img_1604_copyfader
Diverse

Martie Swanepoel blog: “Ouma is ‘n alien”

 

Langs haar staan haar driewiel-karretjie. Dit help haar bene die afgelope jare loop. Die twee bene wat eens mans se koppe laat draai het, is nou net aanhangsels met pyn. Haar blaas pak op, haar skouers kramp ineen van osteoporose, haar vingers wil nie meer ‘n mes en vurk vashou nie.

“Ek is ‘n oorlas vir almal. Ook vir myself.”

Dis die vrou wat op skool en universiteit die hart van gesellighede was. Die onderwyseres wat honderde kinders se skoolloopbane aangeraak het en ewig met skoolhoofde gekibbel het oor haar aweregse onderwysmetodes. Voor sy geval het, het sy op 80 ‘n medalje gekry omdat sy 12 km saam met die jongmense van haar kerk gestap het. Op 84 het die koerant haar kom afneem oor haar rybewys hernu is.

Haar oë is onlangs met laser reggemaak sodat sy steeds dik boeke vol feite kan verslind. (Wat jongmense sal laat steier). Sy het die vakansie ‘n boek oor Ingrid Jonker se lewe en ‘n stewige meneer van 1000 bladsye oor die geheime van die oseaan kafgedraf.

Haar nuwe gehoorstukke maak heeldag zoei-zoei-geluide en die kinders spot dat ouma besig is om in ‘n alien te verander. Ja, sy is moeilik en hardkoppig en klou aan haar selfstandigheid, maar sy weet sy sal binnekort “oumenskoshuis” toe moet gaan.

“My kind, as ek die eerste keer my bed natmaak, sal ek weet.”

Ek kyk na haar en probeer in my toekoms inkyk. Gaan ek ook eendag voel ek is in my kinders en kleinkinders se pad? Moedeloosheid oorval my nou al. Sal ek ook op ‘n dag voel ek wil liewer gif drink?

Ek probeer my voorneem om eendag op haar ouderdom positiewer te wees, maar ek weet daar is geen waarborge nie. Ek kan nou stap met my honde, perd ry en rondrits soos ek wil. As my hele lyf vol pyn is en my blaas my in die steek laat, wonder ek hoe goed ék sal cope.

Ek wonder of ek eendag my kinders gaan irriteer met my beterweterigheid en goed bedoelde kritiek. Dalk gaan ek ook nie verstaan dat mense se leefstylgewoontes met die jare verander nie? Miskien gaan ek ook op my kleindogter en haar boyfriend spioeneer en my kleinseun berispe as hy rook. Sal ek my skoondogter aanspreek oor al die af knope en flenter-goed in haar huis? Gaan ek ook dieselfde stories oor my verlede oor en oor vertel?

Ek wonder hoe ék gaan onthou om al dié goed nie te doen nie. Ek kan nou nie eens meer onthou om die telefoonrekening betyds te betaal nie. Ek irriteer nou al soms my kinders.

Ek het die vakansie elke middag gaan inloer waar sy op die bed haar middagslapie geniet. Van wat eens formidabele vrou was, het ‘n klein skraal bondeltjie mens onder ‘n kombers oorgebly.

Glo sy my as ek haar verseker van ons liefde? Glo sy my as ek sê sy moenie nou al haar doodsrok begin stryk nie?

Ek is eerlik as ek sê sy is soms ‘n hand vol. Sy was dit al in haar jonger dae. Onder haar spierwit hare het eens ‘n wilde rooi krulkop met ‘n bypassende temperament geskuil. Nou is net die temperament nog daar.

Ek hoop dit gaan haar deur haar laaste jare dra.

Môre gaan sy terug huis toe. Ek sal nie meer die geskuifel van haar voete en die tjier-tjier van haar driewiel in die gang hoor nie. Die zoei-zoei van haar gehoorstukke gaan ‘n stilte agterlaat.

Hopelik bly my kinders ook lief vir my. Mag my kleinkinders eendag ook so geduldig wees met my.

Al verander ek ook in ‘n alien.

  • Tanya O’Connor

    Oh Martie! Skoonma is 75 jaar oud, speel golf, sny gras, was wasgoed, doen als en nog meer . . . en dan party dae kan sy nie opstaan nie, maar sy beur nog steeds voort. Ek het een oggend by haar op die bed gaan sit haar hande in myne geneem en haar vertel dat EK na haar wil kyk "eendag", ek wil daar vir haar wees. Jy het my besluit nou net meer onderstreep. Hierdie skrywe is soo hartroerend baie baie dankie daarvoor!

  • http://sjatoslhsrlt.com/ iritfhwum

    SJXFmk zkujnerguljh, [url=http://sgkpoabelbzk.com/]sgkpoabelbzk[/url], [link=http://svlammibqxuy.com/]svlammibqxuy[/link], http://eovdlzayeysu.com/

  • Brianda

    i have R50 000.00 to invest. how would you split it bwteeen Accentuate, ARB,Afrimet and village.Being a hi risk person i would tend to put the bulk into Village.Your input will be highly valued.regardsrod