Diverse

Martie Swanepoel blog: Rissie-wrap!

Chili wrap. Lose 15 – 50 cm within 1 hour.

Aha! Net wat ek nodig het vir die naweek se wegbreek uit mykluisenaarskap. As mense jou mos lanklaas gesien het, sien hulle dadelik as jy ‘n bietjie lywiger geraak het.
Maar hier het ek nou ‘n troefkaart. Ek maak dadelik ‘n afspraak vir Saterdagoggend en kondig dit op Facebook aan sodat my vriende gewaarsku kan wees vir my transformasie.
“Is dit soos daai wrap wat mens by KFC kan eet?” vra Nikki spottend.
Benna laat weet: “Hie hie hie.”
My sus meen ek gaan net water verloor.
Maar ‘n hele paar van my maters is die ene ore.
As dit werk, gaan sy sommer vir ‘n week se chili wraps bespreek, sê Ilze.
Saterdagoggend is dit effe snerpend. ‘n Klein stemmetjie vra of ek nie maar kan bel en kanselleer nie? Maar nee, besluit ek, as ek vanmiddag die pad vat Johannesburg toe, gaan ek stunning lyk. In my kop beplan ek al my slanke outfits. (Wat ek natuurlik agter my “vet klere” heel agter uit die kas sal moet grawe!)
Ek gaan sit op Renette se masseerbed. Sy verduidelik hoe bestanddele soos rissiepeper in jou vel opgeneem word en jou bloedvate stimuleer.
Ek hoor woorde soos “ontgiftiging”, “anti-selluliet”, “vetverbranding”, maar my kop bly draai rondom daardie sentimeters wat netnou gaan wegsmelt.
Ek word gemeet en gemerk met ‘n swart pen. “Hmmm, jy is gelukkig, jy het stywe vet.”
Ha! Stywe vet …? Is dit goeie nuus? Ek voel al klaar maerder.
Maar ek bieg oor die CMC-dieet waarop ek nou al twee jaar is – Cupcakes, Muffins en Cappuccino‘s.
Die CMC-dieet verrig wondere as jy depressed en oorwerk is. Dis net die “stywe vet” wat so ‘n nare newe-effek is.
Renette smeer my lyf en bobene met haar rissie-knoffel-en-aalwyn-room in en wrap my in plastiek tot ek soos ‘n gestopte worsie voel.
Toegewoel onder ‘n kombers, in die aroma van rissie en knoffel lê ek en wag dat die vet moet wegsmelt.
Ná ‘n rukkie begin ek gloei. Dis so ‘n lekker warm gevoel.
Voorwaar die saligste manier van maer word wat ek nog beproef het.
En glo my, ek het hulle al deurgedraf, die porsie-afweeg-dieet, die honger-ly-en- inspuiting-dieet, die Atkins, die Scarsdale, die koolsop, die Beverly Hills.
Toe ek jonger was, het ek geglo ek is vet. Nou wéét ek ek is vet.
Darem “stywe vet”.
Ek word ont-wrap en weer gemeet.
As jy al die sentimeters oor my bobene en lyf saamtel, is dit 15 cm wat weggesmelt het!
Die liewe Renette sê ek kan eers oor twee uur gaan bad en waarsku ek moet liefs nie nou gaan shop nie, want ‘n aroma van knoffel en rissie omhul my.
Maar my oggend is kort en met die geur van ‘n chorizo-worsie draf ek deur die supermark en ‘n paar klerewinkels.
Ek voel so maer ek wil net koop. ‘n Gesigmasker en een van daai 10-minute-bokse daai (beslis dié keer een met ‘n rooierige skynsel om by my rissie-slankheid te pas) beland in my mandjie.
Ek smeer, skuim en ontspan met ‘n glas wyn in die bad.
Almal wat weet van my rissie-wrap-avontuur sê die aand dadelik ek lyk maerder (… want hulle is lief vir my).
Ek vertel vir Gert ek is gediagnoseer met “stywe vet”.
“Ja, jy het nogal stywe vet,” antwoord hy.
Ek dog ek gee hom ‘n klap.

  • Gert Bosman

    Sjoe! Mens moet versigtig wees wat mens sê! :-). Volgende keer praat ek maar oor die voëltjies, lente en weer. Gert

  • Isabella Niehaus

    Hoe lekker laat jy my lag…..ek gaan nou dadelik vir so behandeling hier in die Kaap soek!!! Hooooop ek het ook stywe vet!!!! Bella.

  • Julie Naude

    Gert kan bly wees ek is nie jy nie want dan het hy nou onder by die voet van n krans gelê. Ons sou dan moes swart klere koop. Arme Gert. Ek hoop jy gee hom al sy dae. Ek glo hy sal in die vervolg mooi dink voor hy weer ietsie sê teen ons vroulike stywe vette of die jong poppies se papperige vetjies

  • bwH4HQ grfelasjdeqq, [url=http://opltmcfbcsvi.com/]opltmcfbcsvi[/url], [link=http://ylbmwznfuith.com/]ylbmwznfuith[/link], http://axjzmwyqbley.com/

  • Jean-Marie Steenkamp

    As enige iemand ook die ervaring wil deel skakel gerus vir jou naaste salon om ook jou vetjies te laat diagnoseer. Chili Wrap bly die beste!!! Jean-Marie 072 142 9866