Diverse

Martie Swanepoel blog: My laaste dieet

My suikervlakke het gegrens aan diabetes en ek het goed geweet wat dit beteken. My pa was ‘n diabeet en hy is aan komplikasies daarvan dood.

Ek wil nooit so ly soos my pa die laaste paar jaar van sy lewe gely het nie. Hy het ‘n stuk van sy voet verloor en sy energie en menswees is deur die gevorderde stadium van die siekte opgevreet.

Tipe-2-diabetes is in sy middeljare by hom gediagnoseer nadat hy baie gewig verloor het en siek begin voel het. My pa het ook ‘n vreeslike soettand gehad en so het ‘n jare lange stryd vir hom begin. Hy het nooit vrede gemaak met sy siekte nie. Na sy dood het ons lekkers tussen sy klere weggesteek gekry. Ek het besluit dat ek my suikervlakke gaan beheer sodat ek nooit ‘n volslae diabeet word nie. Ek het onmiddellik vrede gemaak met die situasie en van die dokter af gery en ‘n trollie vol lae-GI-kosse gaan koop.

Liesbet Delport en Gabi Steenkamp se boek Eet vir volgehoue energie lê al ‘n paar jaar op my rak. Ek het al onderhoude met hulle gedoen, maar ek het nooit kon dink hulle dieet sal my ‘n nuwe lewe gee nie. Vier maande gelede het ek erg duiselig begin voel. Permanent. Ek het floutes gekry en was verskriklik moeg. Eintlik het ek lankal vermoed daar is iets verkeerd met my suikervlakke. Ek het lomerig en moeg gevoel na ek stysel en soetgoed geëet het.

Ek het binne ‘n week op die Lae-GI-leefwyse beter begin voel. Nie 100% nie, maar beter. Ek het nou eers die 100%-vlak bereik en ek voel super-fantasties! Nou besef ek eers hoe siek ek werklik vier maande gelede was. Ook hoe energieloos ek al jare voel!

Ek was nog nooit iemand met goeie gebalanseerde eetgewoontes nie. Van jongs af het ek geglo ek is kamma oorgewig. Nou weet ek ek was toe nie vet nie, maar ek en vriendinne het als van die Beverly Hills-dieet, die Atkins-, die Scarsdale- en die af-weeg-diëte probeer. Nou weet ek ek het myself met die jare siek gemaak. Ek het my arme metabolisme van uiterste na uiterste geskommel.

Maar dis te laat vir trane en min vroue gaan hulle aan my preke steur.

Ek is nou ‘n lae-GI-dissipel. Ek sal NOOIT weer my liggaam uithonger nie. Ek eet nou vier maaltye per dag (vyf sou beter gewees het) en knibbel tussenin aan ‘n appel of my eie energie mengsel van pampoenpitte, sonneblomsaad, neute en rosyne. Soggens vroeg eet ek hawermoutpap en teen tienuur eet ek volgraan lae-G-beskuitjies met Marmite of ansjovis. (My bloeddruk is baie laag) My koskas is nou vol gepak met verskillende bone, lensies en koring. Ek eet lae-GI-brood en lae-GI-pasta en baie vis en hoender en hope groente en slaaie. Ek was nog ‘n nooit ‘n groot rooi vleiseter nie, maar sal so een keer per maand ‘n stuk steak eet.

Ek geniet dit om die heerlikste geregte op te tower! Niks boring aan mydieet nie!

Ek word soms lus vir sjokolade, maar eet liefs die soort vir diabete. As ek wil wyn drink, verdun ‘n ligte droë wyn met Sprite Zero of ek drink ‘n dun whisky met Sprite Zero.

Ek het nie drasties gewig verloor nie, maar is na vier maande 5 kg ligter. Sonder hongerte!

Weens my druk werkprogram is ek nog nalatig met die oefen, maar ry darem twee keer per week perd. Ek glo ook vas aan gereelde vitamiene B inspuitings.

“Ek gaan jou wiks tot jou ore oop is,” het ‘n kollega se pa lank terug vir haar boetie gesê. “My ore is nou oop! My ore is nou oop!” het hy na die tweede hou gegil.

My ore is ook uiteindelik oop! Nou pak ek regtig die lewe met volgehoue energie aan.

  • Amelia

    Hoekom die vitamien B inspuitings? Wat kan dit alles vir ons doen wat goed is?

  • Dezso

    Kaka1985 zegt:Ik wacht nog steeds op het memnot dat ik de opstelling kan beginnen met het volgende:Opstelling SVGG;B. Keuper;D. Keuper, K. Keuper, M. Keuper, T. Keuper