Diverse

Michélle: “As kind leer ons veral twee goed” (November 2010)

Ons het ’n hand nodig met skoene vasmaak en huiswerk doen! Met tyd soek ons hulp en raad wanneer ons keuses oorweldigend raak en belangrike lewensbesluite geneem moet word. Dán kom die assebliefs maklik. Maar die dankie – dís ’n heel ander saak.
Hoekom is dit dikwels so ’n moeilike woord om te sê? Onkunde kan ons nie pleit nie. Ons wéét hoe waardevol ’n eenvoudige dankie is, hoe warm dit ons van binne laat voel, want dit gaan oor erkenning. Daardie een ding waarna ons almal smag…

By die werk is dit belangrik om te hoor dat ons gerespekteer word en ons bydrae waardevol is. By die huis wíl ons hoor ons is die beste, dat ons liefgehê word en dat al die ekstra goedjies wat ons vir ons geliefdes doen, waardeer word. Kry ons dit nie, voel ons gou waardeloos en ongeliefd. Kenners sê die oorsaak van affairs het ook dikwels hiermee te doen: Geen of te min erkenning binne daardie verhouding.

Baie mense sê weer nee, die lewe gaan oor selferkenning. Dis ons verantwoordelikheid om onsself op die skouer te klop vir dié goed wat ons wéét ons goed doen en in uitblink. Ja, ek ís ’n goeie luisteraar. Ja, ek ís ’n goeie ma. Ja, ek ís goed in my werk. Ja, ek ís ’n lojale vriendin. Dat ons gereeld só met onsself moet praat en ons eie talente en sterk punte moet erken – dat dit onnodig is om so afhanklik van ander mense se dankies te wees.

Daar’s seker waarheid hierin, want ons behoort almal meer vertroue in ons eie vermoëns te hê. Maar daar’s darem ’n verskil tussen selferkenning en erkenning. Ons meet ons aan die wêreld om ons, en al weet ons ons bring ons kant, is dit mos lekker om dit te hoor ook. So, as ons wéét hoe belangrik erkenning is, hoekom deel ons dit met soveel moeite uit? Wanneer laas het jy iemand erkenning gegee
vir wat hy doen? Jou man, jou kind, jou huiswerker, jou kollega, jou vriendin? Net dankie gesê?

Want erkenning beteken jy sien iemand werklik raak. En dit hoef nie oor iets manjifieks of hoogs uitsonderlik te wees nie. Elkeen van ons doen gereeld klein dingetjies wat ’n groot verskil maak, of iets groots vir iemand beteken. Dít verdien mos ’n dankie!

Net ’n paar weke gelede het só ’n wonderlike dankie na my kant gekom toe my skool, die Hoërskool Overberg op Caledon, my deel van hul Wall of Fame gemaak het. Met ’n seremonie, ’n geraamde sertifikaat en mense vir wie ek omgee daarby. Trotser kon ek nie wees nie. Toe die leerders opstaan om my ou skoollied, Teen Swartberg se hang in die suide…, te sing kon ek skaars die trane bedwing.

Meteens het áls die moeite werd gevoel. Hiermee sê ek nou vir my alma mater: Dankie, Hoërskool Overberg! Lanklaas het erkenning so, só goed gevoel.