Diverse

Mathys se droomvrou(e)

Dis een van Mathys Roets se gunsteling-liedjies, “Oh Mary”, waarin Neil Diamond oor sy hunkering na die vrou van sy drome sing. Hy loop met sy hart op sy mou en sy siel ontbloot:

Oh Mary
You can doubt the world,
But don’t ever doubt in me
I sang it once that I’d never leave you
And that’s how it’s gonna be.

Deesdae sing Mathys ook dié liedjie vir die vrou van sý drome, Margueriet Jones. Dan is daar nog sy ma, Meisie, sy suster, Marié Greyling, en jare lange vriendin Alexa Strachan oor wie hy spesiaal voel.

Hoekom nie ’n CD maak waarin die manne sulke emosies sal teëkom nie? het Mathys besluit. Dalk help dit hulle om so ’n bietjie makliker te praat oor wat in hul binneste aangaan.

So is Droomvrouens gebore – ’n versamel-CD wat Mathys in Februarie met SARIE as media-vennoot gaan uitreik. Hy het langer as ’n jaar met die idee van ’n CD óór vroue vír vroue rondgeloop. Iets wat ’n man spesiaal vir jou kan koop om te sê hoeveel hy vir jou omgee – in die woorde van mans wat nie bang is om dit te sê soos dit is nie.

Elke liedjie wat Mathys vir die CD opgeneem het, het ’n vrouenaam in die titel. “Ek het toevallig reeds verskeie liedjies met vrouename by my optredes gesing, soos ‘Lisa se klavier’, ‘So long, Marianne’ en ‘Sweet Caroline’,” vertel Mathys in sy huis in Centurion.

Ná ’n paar verbrekings en aanbouings aan die huis beweeg hy gemaklik rond in sy rolstoel. Verlede jaar was vir hom ’n moeilike jaar. Eers was daar sy egskeiding ná ’n huwelik van tien jaar, en toe in April op pad KKNK toe die motorfietsongeluk waarin hy in sy onderlyf verlam is.

Maar Mathys het nie vir een oomblik briek aangedraai nie. Hy toer die land vol en het selfs sy TV-reeks saam met Alexa, Kamp dit uit, hervat. Nou’s hy vuur en vlam vir dié nuwe CD-projek saam met SARIE.

Mathys haal aan met sy diep stem:

Oh Mary
Can you hear my song?
Does it make a mournful sound?
I sang it once when first I saw you
And I sing it to you now.

Vir die eerste keer laat glip hy nou iets oor die vrou in sy lewe.

“Dis Margueriet se liedjie. Ons het saam daarna geluister toe ons eenkeer in die berge in Lesotho was. Toe ek nou die liedjie opgeneem het, was sy ook saam in die ateljee en het sy na my gekyk met daai ogies terwyl ek sing.”

Mathys en dié 29-jarige sjef gaan al langer as ’n jaar uit. Hulle het verlede jaar ses maande lank ’n langafstandverhouding gehad omdat Margueriet as deel van haar kursus in die Kaap moes werk. Sy het einde November teruggekeer Johannesburg toe en Mathys is in die wolke daaroor. Hulle droom nou daaroor om saam ’n restaurant in Pretoria oop te maak.

“Iets wat intiem is,” sê Margueriet tydens die fotosessie. “’n Plek waar mense vir my kan sê waarvoor hulle lus is en ek dit sommer daar maak.”

Die paartjie is duidelik verlief en raak gereeld aan mekaar. Margueriet is fyn gebou met grasgroen oë, tonne energie en ’n liefde vir die buitelewe.

“Dis een van die redes hoekom ek en Mathys so goed oor die weg kom.”

Voor hul liefde begin blom het, het hulle gereeld saam gholf gespeel (sy het dit selfs al oorweeg om professioneel te speel).

“Ons verhouding het nie verander ná my ongeluk nie,” vertel Mathys. “Ons bly steeds maats. Sy hanteer my nog presies dieselfde. Ek waardeer dit baie. Dis ongelooflik hoe Margueriet net dáár is vir my. Sy’s baie ondersteunend.”

Die CD bestaan uit Afrikaanse én Engelse liedjies. Mathys het reeds verlede jaar sy verhoogoptredes aangepas en dit na Droomvrouens herdoop. Hy beplan om vanjaar met die liedjies te toer en dit aan ’n storie te koppel. Hy wil die eerste volwaardige vertoning van Droomvrouens lewer by die KKNK op Oudtshoorn in April.

“Dit gaan ’n storie uit die man se oogpunt vertel. Ek het vir Alexa gevra om die teks te skryf. Sy’s die enigste mens wat ek vertrou om dit te doen,” vertel hy. “Maar daar’s eintlik nie baie teks nodig nie, want elke liedjie vertel sy eie storie.”

Lisa kan nie ophou as sy eers begin het nie,
En sy laat my nooit huis toe loop of afskeid
neem voor my laaste sigaret nie,
Ek staan op haar balkon, ek drink haar appelkoos-tee.
Kyk uit na Kaapstad in die nag, die
liggies, en die swart, swart see.
(Uit Koos Kombuis se treffer “Lisa se klavier”.)

“Wat meer kan jy sê?”vra Mathys.

 

Die liedjies wys

alle aspekte van die

liefde. Soms is dit

seer en soms is dit

lekker – Mathys

 

Terwyl hy die liedjies vir die CD gekies het, het hy al hoe meer ooreenkomste in die versameling raakgesien. Cat Stevens en Koos Kombuis het byvoorbeeld albei van ’n Lisa gesing – “Sad Lisa” en “Lisa se klavier”. Dan weer is tee en ’n hawe die ooreenkoms tussen “Lisa se klavier” en Leonard Cohen se “Suzanne”. Lisa het appelkoos-tee vir haar gaste gegee en by die Kaapse hawe gebly en Suzanne het “tea and oranges” voorgesit en naby die Montreal-hawe gebly.

Daar is ook twee liedjies oor ’n Mary – “Lying in the arms of Mary” en Neil Diamond se “Oh Mary”. Mathys het toevallig ook ’n hele paar liedjies gekies met name wat met ’n M begin: Mary, Madelein, Mona Lisa. Al dié ooreenkomste tussen die liedjies het ’n goue draad deur die CD gevorm.

Wat hom veral met die opname opgeval het, is dat sangers soos Leonard Cohen, Neil Diamond en Cat Stevens hulself so weerloos maak.

“Hulle ontbloot iets van hulself en skryf ernstig oor die liefde, stel hul emosies ten toon en is eerlik oor hoe hulle voel. Dís wat die liedjies so goed maak. Hulle noem die vrou op haar naam en vertel presies wat sy aan hulle gedoen het. In baie van die liedjies het dié vroue regtig hul pad gekruis.”

Maar al die liedjies gaan nie oor romanse nie. Mathys sing ook Koos du Plessis se “Karla”, oor sy dogter, Karla, toe sy ’n kind was.

“Ek het nie ’n dogter nie, maar ek ken die vreugde van pa-wees,”sê hy. “My twee seuns, Liam (10) en Yuan (6), is my hart se punt. Hulle luister ook deesdae gereeld na my musiek, wat vir my baie beteken. Hulle ken die liedjies, weet beter as ek watter liedjies op watter CD’s is en help oulik met verkope by vertonings.”

 

Ek sukkel

maar met

vroue. Dit

voel asof

enigiets wat

ek vír ’n vrou

of óór ’n vrou

corny is –

Mathys

 

Daar is ook ’n keurspel van liedjies soos “Meisie Meisie”, “Liefling”en “Loslappie” op die CD.

“Dis liedjies waar die man nie die mannemoed gehad het om die vrou op haar naam te noem nie, maar dis ook universeel en kan op enige vrou van toepassing wees, sodat geen vrou voel sy word uitgelaat nie. Omdat dit ligter liedjies is, gee dit balans aan die CD.”

Droomvrouens is ’n soort ode aan vroue. Dis ook hoekom hy nie die liedjies se volledige naam op die CD se rugkant laat druk het nie. “Lisa se klavier” word bloot “Lisa”, “Lying in the arms of Mary” net “Mary”.

Omdat Mathys van die liedjies gereeld sing, het hy dit nuut opgeneem sodat dit anders en vars klink.

“Die liedjies wys alle aspekte van die liefde. Soms is dit seer en soms is dit lekker. Ek sukkel self maar met vroue. Dit voel asof enigiets wat ek vír ’n vrou of óór ’n vrou sê corny is. Selfs die komplimente wat ek gee, klink corny. Ek sal eerder dat my medesangers die komplimente gee!”

Vir hom is die idee van liefde eenvoudig. “Wees nice met mekaar. Ontspan en geniet mekaar se geselskap. Dis nie so ingewikkeld nie.”

Mathys se ode . . .

“Hulle is regtig soos engele in my lewe,” sê Mathys oor dié vier vroue. “Hulle het my tree vir tree ondersteun terwyl ek in die hospitaal was.”

Margueriet se oë en gesig lag altyd saam, sê hy. “Sy gee baie om vir mense. Met my ongeluk het sy ’n week in Bloemfontein kom bly waar ek in die hospitaal was en elke dag by my gesit. Sy’s net so vrek oulik, jy kan nie help om van haar te hou nie. Daar is ’n paar dinge wat moeilik is, soos dat sy my altyd met pool, gholf en muurbal gewen het. Sy’s baie sportief. Dis altyd lekker om haar te sien. Sy kyk na my met ’n glimlag. Dis lekker om heeltyd in ’n glimlag vas te kyk. Veral nou.”

Mathys het Alexa tien jaar gelede by die lisensiekantoor in Centurion ontmoet. Hulle deel ’n liefde vir motorfietse en het onmiddellik daaroor begin gesels. “Sy’s iemand wat nugter oor die vermaakbedryf kan praat, vir wie ek kan nader as ek enigiets wil weet. Sy was die laaste paar maande ongelooflik. Sy het my lewe vir ’n rukkie oorgeneem terwyl ek van die ongeluk herstel het en al die medianavrae hanteer terwyl ek in die hospitaal was. Dis nogal moeilik vir ’n man en ’n vrou om net vriende te wees, en dit is wat ons vriendskap so uitsonderlik maak. Dis lekker om iemand te hê wat my SMS om te vra of ek krieket kyk. Dis ook lekker om saam met haar te werk aan Kamp dit uit. Sy is professioneel en sy wroeg en swoeg nie oor dinge nie.”

Mathys beskryf sy ma, Meisie, as ’n omgee-ma – iemand wat die ekstra myl met alles loop. “Op skool wou almal ons toebroodjies steel omdat dit so mooi gelyk het. Ons mag nie met lelike toebroodjies skool toe gegaan het nie. My ma is vandag in beheer van my kantoor en besprekings. Ek geniet dit om saam met haar te werk.”

Mathys se jonger suster, Marié, was nog altyd daar vir hom. “Sy het nog altyd oor my geworry. Ek het eenkeer ’n toets op universiteit gedruip, toe hoor ek sý huil daaroor! Sy is ’n arbeidsterapeut in Pretoria. Toe ek ná my ongeluk in die rehabilitasiesentrum was, was sy elke dag daar om my te ondersteun.”

 

Oor die liedjies . . .

“Suzanne” – Leonard Cohen

Suzanne takes you down to her place near the river

You can hear the boats go by

You can spend the night beside her

“Dit is die eerste lied van Cohen wat ek gehoor het en dis mooi om te sing. Die storie wat hy vertel, is ongelooflik. Dis soos dit gebeur het.”

“Lisa se klavier” – Koos Kombuis

Ek het ’n vriendin ver by die blou see

Teen die hang van Tafelberg, as die son sak, speel sy die mooiste melodieë

Haar vingers ken die pad opgesluit in wit en swart

Die klavier se grootste vreugde, hartseer en verlange, verstaan die hart se

diepste smart

“Dis een van my gunstelinge omdat mense so baie daarvoor vra tydens my optredes. Ek is mal oor die eerlikheid van die liedjie en die feit dat Lisa regtig bestaan het. Ek kan agterkom Lisa het ’n groot rol in Koos se lewe gespeel.”

“Man se liedjie” – Piet van Wyk de Vries

So ek verstaan

As jy wil gaan

Ek is ’n man hart in my hande

’n Man verloor

’n man begeer

Want als wat ek aan raak, verander

“Hierdie liedjie gaan nie spesifiek oor ’n vrou nie, maar dit weerspieël die erns van man-wees en hoe moeilik dit soms is.”