miss_africa_south
Diverse

Michélle oor Mej. Afrika-Suid – 29 Januarie

Hallo almal,

Vinette Ebrahim was toe ‘n baie mooi skoonheidskoningin! So met ‘n reguit bob tot by haar skouers was sy vir ‘n oomblik op die verhoog onherkenbaar, maar toe haar mond oopgaan, toe’s dit vintage Vinette. Sy speel vir Sapphire Johnstone (‘n gewese Mej. Afrika-Suid in die stuk Miss Africa South) met passie en oortuiging.

Lizz Meiring
, regisseur en teksverwerker van die stuk, vertel my dat ons storie in vandeesmaand se SARIE oor Pearl Janssen (die rêrige Mej. Afrika-Suid, 1970) vir haar en Vinette omtrent vir ‘n ses geslaan het! Want die ooreenkomste tussen Pearl se lewe en dié van die fiktiewe Sapphire is net só groot. Al húl vroeëre pogings om Pearl in die hande te kry het misluk, en Lizz moes wyd navorsing doen om die teks geskryf te kry. Maar sonder dat ons van Lizz se pogings geweet het, het óns Pearl opgespoor – in Bonteheuwel in die Kaap – en sy wou toe graag haar lewensverhaal met SARIE deel!
Ons het haar gaan haal vir die fotosessie in Tamboerskloof, en ons stileerder Danny Toüa vertel sy is die warmste mens met die wonderlikse humorsin.

So jammer Pearl kon nie die Suidoosterfees-opening Dinsdagaand in die Kunstekaap meemaak nie. Sy is genooi en die fees-organiseerders het Riette Rust, wat haar storie vir SARIE geskryf het, gevra om haar te vergesel, maar werkverpligtinge (blykbaar ‘n opkomende oorsese toer!) het gemaak dat die “Pêrel van die Kaapse Vlakte” dit nie kon bywoon nie.

  • Miss Africa South speel nog Vrydag, Saterdag en Sondag in die Kunstekaap-Arena. Gaan kyk, kaartjies is by Computicket te kry. En lees sommer weer die storie in jou Februarie-SARIE.

Groete
Michélle