sr1008kaalkop
Diverse

NA-GEREG

Hulle sê dit neem net ‘n oomblik. ‘n Enkele oomblik om van rigting te verander, om wakker te word, om verlief te raak, om iets ingrypends te beleef, ‘n lewe te verander, ‘n verskil te maak, ‘n skat te ontdek, die waarheid te leer ken of ‘n tydlose herinnering te skep.

Dit was op die ingewing van die oomblik dat Ella Fitzgerald tydens ‘n talentkompetisie besluit het om te sing pleks van te dans, ‘n oomblik wat gesorg het dat sy eendag die beroemdste jazz-sangeres in die geskiedenis sou word.

Ek onthou die oomblik toe ek in die vroeë tagtigs vir Patti LaBelle op televisie gesien het en geweet het my idee van musiek gaan nooit weer dieselfde wees nie. Ek onthou die oomblik toe ek in die spieël gaan kyk het nadat ‘n kunsstudent vir die eerste keer my gesig toegeverf het. Ek het op daardie oomblik geweet hoe ek myself aan die wêreld gaan wys.

Die afgelope tyd het ek ‘n paar keer gelees hoe praat beroemde koswesens oor die oomblikke wat hul lewens die meeste verryk het. Een kosgodin skryf uit Australië sy was nooit weer dieselfde ná ‘n happie rou vis iewers in ‘n hangende restaurant in die Ooste nie. ‘n Spaanse koslegende beskryf hoe hy engele kon hoor sing ná twee druppels olyfolie op ‘n verlate landgoed. ‘n Kostowenaar uit Italië verduidelik hoe haar private onderwyser haar ná ‘n klavesimbel-les bederf het met blokkies kruiebrood, gedoop in sagte eiergeel.

Ek begin dink oor my grootste oomblikke in die teenwoordigheid van kos. Eet is per slot van sake my gunstelingtydverdryf, kos my grootste seëning en hardste straf. Hulle sê jy is wat jy eet. En daar was ook ‘n paar belewenisse op internasionale vlak, dulce de leche in Buenos Aires, ‘n koor van kase in Parys, ‘n Venesiese pasteitjie wat nou nog teen my verhemelte hang, ‘n likeurkoek uit Harrods en in Florence, die stad waar ek eendag wil sterf, fettuccine met gepiekelde vye en gerookte ham.

Maar helaas, my grootste oomblikke was nie een so eksoties of onbekostigbaar soos wat ek dit graag sou wou hê nie. Glad nie. Ek het ‘n mens geword, my tong en ingewande ontdek en my gewigskrisis begin op die ouderdom van vyf, in die agterplaas van die Laubschers op Riebeek-Kasteel, met ‘n braaitjie-broodjie in my hand. Tot vandag kan niks die viermanskap van brood, tamatie, uie en gloeiende kole troef nie. Ek is wie ek is.

Volgende was nog ‘n broodjie, gerooster in die kafeteria van die destydse Nico Malan-teater. Saadbrood, mozzarella, tamatie, dun skyfies agurkie en baie swartpeper. Daardie smaak woon nou in my verlange. Net daarna volg die eerste lepel vol kerrie by Danny’s in Seepunt. Gordyne met blinkers en die mooiste kelners in die heelal het almal verdwyn met die eerste sluk hoender in sterk tamatie-en-kruiesous.

Die volgende groot oomblik is veroorsaak deur myself, per ongeluk. Deesdae het ek nie meer die tyd of energie nie, maar tien jaar gelede het elke repetisie geeïndig met ‘n paar bottels wyn, ‘n l-a-a-a-ang kuier en ‘n vinnige skottelgereg. Een aand het ek letterlik alles in die kas in ‘n oondbak gegooi: hoender, uie, suurlemoene, knoffel, roosmaryn, sout, peper en witwyn. Ons het heerlik gekuier en ek het ure later besef ek het van die hoender in die oond vergeet. Dié was die sagste, mees verruklike aandete ooit. Ons het om die bak gesit en geëet met ons hande en dik snye plaasbrood. Tot vandag is Vergeethoender my onfeilbare treffer.

En heel bo-aan die leer, in ‘n sprokiesagtige wit lig, sweef die oomblik toe ek in my eerste stafie KitKat gebyt het. Slaan my dood, praat agter my rug, herinner my aan die wêreld se donker sjokoladewonders met 70% kakao, my vreugde verskyn in ‘n rooi papiertjie, stel my nooit teleur nie en bring my jeug terug na my. Ek is wie ek is.