martie_blogrz
Diverse

Martie Swanepoel blog: Ek kaap’n vliegtuig

Met my sak onder my arm het ek oor die aanloopbaan na die vliegtuig begin hardloop met ‘n horde histeriese doeanebeamptes agter my aan.

Irma vra my vanoggend waar kry ek die pragtige silwer handgemaakte suikerlepel.

Toe vertel ek haar die storie van ‘n engel.

Ek voel koue rillings toe ek in my ou dagboek lees ek het Amina op 6 November 1999 ontmoet.

Vandag is dus ‘n goeie dag om haar storie te vertel.

Amina Tesha Mongi het aan ontbyttafel in ‘n hotel in Dar Es Salaam my hand geskud. Ek was in haar land as deel van ‘n span wat modelle vir die destydse Face of Africa program op M-Net gaan soek het.

Sy was een van daardie mense met aangebore styl. Naas M-Net se verteenwoordiger in Tanzanië was sy ook radio-omroeper en eienaar van ‘n modelagentskap. ‘n Enkelma wat water trap. Die enigste broodwinner van ‘n uitgebreide familie.

Ek het langs Amina in ‘n volgepakte Afrika-bus gesit toe ek die nuus kry dat my man ‘n hartaanval gehad het.

Ons het ‘n halfuur tevore op Kilimandjaro-lughawe aangekom en was op pad na Arusha in die Noorde van Tanzanië waar ons modelle sou ontmoet. Ons sou daarna na Mwansa by Victoria-meer gaan voordat ons na Dar es Salaam sou terugkeer en van daar terug na Suid-Afrika.

Amina het die bus laat stilhou en my my bagasie uit die hoop negosie en tasse op die dak help grawe.

Selfoon in die hand het sy dadelik vir my vlugte probeer reël terug Suid-Afrika toe. Sy het met ‘n taxibestuurder onderhandel en hy het met ons teen 55 000 Tanzaniese sjielings (toe sowat R500) teen ‘n skrikwekkende spoed in die motreën lughawe toe gejaag.

Die vliegtuig waarmee ons gearriveer het, was op die punt om weer op te styg, maar daar was geen manier waarop Amina die lughawebestuur kon oortuig om my plek te gee op die leë vliegtuig terug na Dar es Salaam nie.

Om te sê ek was histeries van frustrasie en kommer, is lig gestel.

Johan het drie jaar tevore ‘n ernstige hartaanval gehad en ek het geweet hoe groot die gevaar met ‘n tweede aanval was. Die nuus kon my op geen slegter plek op aarde getref het nie. Ek kon nie maklik deurkom na die Morningside kliniek se waakeenheid nie en het by tye geen idee gehad of my man nog leef nie.

Met ‘n groot gesukkel het Amina vlugte vir die volgende dag gereël.

Ek sou die volgende oggend van Arusha-lughawe (‘n teerblad met ‘n eenvertrek-lughawegebou) met Precision Air na Dar es Salaam vlieg. Daar sou ‘n bode vir my ‘n kaartjie gee vir die Air Kenia-vlug wat binne minute sou vertrek en ook ‘n kaartjie vir ‘n SAL-vlug wat binne ‘n uur ná my aankoms uit Kenia sou vertrek.

Sesuur die oggend was ek en Amina na ‘n slapelose nag op Arusha -lughawe. Die gebou was nog toegesluit en donker.  Ons het ‘n oop deur gekry en begin ligte aansit.

Teen halfsewe het passasiers begin aankom, maar daar was nog geen teken van personeel of ‘n vliegtuig nie.

 ‘n Lughawebeampte het sewe-uur ongeërg kom aankondig dat die vlug nie meer van Arusha sou vertrek nie, maar wel van Kilimandjaro, sowat 55 km daarvandaan.

My wese het gaan stilstaan. Ek het geweet dat as ek een van die vlugte waarop ek vir daardie dag bespreek was, sou mis, ek nog vier dae in Tanzanië sou moes bly. Dit sou my mal maak!

Tydens die tweede taxi-jaagrit tussen Arusha en Kilimandjaro het ek gevoel soos iemand wat in ‘n nagmerrie vasgevang is en iemand druk die repeat knoppie aanhoudend.

By die lughawe moes ons hoor my bespreking op die vlug is nooit deurgevoer nie. Daar was trouens 35 mense vir die agttiensitplek-vliegtuig bespreek.

Amina se vlug na Mwansa sou binne minute vertrek. Sy het desperaat vir my ‘n plek op ‘n ander vlug probeer reël. Maar nog voor die reëlings bevestig was, moes sy vertrek.

Ek kon die magteloosheid op haar gesig sien toe ons afskeid neem. Sy het my net stil vasgedruk en deur die doeane beweeg.

Iets in my het geknak en ek het besluit die vlug na Dar es Salaam gaan nié sonder my vertrek nie. Met my sak onder die arm het ek oor die aanloopbaan na die vliegtuig begin hardloop met ‘n horde histeriese doeanebeamptes agter my aan.

Ek het in die vliegtuig geklim en geëis om die vlieënier te spreek. Hy was half verdwaas en geskok oor die histeriese vrou wat sy vliegtuig probeer ”kaap”.

Mooipraat met die passasiers het nie gehelp nie. Al was my krisis hoe groot, wou nie een van hulle hul sitplek afstaan nie.

Uiteindelik het die twee vlieëniers ‘n ongewone besluit geneem. Ek sou kon saamvlieg as ek bereid was om op die vloer te sit.

Ek was ‘n huilende spektakel voor die (soos ek in daardie stadium gevoel het) gevoellose gehoor op die vlug.

Op Dar es Salaam-lughawe was daar geen teken van die bode met my kaartjies nie en ek het hom met ‘n onverstaanbare Swahili-foonkaart probeer bel.

Desperaat het ek die lughawebestuurder se kantoor gehardloop. Ek kan nie onthou wat ek alles vir hom gesê het nie, maar hy het my met spesiale begeleiding tot op die vliegtuig geneem. Sónder ‘n vliegtuigkaartjie.

Tydens die vlug na Nairobi het ek soos ‘n zombie gevoel. Gedreineer van emosie en krag. Op die lughawe het ek in trane uitgebars toe ek die SAL-toonbank haal. Ek was op pad huis toe. Ek het van pure spanning ‘n bottel Happy en ‘n bottel Issey Miyake parfuum by die Duty Free op die vlug gekoop.

Na 32 uur het ek gehawend, maar darem welriekend langs Johan se bed in die waaksaal gestaan. Dankbaar dat hy buite gevaar was.

Ek het vir weke gesukkel om met Amina kontak te maak. Ek het aangeneem sy was besig.

Ek het vir haar die silwer suikerlepel as geskenk gestuur, maar dit het onoopgemaak teruggekom.

Na vele oproepe het ek vasgestel Amina is kort ná ons laaste dag saam in ‘n motorongeluk dood.

My hart het gebreek vir haar seuntjie en gesin.

Ek het al dikwels gedink aan my angsbevange ure saam met dié kalm vrou. Ek het nog nooit in my lewe soveel gebid om hulp nie. Ek was byna geskok oor God my paadjie so moeilik gemaak het. Kon Hy nie maar my vlugte seepglad laat verloop het nie?

Eers later het ek besef God hét vir my hulp gestuur. ‘n Engel in die vorm van ‘n Afrika-jappie met ‘n selfoon.

‘n Engel wat nou tuis is.

  • Judy Lessing

    Ek onthou die gebeurtenis soos gister. Onthou jy nog dat een van jou mede passasiers op SAL vlug vir jou juwele van Duty Free gekoop het omdat hy jou so jammer gekry het? Jammer oor Amina, sy is nou ‘n regte engel.

  • Martie Swanepoel

    Toe die twee dronk manne langs my op die vliegtuig kom sit, het ek gedink, ag nee, dis al wat ek nou nodig het! Hulle het die vliegtuig leeggesuip terwyl ek in ‘n patetiese bondel sit en ween het. Die twee het my skynbaar baie jammer gekry en ‘n Dior armband vir my gekoop. Nogal op die een se kredietkaart! Ek wonder of hy kon onthou vir wie hy die dure armband gekoop het toe hy uiteindelik sy state kry. Maar dis die gedagte wat getel het! As een van julle se mans tien jaar gelede ‘n armband op sy kredietkaart vir ‘n geheimsinnige vrou gekoop het, dis ekke. Jou man het nie ‘n skelmpie nie!

  • http://gmzizoebqkrj.com/ aqmgcc

    y1FiXC tscdpqolnnry, [url=http://okeabhwdbdms.com/]okeabhwdbdms[/url], [link=http://dtbknvuzfeoe.com/]dtbknvuzfeoe[/link], http://zeaynjgluzud.com/

  • Corne L

    Wonderlike verhaal, Martie. Ek het sommer gehuil aan die einde toe ek lees sy is in ‘n ongeluk oorlede. Die armband deel het my darem weer laat lag.

  • Edward

    Tja, ist das der Journalismus von heute ? Das bedeutet ja ukemeghrt: der andere Journalismus ist out, nicht mehr zul ssig. Weil die Leute nicht mehr in der Lage sind, selbst zu differenzieren bzw. st ndig undifferenziertes Blabla zu h ren bekommen, darf L tgert sein undifferenziertes Gegen-Blabla verk nden und deshalb darf auch Michael Moore inszenieren,also l gen. Kann ja sein, dass das so ist. Man exorziert also den Meinungsterror des Mainstream (der Politik, der Wirtschaft), mit einem Gegen-Meinungsterror. Und weil die Br ste auf Veronica Ferres’ Bild fast aus ihrem Kleid purzeln, als sie mit Schr der und seiner Frau posiert, zeige ich sie immer wieder, um die Verruchtheit zu zeigen. Was ist das anderes als billige Gegen-Polemik? Und: Wer kann danach noch die Wahrheit suchen und finden? Warum nicht zur Not zwei Jahre recherchieren, um festzustellen, wie Maschmeyer seine Kontakte ausnutzt ? Warum ihm diese Kindergartenfragen danach stellen. Tats chlich w rde ich das auch nicht beantworten wollen wenngleich es dem Maschi-Clan an Souver nit t fehlt: Ich h tte L tgert nach Mallorca eingeladen und ein Interview gew hrt.-ich habe neulich einen Film auf Phoenix gesehen. Er handelte von der Nabucco -Gaspipeline, die von Aserbeidschan nach Europa ohne Russland f hren soll. Uns sie zeigte zwei Gegenspieler: Einer, der f r diese Pipeline ber t das war Joschka Fischer. Und der andere, der das GazProm-Projekt durch die Ostsee vertritt, Gerhard Schr der. In den gegeneinandergestellten Aussagen zeigte sich viel mehr von deren Verkommenheit und L cherlichkeit als es ein Gesinnungsbericht geschafft h tte.