Diverse

Sarie.com-blogger Martie Swanepoel: “My oomblik van waarheid”

Ek het nog nooit goeie ball sense gehad nie. Maar vanjaar was dit asof iets in my kop gekliek het. Ek kan skielik die een draaibal ná die ander vang. Ek het emosionele ball sense gekry.

Verlede Desember het ek ’n draai gemaak by ’n vriendin wat ’n sielkundige is. Ek wou net ’n bietjie praat. Binne ’n halfuur het sy my by ’n psigiater gehad en ’n uur later was ek in ’n psigiatriese eenheid.

Ek, wat altyd so graag vir ander wil wys hoe “in beheer van my emosies” ek kan wees. Die vreemdste is, ek het regtig nie gedink ek is in so ’n wankelrige toestand nie, al het almal om my dit blykbaar raakgesien. My een vriendin se gunsteling-beskrywing van my is dat ek soos ’n hamster was wat op ’n wieletjie hardloop. Laas Desember het ek van daardie wieletjie afgeval…

Ek was in so ’n waas dat ek ’n maand later ’n rekening van ’n “vreemde psigiater” gekry het. Ek het haar gebel: “Ekskuus, maar ek weet glad nie wie jy is nie, het jy nie dalk die rekening na die verkeerde mens gestuur nie?” Sy het my skynbaar elke dag in die hospitaal besoek en ’n uur lank met my gepraat. Sy het geweet van my gewese man, Johan, se dood en sy vier voorafgaande hartaanvalle. Ek het haar alles vertel van sy bipolêre depressie, sy alkoholisme en sy hartkwaal en my jare lange vrees vir die finale hartaanval. Sy het selfs geweet hoe ek in my kop kunsmatige asemhaling en noodprosedure gerepeteer het. Hoe ek daardie oproep gevrees het.

Ek het haar vertel hoe ek myself verwyt het oor die egskeiding toe ek dit nie meer kon uithou nie. Ek het ontboesem oor ’n liefdesverhouding daarna met ’n man wat 31 jaar gelede op universiteit my hart gebreek het, my jare later weer van my voete kom afgooi het met beloftes en leuens wat my emosioneel en finansieel geruïneer het. Ek het haar ook van die slegste jaar in my loopbaan vertel.

Maar in 2010 het ek my mens-wees stukkie vir stukkie teruggeëis. Dit het oefen gekos om die draaiballe te leer vang. Maar ek het dit met lag, trane, rou en wilskrag bemeester. Ek het myself gedwing om weer te lééf. Ek het op ’n dag op Johan se graf gaan sit en my binneste het oopgeskeur. Toe ek uitgehuil was, het ek met my vingers oor die grafskrif gestreel: “Wees vry en gelukkig.” Ek het gedink aan die droom waarin Johan so mooi vir my geglimlag het. Toe beloof ek hom daar op sy graf ek sal dít uitleef: vry en gelukkig.

  • Beatrix Roux

    Geniet jou blog ongelooflik baie – so ‘n gemaklike leunstoel-skryfstyl. Blog self ook so hier en daar (Vlerke) en jou manier van woorde inspan spreek tot my hart. Hoop jy het ‘n amazing feestyd en dat 2011 jou voete onder jou sal uitslaan (op ‘n goeie manier!)

  • Cassia

    Great post. I was checking coionnutusly this blog and I am impressed! Very useful info specifically the last part I care for such info much. I was looking for this certain information for a long time. Thank you and best of luck.