Diverse

My 400 woorde – Jeanne Els skryf oor die solo-bestemming van 50-wees

Ek het manlief en manseuns en manhond (met moeite) oortuig ek sien só uit na hierdie solo-bestemming van 50 word dat dit die grootste geskenk is wat hulle my, én ek myself, kan gee:

Om die hele dag in my eie geselskap te wees. Sodat ek die kleure en geure en geluide van die lewe ongesteurd kan opspons. Dit kan proe en filtreer. Bestek kan opneem van my wonderwerk-halfeeu. Dit vroulik-kinderlik kan vier.

Toe die son tik-tik aan Tafelberg klim ek en jy in ons karretjie en ry, van Bakoven met die Atlantiese Oseaan langs. Oor Constantianek ruik ons die denne en ons rits die motorruite af. Nou kom bloekom by. Hadidas roep en druiweblare leun roes en pers en borrie teen plaaspriële.

By St. James druk en wikkel ons ons tone in die witsoutsand en ons snuif aan wildedagga en lourier en katplant by die kwekerytjie langs die treinspoor. Daardie restaurantjie by Simonstad se hawe ry ‘n mens nie sommer verby nie, en ons bestel skons. Vir twéé. Toe die kelner my skuinserig aankyk, sê ek ek wéét ek’s net een mens en skons vir twee beteken ek gaan vier skons kry en dis gróót skons, maar bring maar, Broer, ek’s hier vir ‘n propperse paartie, want ek’s besig om energie op te bou . . .

Hemel, 50, hét ons daai skons getakel (ek’t darem net een tee laat kom). Toe ons daai laaste draai by Simonstad uitry en anderkant Millerspunt afdraai . . . Hieee-haaa!

Ek weet nie wie het die hardste gegiggel nie – ons, of die groot-glad gryse. Toe die skons se koolhidrate eers inskop en ons die walvis bestyg, eers naak, maar naderhand (net vir Simonstad se mense se onthalwe) kuis gedrapeer met bamboes en seewier, spuit die vis vyftig soutwaterfonteintjies.

Later kom tuimel en plons en swiep die dolfyne ook, in ‘n simfonie van sintuie en saamwees. Goed-goed, 50, die visstorie het effe wyd gaan draai. Maar vir wallie wíl ek nog ry. Miskien op 51. Of 115? Tussen die branders anderkant Simonstad.

Of digby Hermanus. Of wat van Tietiesbaai?