img_1604_copyfader
Diverse

Martie Swanepoel blog: Geduld-o-meter

Na twintig minute gebeur nog niks. Dis belangrike drukwerk. My tuisdrukker se ink is op en ek het gereken dit sal vinniger wees om die inligting op ’n geheuestokkie te laai en hier te kom druk.

Ek tel tot tien. Ek herhaal dit. Ek haal diep asem. Ek tel weer.

Die eienaar van die plek speel met sy seuntjie. Pa-en-seun-tyd. Ek probeer die mooiheid van die situasie raaksien.

Gaan dit nog lank wees? vra ek die assistent.

“Die rekenaar is besig.” Sy praat eers bietjie op haar sel en begin dan weer kliek en staar en kliek en staar.

Ek weet nie baie van rekenaars af nie, maar ek weet as ek op my tuisrekenaar op PRINT kliek, dan print hy. Behalwe nou soos vandag as die ink op is. Maar gewoonlik print hy binne ’n minuut. En dis ’n stokou printertjie. Hier voor my by die professionele drukkery staan ’n Meneer Van ’n Drukker wat gekoppel is aan ’n Meneer Van ’n Rekenaar.

Ek is nie geseën met geduld nie, maar ek kan gewoonlik ’n bietjie uithou en begrip toon vir ’n situasie. Hier het my geduld-o-meter al binne tien minute verby die rooi geskiet. Nou is ek al verby kookpunt.

Ek staar na die plafon vir hulp. Ek lees elke liewe kennisgewing wat ek kan in die voorportaal.

Die baas staan nader. “Wag sy vir iets?”

Ek is die enigste mens hier! Miskien moet ek hom sê ek is gewoonlik op ’n Maandagmiddag verveeld en dan kom staan ek hier in sy winkel op soek na geselskap.

“Ek is régtig haastig …”

Hy vroetel op die rekenaar voor die starende vrou. “O, daar is fout …”

Tik, tik en kliek, kliek en die dokument kom uit.

Ek kners so hard op my tande dat my kroon dreig om te bars.

In die kar stamp ek my kop teen die stuurwiel van frustrasie.

Dis my vry dag. Ek is nie eens onder druk nie. Die situasie wis elke stukkie rustigheid in my gemoed uit.

Ek ry huis toe. Voor my hek versper ’n bakkie my ingang.  My buurvrou bedryf ’n soort van ’n nasorgsentrum. Ek het al ophou tel hoeveel oggende en middae my hek versper is.

Ek lê op die toeter. Die hele dorp hoor daar is iemand wat my oprit versper, maar ek is gefrrrrrustreerrrrd.

Die eienaar van die bakkie kom doodluiters uitgestap en staar my onbeskof aan.

“Ag, nee wat, Meneer!” gil ek soos ’n vrou wat alle waardigheid verloor het en storm by buurvrou se waarskynlik onwettige nasorgsentrum in.

Die stem waarin ek haar versoek om asseblief haar kliënte te vra om nie my oprit te versper nie, is kil, beheers en sag. Ek sien wit blitse voor my oë verbyvlieg.

Na ek my hek agter my toegetrek het, gaan kou ek vyf Rescue Remedy-pille.

 

 

 

  • freda

    Rescues bly maar n wenner, dis soos smarties!

  • http://vzjhuuljtisq.com/ vodamwlihp

    QIqjJd gcexanqeqqmf, [url=http://kwzqjfmszwmq.com/]kwzqjfmszwmq[/url], [link=http://woixkxcvssdr.com/]woixkxcvssdr[/link], http://gwivmylmnlie.com/

  • Amberly

    I’m impressed. You’ve relaly raised the bar with that.