sr1112redbrief01
Diverse

Michélle van Breda: “‘n Gebou is net ‘n gebou”

Mooiweer en stormweer, die stad se vloei en die hawe se bedrywigheid speel elke dag soos ’n groot konsert voor my af. Ek kan skaars ophou kyk …

Só begin SARIE se 2012 – in splinternuwe kantore! Dit beteken dat ons 2011 met ’n trekkery afgesluit het, wéér ’n keer, en sommer so tussen SARIE se Kersuitgawe deur.Weer het ek gesien ek’s nie goed met ’n pakkery nie. Met ’n trekkery nog minder. Ek bewonder mense wat hul lewe en
besittings sommer in ’n boks kan gooi en hul wortels kan uittrek, want vir my word ’n plek ’n vastrapplek. Gee my dít en die wêreld kan maar sy uitdagings en verrassings en teleurstellings vir my opdis; swig sal ek nie sommer nie.

Nee,’n trekkery vat aan my. Toe ek klaargemaak het op universiteit en my koshuiskamer moes oppak en die wêreld moes in sonder dat ek geweet het wat vir my voorlê, was dit vir my ’n  uitdaging. Maar nie so moeilik soos toe ek die Kaap moes verruil vir ’n lewe en loopbaan in Johannesburg nie. In daardie groot stad sou ek met net my goedjies wegraak. My man, Dewald, herinner my gereeld aan hierdie stelling en vra dan: En toe, wat het toe gebeur? Ja, ek weet, ek’s
mal oor Johannesburg. Dis nou my plek!

Moenie vra oor my verbouereerdheid toe ek redakteur geword het en my bokse moes pak vir die Kaap nie, omdat ek byna weekliks sou moes pendel tussen Johannesburg en die Moederstad. Kompleet soos ’n vis op droë grond. Maar vandag is ek gek daaroor om in albei stede te kan leef en werk. Ek is bevoorreg.

Met SARIE se pakkery nou kom ek af op ’n briefie wat ek vir Izak de Villiers geskryf het toe ons in 2007 saam met ander Media24-tydskrifte van ons gebou aan die onderpunt van Adderleystraat na een oorkant die pad getrek het. Toe was dit vir my ’n afsluiting van ’n era, want in daardie gebou was SARIE vir jare.

Izak se antwoord was só kristalhelder: “’n Gebou is net ’n gebou. ’n Plek net ’n plek. Dit is nie SARIE nie. Die gees en waarde van SARIE lê in die leser en in jou en dié van jou span.”

Is dit nie die mooiste stukkie Izak-waarheid om saam met ons 2012 in te neem nie? Maak nie saak waar ons ons bevind in die nuwe jaar nie – in ’n ander werk of ander situasie,’n ander huis, of dalk ’n ander land – maak nie saak hoeveel bokse ons pak en uitpak nie, wie jý is en wat jy saam met jou dra, is al wat tel. Daar sal altyd nuwe plekke wees; dis die lewe en dis tog groei en verryking. En, dink hieraan, die plek wat jy agterlaat, dis mos nooit verlore nie. Dít is die herinneringe – en dit kan niemand van jou wegneem nie.

Laat 2012 vir ons almal net die beste inhou, en laat ons sáám nuwe plekke verken en leer koester.

  • Isabella Niehaus

    Beautiful! Hoe waar is die woorde nie! Dankie hiervoor.