Diverse

Martie Swanepoel blog: “Photoshop die zits!”

Sê ‘n “anonieme” blogger op ‘n ander publikasie se webblad sommer ek is “duidelik ‘n bitter mens wat geen respek vir myself het nie”.

Huh?

Dis nou oor ek haar aangevat het oor sy gruwelike veralgemenings oor vrouetydskrifte maak.

Nee, ek weet nie hoe sy by dié afleiding oor my persoonlikheid uitgekom het ná my stelling: “Jy het geen benul waarvan jy praat nie en ken duidelik nie die inhoud van ons land se top vrouetydkrifte nie.”

Sy en haar maters sê my een kollega reis te veel en sy noem my vriendin wat by ‘n ander tydskrif werk vet.

En o, photoshop (sy noem dit nog air brushing), sy is obsessed gekant teen foto’s waarop mense se puisies en plooie reggedokter word. Sy verkies die naakte waarheid. Ons moet die aktrise se selluliet en spatare ook verkieslik wys sodat sy nie so sleg oor hare hoef te voel nie.

Ai, my dierbare mens. As ‘n aktrise die dag van die fotosessie ‘n puisie het wat ‘n skaduwee gooi, moet ons haar verneder en dit so plaas?

Viva vir photoshop! Terloops, die foto van my by dié artikel is goed gedokter. Pieng! en weg is my donker kringe en bull dog plooie. Is vooruitgang nie absoluut fantasties nie?

En botox, o gedorie, dit is vir haar ook ‘n gruwel. Sy glo almal wat vrouetydskrifte lees, begeer dit en facelifts. (As ‘n plastiese chirurg hierdie artikel lees – ek volunteer myself vir ‘n facelift. Hy kan trouens als wat aan my hang lift!  Behalwe my lus vir die lewe, dié is klaar gelift - van al die inspirerende stories wat ek skryf!.)

Ek glo wel sy is ‘n closet vrouetydskrifleser. As sy nie is nie, mis die arme mens uit op so baie inspirasie en aspirasie. Ons vrouetydskriflesers deel ons lag en huil en vind aanklank by mekaar se lewens. Ons lyk nie almal soos modelle en aktrises nie, maar ons lyk vir onsself fantasties en goed. Ons wil so lyk!

Kom ek vra jou nou eerlik. As SARIE ‘n foto van jou kom neem en jy het daardie dag ‘n aaklige zits. Sal jy wil hê ons moet dit photoshop?

I rest my case.

Maar dis so ver die grappies strek.

Ek het lank nagedink en ek voel ek het die reg om haar aan te vat. Hoekom moet mens stilstaan as iemand ‘n persoonlike belediging na jou slinger? A nee a! Ons behoort nie een toe te laat dat mense oor ons loop nie. Staan kiertsregop in jou mooiste skoentjies (in my geval vandag ‘n paar satyn Gladiator-sandale, een van VYF paar nuwe somersandale … ai, die lekkerte en versoekinge van vrouwees!) en kyk haar reguit in die oë.

Soos die grapevine loop, is dit glo ‘n vrou wat ons eintlik goed ken.

Dus die spreekwoordelike adder aan onse boesems.

Eina! Dit maak seerder.

Ek wil dit nie glo van iemand van wie ek baie gehou het nie.

Okei, ek is bietjie naïef en glo mos onvoorwaardelik aan ander mense tot ek verkeerd bewys is.

So het ek nogal ‘n hele klompie jare aan die vrou geglo.  

Ai man.

Dis soos die vrou wat jou by funksies omhels en beide jou wange papnat soen en vertel hoe fantasties jy lyk … maar jy weet  sy sal nie skroom om ‘n dolk in jou rug te druk nie.

Hoekom is daar sulke mense? Ek glo hulle is yl gesaai. Ek wil dit glo.

Ai, wat ‘n teleurstelling was dié een nie vir my nie.

Ek is om Ouboet van Orkney Snork Nie aan te haal: “Ok maar lekker stupid”.

Glo dit as jy wil, maar op 52 glo ek sowaar nog as ek nice en gaaf met mense is, gaan hulle nice en gaaf met my wees.

Die meeste mense is. En, ja-ja, ek weet dit werk nie altyd so nie, maar ek verkies om te bly glo dit werk so.

Dit sal ‘n ellendige dag wees as ons ophou om aan mense se goedheid te glo.

Maar dit bring my by die “bitterheid” waarvan sy my beskuldig.

Waar op die aarde …?

Ek hét die afgelope paar jaar ‘n paar knocks gevat, maar bitter? Nooit nie!

Dié vrou ken waarskynlik die stampe wat die lewe my gegee het goed.

Ek wil nie, maar moet ek nou glo sy is een van die debatgroepie wat my persoonlike lewe ontrafel het en soos aasvoëls die laaste stukkies vleis van my stukkende siel afgepik het?

Ai, dis jammer dat ek nou dié lessie oor die vrou moes leer.

Maar nee, sy is verkeerd, ek is NIE bitter oor die lewenslesse wat ek geleer het nie.

Die mense wat my werklik ken, weet ek het ‘n ongelooflike manier om terug te kan bons na ‘n terugslag. En met my sin vir humor is daar nie in my lewe plek vir bitterheid nie. Vir lag, ja. Ek lag ongelooflik baie!

Dus, nee my Skat, die bitterste wat jy by my gaan kry, is ‘n Gin & Tonic. En dit het ek omtrent drie jaar laas gedrink.

Natuurlik het ek gehuil oor my lewe soos ‘n koek platgeslaan het, maar ek het oor dit gekom. Mens haak mos nie vas in slagoffer-en-snot-en-trane-modus nie!

Dis hoekom ek so baie hou van my vriendin Tanya O’Connor se nuwe boek (wat eersdaags verskyn) se titel: Hallo lewe!

Halooeeee lewe!

Wat my juis gered het – en glo dit as jy wil, ek het dié lessies nogal in vrouetydskrifte geleer! – is die liefde wat ek vir myself ontdek het. En die hengse RESPEK vir myself.

Ja, ek is hel toe en terug, maar ek het dit gemaak! Met ‘n groot smile op my gebotoxde gesig (ek moes dit een keer probeer!). O ja. én met lipstiek op my lippe en een van my talle duur parfuums aan my décolleté. Ek het my omhul met al die inspirasie en vreugdes van vrouwees. (Wie wil nou soos ‘n skropvrou lyk as jy treur?)

Ek het met die laaste skraapsels lewensvreugde in my geleer om te lag oor die laagtepunt wat my lewe bereik het. In die ongelooflike dieptes wat ek bereik het, het ek my ware menswees gekry.

En dis daardie mens wat vandag so teleurgesteld is in ‘n mens aan wie se vriendelikheid ek vir jare geglo het.

Ai, vrou, dis jammer man. Ek was sooooo mal oor jou! Ek wens jy was regtig anoniem.