maart08izak3
Diverse

Maart-mymering

Maar Maart is ook die maand van mooi Maartlelies en ander pragtige herfsblomme. Die nagte op die Hoëveld is besonders, met ’n diep blouheid aan die swart vanweë die afskynsels van sterre soos fyngeslypte, gepoleerde blink stene.

Gerard Manley Hopkins skryf:

“Look at the stars! Look, look up at the skies!

O look at all the fire-folk sitting in the air!

(…)

Look! March-bloom, like on mealed-with-yellow sallows!” (“The Starlight Night”)

Hy bemerk in die Noordelike Halfrond die einde van die winter in ’n nag gevul met Christus “and all his hallows”. En terloops, die woord sallows is een van die baie min werklike oud-Engelse woorde wat nog in dié taal oorgebly het en ’n laaggroeiende wilgerboom beteken.

Die wingerde in die Boland word bruin en rooi. Die akkerbome staan in goud en dofgroen, en aan die Rand begin die platane kaal uittrek en die silwerberke se blare val geel op die stoep. Maar die son is op sy helderste voor die winter. Saans mag ’n knypie koue kom.

Op skool het ek ’n rympie geleer (nie Hopkins-standaard nie) van Maart se lekkerte:

“Driesie van die binneland kom in Maartmaand na die strand

O die koele heerlikheid, o die koninklike tyd …”

Die storie is dat Driesie nie geweet het of hy saam met seuntjies of meisietjies geswem het nie, want hulle “het nie kleertjies aangehad nie”. Dié rympie is opgesê deur voorwaartse telgies op al wat oueraande van laerskole was en trotse ouers het as ’t ware die woorde na-geprewel.

Wanneer ek soms by die see is in Maart, kan ek sweer een of ander tyd dink ek aan Driesie. Maart en April is weersgewys die Kaap se gety van vreugde. Baie mense van die “binneland” begin dit nou (weer) uitvind.

Daar was ook in my SARIE-dae ’n onvergeetlike Maart: ’n Reis deur Duitsland as gas van ’n lugdiens wat die nuwe hotelle in ou kastele wou bekend stel. Dit was soos Driesie se seetyd, heerlik van dag een af, oral met die belofte van lente wat nie meer ver is nie. Die Duitsers het met hul deeglikheid en vaardigheid die oue en moderne op ’n besonderse manier getrou. Ek het die ou bouwerke en fortifikasies bewonder en in die nat woude gaan stap. ’n Mens kon nie eintlik jou voetstappe op die blaartapyt hoor nie. En daardie roomys wat hulle maak met pers veldbessies …

Elke nag was in ’n ander ou kasteel. In die Burg Wasserburg-Anholt het die sjef my kombuis toe genooi en mooi vertel hoe truffels in kos gebruik word, hoe dit uit die grond gegrawe word en hoe duur dit is (deesdae ongeveer R3 000 per kilogram). Hulle maak dit versigtig met tandeborsels skoon om te verseker dat niks verlore gaan nie.

Ek is ook in Maart as predikant georden op ’n lekker warm dag in die stampvol groot kerk op Albertinia. My ma was bewoë, maar baie kalm toe sy my toga omgehang het. ’n Ster-oomblik in my lewe.

In Maart is my pa oorlede. Hy het gaan slaap en net nooit weer wakker geword nie. Sy mede-ouderlinge in hul manelle en strikdassies het hom na sy graf gedra, ’n hartseer maar stylvolle toneel wat ek altyd sal onthou.

Vanoggend het ek ’n vrou besoek wat terminaal siek is en waarskynlik nie volgende maand sal haal nie. Sy en haar man is al dekades saam. Wanneer hy vir haar iets aangee, soen hulle mekaar soos verliefdes wat iewers op ’n Kaapse Maart-strand lê en ontspan. Dit terwyl sy suurstof kry en plakkers dra teen pyn. Ek het alles kamma ongeërg aanskou, maar was geroer.

Vir my is Maart dus Caesar, Maartlelies, ou Duitse kastele, Driesie, dood – maar liefde wat lewe, truffels, spierwit Kaapse strande, helder Hoëveldse aande, roomys en ryp veldbessies, Hopkins se sterre waarin hy Christus sien. En, natuurlik, die groot dae van Christus – Goeie Vrydag (die 21ste) en Paasfees en Opstanding (die 23ste). Dis die ewige kom en gaan van maande en getye, alles in God se hand.

Ja, en moenie skrik nie, ek verwag einde Maart … die verskyning van my jongste digbundel, Vervreemdeling.

Geseënde Paasfees.

Vervreemdeling word deur Tafelberg uitgegee. Bestel jou kopie hier