okt06izak10
Diverse

’n Woord betyds

Dis sy wat my aan die verse van ’n hele paar digters, veral die Iere, voorgestel het, sy synde self van Ierse afkoms, haar ma ’n nooi Kennedy. Ek het haar Kennedy-tantes by Drew dikwels besoek en in hulle dwergietuin gedrentel – en hul blinkgevryfde Humber Super Snipe begeer. Audrey, nie meer so sterk nie, lyk nou net soos haar popfyn tantes met die spierwit hare.

’n Paar jaar gelede, toe ek redakteur van Rapport was, kry ek ’n brief van haar. Sy wou my gelukwens met ’n hoofartikel en sommer met my verjaardag, maar haar laaste paragraaf het gelees: “Izak, moenie die poësie vergeet nie. Dis die goue fluit, die towerfluit. Hou tog altyd aan verse skryf!”

Dit was ’n woord betyds: Ek het weer my vers-aantekeninge nader getrek. Ander vriende het ook aangemoedig. ’n Mens verwaarloos maklik ’n pad wat jy eintlik behoort te loop.

Ek kan dink aan ’n hele paar sulke “betydse” woorde. In Seepunt het ’n wyse ou Jood gewoon wat my bietjie raad gegee het oor geldsake. Toe ek op ’n dag kla oor ’n verlies, sê hy: “My boy, first loss, best loss.” Stop die verlies betyds en hou op tjank. Dit geld ruim 80% van die tyd, net soos: “Dit wat jy die eerste keer dink, is gewoonlik reg.” Neem jou besluit, hou jou kop laag en stap net aan. En as daar klippe en klappe kom – dit kry ook end.

By SARIE langs die teetafel het ek die eerste maal die spreuk: “Never complain. Never explain” gehoor. Een van die joernaliste het dit ná een of ander teleurstelling so asof vir haarself gesê. Op daardie tydstip was ek besig met die opstel van ’n hele rits besware en verduidelikings vir die direksie. Ek het opgestaan, dit alles gaan uitvee en slegs ’n baie bondige redakteursverslag geskryf. Ek beland soms nog in die sop as ek te veel wil verduidelik. Wanneer ’n saak nie ander mense raak nie, skuld jy in elk geval geen redes nie.

Toe ek eenmaal ’n vergadering in die Kaap moes bywoon en by my ma in die Paarl oornag het, het ons oor ’n interessante moontlikheid gesels. Alles mooi en opgewonde, en ewe skielik haak sy af met: “Maar waar pas God hierin?” Dit het my in my spore laat vassteek, soveel so dat ek die oggend my pak klere se baadjie net daar laat lê het en in die Kaap eers ’n ander pak by Markhams moes gaan koop om by die vergadering toegelaat te word. Dié woorde was betyds, want die moontlikheid was ’n brug van sand.

Maar terug by Audrey: Sy het al toentertyd gepraat van die bevrydende lag. Voor ’n mens té ernstig word en in buie van duisternis verval, lag ’n keer behoorlik, ook vir jouself. Dis altyd ’n tydige woord. Want ’n mens verleer dit maklik. Jy dink nooit daaraan dat jy self dalk die spektakel in die hele storie kan wees nie. As jou sin vir humor padgee, word dit emosioneel vir jou donker.

Tydens my besoek het ek Audrey ongemerk sit en dophou en gedink: Jy het ook jou groot hartseer geken. Jou kragte is op hoë leeftyd nie meer dieselfde nie. Maar jy het vir baie mense plesier gegee, veral in SARIE, en jy lag nog steeds.

Laas Vrydag het die uitgewery CUM hier ’n pakkie laat aflewer. Binne-in was die soveelste uitgawe van ’n boekie wat ek jare gelede op Audrey se aandrang geskryf het: Wat dra my deur ’n krisis? Sý het die titel en minstens twee hoofstukke voorgestel: “Leer weer lag” en “Leer weer glo”. Terwyl ek gister op my wandeling oor haar loop en dink het, het ’n stem skielik agter my gewaarsku: “Pasop!” ’n Kar het voor my neus verbygeglip. ’n Ou, swart man het speels vir my vinger gewys en toe Met Ligter Tred aangestap.

Sjoe, het ek gedink, so amper. En skielik het die laning langs die straat Plesierbome geword, en die laatwinter ’n Vrolike Lied.