Diverse

Michélle se April-redakteursbrief

Om te vergewe – ja, die regte ding om te doen, word gesê. Ons land smeek daarvoor, juis oor ons geskiedenis, en enige kans wat ons as ’n reënboognasie het, hang af van ons vermoë om te vergewe en saam weer nuut te bou.

Só het ons ook op skool geleer. Jy móét vergewe. Jou beste maat verdien weer ’n glimlag, al het sy jou te na gekom. Ons leer dit in die kerk. Dis mooi om grootmoedig te wees. Daar’s nie plek vir ’n oog vir ’n oog nie.

Ook Ma het gesê vergeet en vergewe . . .

Maar dís ’n tall order!

My hart het nog altyd gesê ons is nie gemaak vir vergewe nie. Ons natuurlike reaksie is om oorlog te verklaar teen die onaangenaamhede wat die lewe so uitdeel. Almal wat al die pyn van ’n liefdesteleurstelling ervaar het, of verneder en verrinneweer is, wéét om nié te vergewe nie word maklik die ammunisie waaraan ons vasklou om te oorleef. Om nié te vergewe nie, om selfs ’n wrok te koester, word dikwels die kruk waarop ons leun wanneer ons ’n geliefde op ’n onnatuurlike wyse aan die dood afstaan, of wanneer iets of iemand ons van ons menswees en vrouwees beroof.

Presies waarom móét ons vergewe, het ek onlangs weer half geïrriteerd gewonder. Is dit nie net te veel verwag van gewone mense nie?

Maar my kop sê tog vir my iets anders. Ek vra myself af: Is ek bereid om elke dag met bitterheid te loop terwyl almal om my die beste en mooiste uit die lewe probeer haal? Vir séker nie. Wil ek die slagoffer van my donker emosies bly en my goeie energie mors op iets wat sleg is en tot die verlede behoort? Vir séker nie.

Die ding is: Vergifnis het als met óns te doen.Om te vergewe is iets wat ons vir onsself doen, op ons tyd, en sonder dat ons hoef te wag vir iemand anders om
jammer te sê of om ons om vergifnis te vra. Die towerkrag lê juis daarin dat wanneer jy beslúit om te vergewe jy die mag in jou hande het. Jý’s nie meer die slagoffer nie. Vergeet is ook onnodig. Vergifnis beteken nie jy móét ook vergeet nie. (Soms is dit goed om te onthou sodat jy nie weer dieselfde pad loop nie.) Dit beteken ook nie dat jy goedpraat wat gebeur het nie. Ook nie dat die geliefde wat jy dalk verloor het, nie meer vir jou kosbaar is nie. Dit beteken wel dat jy nie meer na die pype dans van woede en frustrasie nie.

Wanneer jy vergewe, stap jy weg van hierdie negatiewe emosies (al neem dit jou weke, maande, selfs jare) en gun jy jouself ’n nuwe môre.

Ons gaan altyd voor vergifnis se deur staan, want teleurstellings, seerkry en onregverdigheid is deel van die lewe. Hóé ons kies om te reageer is dan wat saak

maak. Mahatma Gandhi het gesê: “Vergifnis behoort aan die sterkeres.” Dis nooit ’n swakheid om te vergewe nie. Inteendeel, dit verg moed. Maar wanneer ons dit regkry, wéét ons dat min dinge so verrykend en so bevrydend kan wees soos vergifnis. Dít is sekerlik die grootste geskenk wat Madiba Suid-Afrika kon gee. Sy vergifnis – nadat hy 27 jaar in die tronk deurgebring het en as 72-jarige vrygelaat is.

Hierdie tyd van die jaar herinner ons daaraan dat vergifnis ook Paasfees se waardevolste boodskap is.

  • Marietjie van de Wall

    Michelle,
    Hierdie is so ‘n pragtige artikel!
    Marietjie

  • Ingrid Golding

    Hi Michelle,
    Ek is Cherie de Villiers-Golding se ma.(Izak se dogter)
    My hart was seer toe iemand "Izak se agterblad" begin skryf het. Ek het besluit dat ek dit nooit sou lees nie… tot nou.Dis nou nege maande later en vanoggend het ek Januarie se "laaste se" gelees en wil graag vir Koos van der Merwe se hoe beindruk ek is!
    Groete
    Ingrid

  • Ingrid Angelique Golding

    Hi Michelle,
    Cherie en Andy is terug van hul wittebrood en ek het haar tel nommer vergeet…toe tik ek haar naam op "Google" in en daar kry ek die interessante stukkie!
    Che en Andy is op 26/2/11 vanuit Aasvoelkop getroud en ds. Bartlett het hulle in die huwelik bevestig nes Izak dit sou wou he. Daar is n foto van Andy se ma (wat lank oorlede is) en Izak en Che (by Gimnasium se feesvieringe) op die sangblad van die diens. Al die gesange is deur Izak verwerk. Che het ook n spesiale "locket" aan haar ruikertjie gedra om die twee spesiale mense saam te dra op haar spesiale dag.
    Bruidegom het in Izak se motor opgedaag omdat n vriend van Izak (en n klient van Che) haar graag in sy motor wou kerk toe neem.
    Ds. Bartlett het gese hy voel Izak is by ons.
    Vriendelike groete
    Ingrid