Diverse

My 400 woorde – Jeanne Els skryf

Wanneer die bo-lagies karamelwange skroei, het jy jou rooster-offerandes diagonaal tot driehoeke gesny, dit op Ma se ovaalblink opdienbord gerangskik en my daarmee sitkamer toe gestuur.

Vanuit die kombuis het jou gerusstellende stem in jou gunsteling-liedjie my gevolg, al met die gang se paisley-muurpapier langs.

“As ek móég word vir die lewe in die stad . . .” Op die móég kon jy so ‘n vrolike kinkel sprinkel. Toe Pa skielik dood is, ek dertien, het jou roosterofferande ‘n rok-offerande geword.

Voor jy en jou man ná die begrafnis met jul kleuterdogtertjies die pad terug Noorde toe gevat het, jy met jou eie hartseer en rou, het jy my saamgenooi, in Ma se rooi Renaultjie, Kaapstad toe. By Mayers het ons die materiale gestreel. Jy’t Paarlberggrys fluweel uitgesoek, dieselfde aand nog vir my ‘n pinafore gesny, ‘n satynhartjie op die bostuk vasgewerk, pienk soos die krismisrose in Ma se voortuin. Aan die sykante het jy sakke gestik, om my hande warm te hou teen die winterkoue, het jy getroos.

Jare daarna moes jy jou man in ‘n kliniek groet, ure nadat hy op die preekstoel ‘n hartaanval gekry het. Ek hoor vandag nog hoe jy hom mis, in die warmsagte manier waarop jy van hom praat.

Nogtans leef jy voort, met die drif wat uit jou naam galop: An-na-tjie. Loop bou toe boonop vir jou ‘n nestelplekkie op Reebok, van waar jy saam met nuutgemaakte stapklubvriende die geheimenisse van die Tuinroete verken, van Pepsi Pools en Montagu se pas. Jy ry trein na Namibië, toer deur Turkye.

Geen kolletjie of spatseltjie op ‘n pampoenskulpie by L’Agulhas ontglip jou aandag vir detail nie. Nie die bloublasieblou van ‘n mosseldop of die kewerholtetjies in ‘n stukkie kameeldoringhout uit die Noordwes nie.

Noudat ons liewe Ma ook nie meer in liggaam by ons is nie, Sus, soek ons mekaar nóg meer op. Ons e-pos, ons bel. Ons stap by jou see, ons loop by my see. Ons deel ons verwondering vir die magiese van die Masada. En die stiltes van die sfinks.

Ons leef ál gretiger na mekaar toe.

Bestel Jeanne se boeke op kalahari.net

  • http://lbrfspintkov.com/ yesramewz

    2RUi2r umwobkdjhijj, [url=http://orafywcqpzal.com/]orafywcqpzal[/url], [link=http://voawfnnqvdfd.com/]voawfnnqvdfd[/link], http://xjxonazrmxmu.com/