martie_blogrz
Diverse

Martie Swanepoel blog: Reünie

By knetterende konkas vuur staan ons en onthou met glase wyn. Jare se onthou.

Ons ruil staaltjies uit van “onthou jy dit en dat”.

“Haai, waar is jou broer Danie vanaand?”

Danie se broer peins in die donkerte en kyk dan reguit na my.

“Het jy dan nie gehoor nie?”

“Wat?”

Asof dit die natuurlikste ding ter wêreld is, vertel hy my hoe sy broer se kop uitgehaak het.

“Hy is nou ‘n male stripper.”

Ek sluk sommer ‘n groot sluk wyn en proes byna daaraan.

Dis nie maklik om te hoor dat die outjie wat in standerd vier langs jou in die rekeningkunde-klas gesit het nou ‘n male stripper is nie.

Ek is nie seker wat om te antwoord nie.

Sê mens: “Dis ‘n interessante beroepskeuse.”

“O,” kry ek floutjies uit.

Ek probeer Danie in sy laerskool safari-pakkie onthou.

Die twee beelde wil net nie by mekaar uitkom nie.

Vertroulik vra ek later die aand vir Karel of hy weet van Danie want hulle was maats.

“Jissie, eendag is ek op ‘n kongres in Kaapstad en ek gaan maak ‘n draai by Barrie vir ‘n bier. ‘Wag,’ sê hy vir my. ‘Ek moet jou iets gaan wys’.”
Hy vertel hoe Barrie hom na ‘n male stripper bar geneem het.

Karel is een van daardie ouens wat op skool goddeloos stout kon wees. Hy en Barrie. Maar Danie was die soet stil een. 

“Jong, ek vra hom toe of hy seker is ons is op die regte plek? Ek en Barrie in ‘n male stripper bar. Verbeel jou! Maar Barrie sê hy moet my iets wys.'”

Karel rek die storie oudergewoonte bietjie uit vir die gewenste spannende effek. Ek hang aan sy lippe.

“Ons gaan sit nogal heel voor.”

Sy storie vang ‘n paar draaie voor die show in die bar begin.

“Toe die outjie begin wikkel en dans en sy klere laat waai, stamp Barrie aan my. ‘Toe? En wat sê jy nou?'”

Karel vertel in kleur en geur wat hy daar op die verhoog gesien het, maar dis nie wat Barrie wou hê hy moes sien nie.

“Kyk man! Wie sien jy?” por hy aan Karel wat steeds net ‘n kaal ou sien wat dans.

“Nogal ‘n mooi geboude ou. Sulke spiere,” beduie hy vir my.

“Dis Danie man! Kan jy nie sien nie?” vertel Barrie hom. “Danie van skool! Kyk mooi.”

Karel bieg hoe moeilik dit was om op die dansende Adonis se gesig te fokus.

“Jou waaragtig, daar sien ek toe dit is Danie. Ek moes ‘n double daarna bestel. Dis nie aldag wat jy ‘n laaitie saam met wie jy albasters gespeel het, sy klere op ‘n verhoog sien uittrek nie.”

Lank na die samekoms pla die ding van Danie my.

Danie was ‘n dierbare goeie ou.

Ek maak my skool-albums oop en kyk na Danie in sy safari-pakkie.

Ek kan nie onthou wat dit was wat hy graag eendag wou word nie.

“Dis na hy van die grens af teruggekom het, wat sy kop so uitgehaak het,” het sy broer my vertel.

“Ja,” het Karel my na sy storie gesê, “Die blêrrie grens…”

(*Name is verander weens die sensitiwiteit van die onderwerp)

  • Nolene Verwey

    Wat is fout met ‘n male stripper? Hoekom is mense tog so homofobies?

  • http://noxwkaqjyumt.com/ ajpvea

    kXRa8X dgunynzyqehr, [url=http://xohlxgxcezup.com/]xohlxgxcezup[/url], [link=http://okopyogcddku.com/]okopyogcddku[/link], http://fiyddmnverfs.com/