Diverse

Net ’n miljoen

Ek het haar so sit en betrag: Iemand wat beslis nie oor ’n tekort aan geld kan kla nie, ook nie ’n tekort aan avontuur van allerlei aard nie, met ’n goeie loopbaan, mooi juwele en ontwerpersklere … en gewonder wat sy in háár idioom as “geld” sou beskou.

Ek sou my tuinman graag vra wat hy van só ’n stelling sou dink. Maar ek weet hoe hy in die lug sal spring as hy R1 miljoen in die Lotto wen, waarvoor hy gereeld elke Saterdag ’n kaartjie koop. Ek weet hoe ék in die lug sal spring.

Ek dink ook nie enigiemand in my straat sal ’n “gelukkie” van R1 miljoen weier nie, en hulle is nie juis arbeidersklas nie. Daarby wil sommige van hulle nie eens ‘n bydrae gee vir die getroue straatwag nie, want hulle reken (op Engels) die fooi van R300 per maand “is not value for money”.

Want die waarde van geld is relatief: ’n Britse sokkerster wat £24 miljoen per jaar verdien, sal seker sê R1 miljoen is “nie geld nie”. Maar gaan vra hom maar soveel vir jouself of ’n goeie saak, en kyk of hy dit vir jou sal gee. Maar ek gun die groot entrepreneurs hul geld. Hulle skep vir ander werk, van ingenieurs tot kunstenaars tot gewone arbeiders. Ek het ook min erg aan politici en popsterre wat hulle dan so danig oor die armes besorg maak. Maar om in clichés te praat: Die oorgrote meerderheid van die wêreld se mense sal nooit R1 miljoen besit nie. Dis totaal buite die raamwerk van hul denke. Aan die ander kant: Ek sal dit in een middag uitmors, ’n groot deel daarvan op ’n Mercedes S500 coupé, ’n vliegkaartjie eersteklas rondom die wêreld, ’n paar Armani-pakke, Gucci-skoene, Lanvin-hemde en jeans, en ’n deposito op ’n klein strandwoonstel. Alles lekker goed, en dan is R1 miljoen dalk te min.

Ek wonder wat sou Jesus vandag met R1 miljoen gemaak het. Die antwoord is nie so eenvoudig nie, want Hy het nie in vodde rondgeloop nie, maar ’n kosbare kleed gedra, aaneen geweef, waaroor soldate die lot gewerp het. Hy was ’n gesogte gas by maaltye, en Hy het gesien hoe mense bo hul vermoëns leef, vandaar die gelykenis van die man wat ’n huis gebou en die bouery moes stop omdat hy dit nie kon betaal nie. Dalk het Jesus self die skrynwerk aan so ’n huis gedoen. Ek glo ook nie Hy het sy ambag gratis beoefen nie, maar ’n billike prys gevra.

Maar ’n miljoen as geskenk? Wel, Hy het Hom baie min aan besittings gesteur, en Hom vervies vir die een wat by Hom kom kla het oor sy erfenis. Maar ek glo nie Hy sou op die markplein vir die armes gaan staan en geld rondstrooi het nie. Hy sou dit, ironies, waarskynlik aan Judas die beursdraer gegee het om te “bestuur” en versigtig uit te deel. Dit laat ’n mens verder dink, veral oor Judas se moderne verskynings.

Geld is op sy beste gevaarlik … maar nodig. Dis alles ’n kwessie van balans, soos die meeste besonderse dinge in die lewe. Ouderdom byvoorbeeld: ’n Byna 90-jarige het die ander dag vir my gesê ek is “nog jonk”! Die liefde vra balans. Gesondheid beteken nie altyd blakendheid nie, maar genoeg energie en liggaamlike krag om elke dag deur te sien. Geloof vra nie dat die Here die Drakensberge versit omdat jy nie van berge hou nie, maar dat Hy jou hand oor die berg sal vat.

En ’n miljoen rand? Wel, mors dit uit of begrawe dit en dink dis niks … of besef dat dit beperkings het. Jy kan seks koop, maar nie liefde nie. Jy kan grond koop, maar nooit die uitsig nie. Jy kan welwillendheid koop, maar nooit respek nie.

Wat ’n mens van ’n miljoen dink, is nie eintlik ter sake nie. Dit kan ’n bron van voorspoed of groot teenspoed wees. Dit kan die begin van ’n fortuin wees … óf van gierigheid. Of dit kan die begin wees van spaarsaamheid met die ekstra bonus van oorgenoeg om weg te gee.