sr1012bloggers_6_
Diverse

Sarie.com se borskanker-blogger, Minette Stone: “Dit het ek in 2010 geleer”

Deur hierdie warrelwindjaar was daar’n paar oomblikke wat vir my uitstaan. Natuurlik die dag toe ek gediagnoseer is met borskanker. Die trane in my man se oë. Ek onthou alles presies in detail. Dit het vir my gevoel asof ek buite my liggaam staan. Dit voel steeds party dae só.

Die dag nadat ek die nuus aan my pa oorgedra het, het hy my gebel om te vertel hy het daardie oggend op pad werk toe die son deur die wolke sien breek en dit was vir hom simbolies, die Here se manier om te sê alles sal regkom.

Daar was die dag ’n rukkie nadat ek uitgevind het ek het kanker, toe my ma in my seuntjie se kamer gesit en sommer net begin huil het, toe sy vir my gevra het hoe ek sou gevoel het as dit my kind was, en toe jammer gesê het omdat sy my nie wou ontstel nie. Die eerste keer dat ek behandeling gekry het, was ek verskriklik bang. My hande was sopnat gesweet. Deesdae wonder ek of ek ook so ’n dapper uitdrukking op my gesig gehad het soos die nuwe vroue wat ek nou by die kliniek sien.

Ek onthou die dag toe my man my hare afgeskeer het. Die gezoemmm van die knipper en die uitdrukking op my twee dogtertjies se gesigte sal my so lank as wat ek leef, bybly.

Ons het vriende oorgenooi vir ’n braai om my nuwe haarstyl te vier. Ek was so selfbewus, het so vreeslik lelik gevoel.

Elke oggend dat ek na die bestralingseenheid toe gery het, het die son opgekom op my pad. Dit was ongelooflik mooi – ek was op pad na iets wat vir my ’n nuwe begin sou beteken.

Die baie middae dat ek lyfseer en vol medisyne buite op die gras gesit en speel het met my kinders, het ek soveel tyd gehad om oor alles te dink en om vrede te maak, om dankie te sê vir die Here dat hy my gekies het om kanker te kry, dat ek kans kon kry om perspektief te kry oor wat regtig saak maak in die lewe.

Ek kan dankie sê dat ek die geleentheid gekry het om vandag, met my ryskorreltjie-lengte hare, te kan terugdink aan’n jaar vol lewenslesse, wat ek op geen ander manier sou kon geleer het nie.

Lees Minette se blog

  • http://juizcdwkysdl.com/ bfgprblb

    3o5cOK thtvwdwafyhk, [url=http://oklundljewvc.com/]oklundljewvc[/url], [link=http://rapgdvndjcsu.com/]rapgdvndjcsu[/link], http://huoqdtoyorhx.com/