img_1604_copy
Diverse

Martie Swanepoel blog: Ons MOET trou!

Hy was van laerskool tot met ons hoërskool se 36ste reünie vir my “Gertjie Bosman”. Ek en sy sussie was saam in die klas. As kind het ek soms van hulle huis af saam met haar Voortrekkers toe gestap.

Gertjie was in my sussie se klas. Hulle was GROOT.  Ek was net vaagweg bewus van sy bestaan.

Ek onthou hoe hy op hoërskool as onderhoofseun in die vierkant gestaan het en die fluitjie geblaas het as ons klasse wissel. Hoe hy soos die wind kon nael. Die wiskundige wiz kid.

Dis al wat ek van my kinderjare van Gertjie onthou. Hulle het in Baobabstraat naby die hoek gewoon. My sussie sê hy het bloemlesings vol stories in die klas geskryf. Voor in het hy geskryf: Baobab uitgewers. Sy ma het kerkhoede gemaak en ons het miniatuur hoedjies by sy sussie gekoop vir ons Barbie-poppe.

Ek het “Gert’ leer ken toe ek die eerste keer die skoolreünie eposse begin ontvang het. Dit is gesirkuleer toe hy die herontmoeting begin reël het vir die vyf jaar groepe wat die stigtingsjare van ons spogskool beleef het.

Elke Maandag het ons ‘n kontaklys ontvang van al die leerlinge wat Gert opgespoor het.

Dit was die memory boekie wat Gert uitgestuur het, wat my die meeste gefassineer het. Ons kon almal stories uit ons skooldae skryf.  Gert het meer as die helfte daarvan geskryf.

Gert kán skryf! En ek is tog so ‘n sucker vir ‘n man wat kan skryf!

Ek kon deur Gert se stories elke gebeure in sy kinderjare “sien” afspeel. Van die padda wat hy geopereer het wat nie wakker wou word  ná die “hartoorplanting”  nie (natuurlik geïnspireer deur dr. Chris Barnard se eerste hartoorplanting) tot die dag toe hy en ‘n maat Pepler se bos per ongeluk afgebrand het.

Ek en Gert het oor woorde begin korrespondeer. Ek het gevoel vir ‘n wiskundige behoort  hy meer aandag aan sy skryfkuns te gee.

“Ry saam met my af Kaap toe vir ons reünie. Mollie het my gedrop…”

Eeeek!

Eposse was in daardie stadium van my lewe ‘n veilige manier om weer met mense te kommunikeer. My lewe was in ‘n gemors en ek het nie eintlik kans gesien vir sosialisering nie. Hoe kan ek van Parys na Kaapstad ry saam met “Gertjie Bosman”?

Wik. Weeg. Twyfel …

Hoekom nie? Ek is depressief, my lewe is omgedolwe …

Ons het 4 000 km Kaap toe en terug gesels en gelag. Ons het op Philippolis in die tronk geslaap (dis nou ‘n gastehuis), ons het ons skool se naam op Ronnie’s Sex shop in die Klein-Karoo se muur met ‘n permanent marker neergeskryf, vis geëet, olywe geproe …

Dit was twee jaar gelede.

Intussen het ek die Gert leer ken wat saam met my kookavonture kan aanpak, kan droom oor planne, kan raad gee.

Daar in Mimo’s in Bryanston kyk ek vir die man wat ‘n stukkende vrou opgetel het en weer help heel word het.

Hy het geduldig trane afgedroog. Ons het saam ‘n groentetuin geplant, gepraat oor boeke, kruie, kos en musiek en lang ente gaan stap.

Voor ek my kon kry, het ek begin uitsien na die eposse, SMS’e en telefoonoproepe.

Wie het dit nou kon glo? Ek en Gertjie Bosman!

Ek moes leer van vertroue en weer uitsien na die toekoms. Hy het my in die slegste tydperk van my lewe weer leer ken. Hy het nie geoordeel of weggeskram van die stukke van my lewe wat ek so hard probeer bymekaarskraap het nie.

Hy het my anker en beste vriend geword.

Hy gee nie om as my katte op sy skoot klim nie. My honde is smoorverlief op hom. Hy leer my seun kook en my dogter bromponie ry.

Of ek ook dink ons moet trou?

Ja, Gert, ek dink ook dis ‘n goeie idee!

En daar op ‘n Donderdagoggend in Mimo’s in Brynston skud ons die hand!

“Dis ‘n deal, partner!” sê hy.

So tipies Gert.

  • Isabella Niehaus

    Beautiful Martie…en vir jou en Gertjie als wat mooi en wonderlik is!

  • Christa de Klerk

    Ek dink dis wonderlik !!!!!

  • Judy Lessing

    Wie sou nou ooit kon dink dat julle paaie na soveel jaar weer sou kruis. – en die gevolge van daai reünie… Dis nou ‘n ware sprokie. Baie geluk Sus en Gert(jie). Pas mekaar mooi op.

  • Mollie

    Hi Gert + Mart
    Ek is ssssssssooooo sooooooooooooooooooooo bly dat ek Gert gedrop
    het vir die trip Kaap toe.
    Met julle terugkoms het ek net geweet dit was nie my besluit nie !
    Eks mos Dubai toe, maar het nie my trouman daar of enige ander plek
    gekry nie. My visstokkie is darem in die rivier.

    EK is so bly vir julle ! Mart vergeet nou al die seer + geniet vir Gert.
    Gert kyk mooi na Mart anders kry jy met my te doen !
    Alles wat verskriklik mooi is vir julle.
    Liefde
    Mollie

  • Marieta Woudstra

    Pragtig, dit is wat elke vrou verdien. Ek het trane in my oë. Dankie dat jy deel. x

  • Riette

    Dis so ‘n ongelooflike storie van liefde en hoop. Net soos daar plastiek gom is vir plastiek en houtlym is vir hout, is daar net een ding wat die gebreekte stukkies van ‘n hart weer kan heel maak- onvoorwaardelike aanvaarding en liefde. Die krakies sal seker altyd daar wees maar die hart is weer heel. Martie, dit klink asof jy die regte gom vir jou hart gekry het. Dankie vir die lekker lees storie!

  • Willene Venter

    Dit is so mooi ek wou huil. Beste maats en nou man en vrou. Beautiful

  • Annette Gilham

    Fantasties! Mag julle ‘n wonderlike lewe saam hê en baie oud saam word.

  • Carla Swanson

    Sjoe, pragtig, ‘n sprokie met ‘n bruilof! Hartlik geluk – dat jy weer jou hart kon oopmaak en glo in die helende krag van die liefde.

  • Nella

    Ek moes ook die trane wegsluk… Dit is so ‘n mooi storie!! Hou Ons asb op hoogte met elke detail tot met die troue!!
    Mag julle vir lank maaitjies wees!!!

  • veralda

    martie, ek kuier so lekker hier op jou blok.

  • http://cogcmwvinjaa.com/ gozidl

    l87F7M bceujlfcwmzq, [url=http://kapgpeytgvwv.com/]kapgpeytgvwv[/url], [link=http://zgbrmicwemag.com/]zgbrmicwemag[/link], http://nvtjoibneeup.com/

  • freda de lange

    Dis baie mooi storietjie, marthie.!

  • byxhnb

    cOOBJs zvwzsqfgxqvs, [url=http://npdfaceuqsrw.com/]npdfaceuqsrw[/url], [link=http://tujhcfztjjlu.com/]tujhcfztjjlu[/link], http://zarzviaurkxx.com/

  • Hapee

    Rick zegt:De verplichte vind-ik-leuk na het plsataen van ieder artikel We moeten het toch een beetje aanzwengelen, net als reageren op verslagen.