Diverse

Never say never, sê die Engelse. En dis so waar.

Ek het onlangs só ’n omwenteling beleef, en dit nogal met rooi. In die begin van die jaar het ek in my redakteursbrief geskryf dat jy nie sommer rooi in my klerekas sal kry nie, want te maklik word dit jou baas. Dat jy darem ’n sekere flair nodig het om rooi góéd te dra, omdat dit praat. Dit sê selfvertroue en kondig met fanfare aan: Ek’s hier!

Nou besef ek om rooi te ken moet jy dit in konteks beleef. Wanneer Franse vroue met ’n bloedrooi, noupassende tot-op-die-knie-reënjas, plus ’n ontwerper-sonbril en sexy, swart  leggings en hoë, goue stilettos ’n reëndag in Parys moeiteloos trotseer en elke waterplas met grasie systap (soos ek onlangs ervaar het), dwing dit respek af. Vir my is hierdie die hoogtepunt van elegansie. Dit was ook genoeg om ’n grys dag in Parys net daardie ekstra bietjie panache te gee.

En toe’s daar die rooirok-meisietjie van die Olimpiese Spele. Ons almal was meegevoer deur dié perfekte donkerkoppie wat die patriotiese lied “Hymn to the Motherland” by die opening in Beijing gesing het. Of gemaak-sing het, omdat sy volgens die owerhede “die regte beeld van China” oorgedra het eerder as die skewetand-meisietjie wie se stem ons eintlik gehoor het. Kultuurverskille maak dat ons moeilik hierdie denkwyse verstaan, en net die wete dat die engelstem-meisietjie oor haar aweregse tandjies nie toegelaat is om self haar glorie op die podium te geniet nie, is soos ’n dolk in menige se hart.

Maar die gesiggie van die donkerkoppie sal my bybly. Hoe sy gestraal het van kinderlike onskuld en entoesiasme voor ’n skare van nagenoeg 100 000, min wetend dat haar stem nie ook in die arena gehoor word nie. Dit wás tog ook haar oomblik. In daardie spesiale rooi rokkie. In die kleur wat in China juis die simbool van vreugde en voorspoed is. Daar waar bruide graag in rooi trou en voordeure rooi geverf word om goeie geluk te lok.

Kyk maar na die gelukspad wat rooi al die jare met die lipstiffie loop. Weer die skakering wat tot nou toe nie ’n ereplek in my grimeersakkie gehad het nie. Maar Xavier Blin in Parys praat met soveel passie oor sy Lancôme-lipstiffies dat hy enige vrou van plan kan laat verander! Daar’s nie ’n vasteland waar vroue nie gek is na skarlaken-lippe nie – van Amerika tot Korea – sê hy. Rooi was tradisioneel die kleur van oorlog, maar nou besit vroue dit. En hulle, die wetenskaplikes, speel heerlik met hierdie veelsydige pigment wat jaar ná jaar, seisoen ná seisoen vroue wêreldwyd opgewonde het. Net so ’n smeersel magenta, ’n tikkie granaat-glans, ’n sonsak-rooi, ’n diep, misterieuse purper. Dit bly die sensuele hier-is-ek-kleur, die kyk-weer-boodskap, die dinamiese moenie-met-my-mors-nie-skakering!

Maar dit was die bekendstelling van ’n nuwe parfuum wat my finaal geswaai het. Dis die vlammende bottel en die robyn “jus”, soos die Franse die parfuum self noem, wat my oortuig het dat rooi ook rose, hout en speserye is. Dat rooi mý spesiaal kan laat voel. Dat rooi binne ’n oogwink ’n vrou se splinternuwe liefde kan wees. C’est Magnifique!

Michélle van Breda

SARIE Oktober 2008