié karakter ook ’n ma kon hê nie. En blykbaar was hy lief vir haar. En sy vir hom.

Maar Josef Stalin – baas van die Opperste Sowjet en moordenaar van miljoene – het ook ’n ma gehad. Hy was sy ma se liewe klein “Sosso”, wat so mooi in die kerkkoor
gesing het. Sy wou hê hy moes ’n priester word. Toe hy heerser van Rusland was, het hy haar nooit naby die Kremlin toegelaat nie.

Alan Paton skryf hoe hy die stasiebomplanter Harris in die tronk besoek het uit meegevoel. Harris was skynbaar gemaklik met homself en het gesê sy ma-hulle verstaan alles goed en dit gaan baie goed met hulle. In die tronkgang het hy Harris se ouers gesien, veral sy ma. Paton se kommentaar was wrang: “Their son had destroyed them.”
Dis die een kant van die storie en ma-wees: kinders draai nie altyd uit soos ouers dit verwag nie. Die Bybel is vol sulke voorbeelde, reg van die begin af. En, natuurlik, daar is swak ma’s (en pa’s) wat toesien dat hul kinders self moet regkom of deur die strate grootgemaak moet word.

Daarvan het ek in my lewe ook genoeg gesien. Ook van kinders van wonderlike ma’s uit wonderlike huise, wat dan die pad totaal byster raak en die ouers kan niks doen nie, én kry selfs die skuld vir die mislukking van hul spruite. Maar daar is ook die ander kant: die derduisende ma’s wat by hul kinders staan en liefde gee en liefde ontvang. In die buurt waar ek grootgeword het, het ’n vrou gebly wat strykgoed ingeneem het, eenvoudige arbeid van ’n edel mens wat deur haar familie verwerp is weens haar buite-egtelike seun. Met haar strykwerk het sy haar seun laat leer en hy het ’n voorste in sy beroep geword. Sy het altyd in haar huisie bly woon, maar hy het haar later met liefde versorg.

Onlangs het ek ’n jong ma met haar kleintjie sien lag en gesels in ’n teedrinkplek. Die kleintjie het naderhand ontevrede begin raak en geskreeu. Sy het gesus en gestreel, maar hy het al harder geskreeu. Sy het hulpeloos rond gekyk om verskoning te vra met haar oë, maar sy sal daardie kleintjie tot elke prys beskerm. En daardie band is soms onvernietigbaar. Ek dink nie ek sal ooit die dood van my ma volkome verwerk nie.

Hier langs my woon nou twee mediese dokters wat onlangs ’n seuntjie gehad het. Die ma loop oor van moederlike vreugde, die pa glimlag van oor tot oor en die oupas en
oumas is in en uit. Die ma se selfoon lui met ’n kleuterliedjie en daar is ’n besondere hartlikheid in haar groet. Met Moedersdag aan die kom, dink ek aan die grootste moedersimbool van almal, Maria, die moeder van Jesus. Sy het Hom ontvang in ’n stal, Hom gevolg toe mense Hom verwerp het, in Hom geglo as haar wonderkind, en van
Hom afskeid geneem aan ’n kruis toe dit donker geword het in Jerusalem. Volgens oorlewering het hulle sy stukkende liggaam aan haar gegee en sy het Hom vir ’n oomblik weer op haar skoot vasgehou.

Só het Michelangelo haar uit wit marmer gebeitel wat blink soos fyn porselein. Want ware moederskap is ’n grootse kuns. En ware goddelikheid begin in ’n moederskoot.