Diverse

Martie Swanepoel blog: Maureen se laaste Kersfees

Ek het haar hare gekam en haar gevra of sy nog kan onthou hoe lief ons almal vir haar is.

Ek het gelag toe ek haar vertel hoe graag sy as kleuter die toiletrolle afgerol het en Pappa kamma met haar geraas het.

“Soen my, Piet …” kon alles regmaak.

As sy met daardie ogies wat maar net nie reguit wou kyk nie, na jou gekyk het, kon jy nie vir haar kwaad wees nie.

Ek onthou hoe my ma die piepklein mensie met die te groot koppie in die wasbak kon bad. Hoe sy en Jurleen in pleegsorg by my oupa en ouma gebly het en twee ou mense ‘n nuwe doelwit gegee het om voor te leef.

Verskeie pompies is ingeplant om die oortollige vog van Maureen se brein te dreineer. Sy was nooit heeltemal gesond nie.

In haar volwasse lyf was ‘n ewige kind opgesluit.

Sy het so min gevra. Judy se pakkies was elke keer vir haar soos Krismis.

Ek onthou die aand toe ons haar Monte Casino gaan wys het. Elke servet en strooitjie is trots gebêre om vir haar “maats” in die tehuis te gaan wys. Haar gesiggie het geblink so lekker was die lewe vir haar daardie aand.

Een middag het ek haar en haar kêrel gaan oplaai vir roomys. Hulle het geëet tot hulle byna tot by hulle ore besmeer was. Ek het gedink dat aan sulkes die koninkryk van God beslis behoort.

Dit was die laaste keer wat ek haar gesien het voor sy in ‘n koma verval het. Geen nuwe pompie kon meer help nie. Haar brein was moeg gesukkel met al die vog.

Sy het saggies in haar slaap saam gesels terwyl ek en Ma Tina haar olie gesmeer het en vir haar gebid het. Ek kon sien haar liggaam trek moeg en krom na die maande se gestoei om aan die lewe te bly.

Ek het skaamteloos gehuil langs die bed van die mensie wat nooit regtig ‘n kans gehad het in die lewe nie en God gevra om haar asseblief huis toe te vat.

Gaan rus nou Maurena, het ek teen haar slaap gefluister voor ek loop.

Tweede Kersoggend het my ma gebel. Maureen is toe huis toe.

  • HKZnm0 kfnrowgtjirw, [url=http://nyowokqqaepm.com/]nyowokqqaepm[/url], [link=http://mpftxvmzlflf.com/]mpftxvmzlflf[/link], http://qqhffidmrodg.com/

  • Elvio

    Mar25 Pretty nice post. I just came by your blog and wanted to sayhtat I’ve really liked reading your posts. Any wayI’ll be subscribing to your feed and I hope you post again soon!