Diverse

Michélle: Barbara Joubert kóók! – 30 Januarie

Barbara Joubert kóók!

Waar? Saterdag om 1 uur op die Suidoosterfees by die Kunstekaap.

As kosredakteur van SARIE, sowel as SARIE KOS, het Barbara nie altyd tyd om demonstrasies te gee nie, maar Saterdag is nagereg op haar en haar assistent, Lynnae Janse van Rensburg, se spyskaart. En maak julle reg: Dis poedings met sjokolade en met koffie. En nog sjokolade!

Daardie bekende sjokolade-looppoeding van Barbara, wat in die Junie ’06-uitgawe van SARIE verskyn het en landwyd só gewild was dat ons nie kon voorbly met telefoonoproepe nie (ons het toe die resep in die 1ste uitgawe van SARIE KOS, Oktober ’07 herhaal), sal eerste aan die beurt wees. Net die gedagte aan daardie warm sjokolade laat my mond behoorlik water! Dan volg haar sjokolade-soufflé – almal kan ‘n soufflé maak, sê sy, en dit bak nét 15 minute in die oond. Die res hou sy vir eers geheim …

Kom praat gerus met Barbara ná die tyd – sy gesels heerlik en haar passie vir kos is aansteeklik. Boonop gaan elkeen wat die demonstrasie bywoon ‘n elegante inkopiesak en die nuutste SARIE KOS gratis kry! Al die resepte sal julle ook ná die tyd op SARIE se nuwe webtuiste www.sarie.com kan kry.

Groete

Michélle