Diverse

Nina Joubert blog uit Frankryk: “Hoog in die takke”

In die Montlucon-supermark loop die trollies oor van kos en wyn. Hardy hardloop deur elke moontlike ry en gooi net in die trollie. Naderhand weet ons nie hoe ons die goed in die kar gelaai sal kry nie, want nie net koop ons by een winkel nie, maar ons stop ook by ‘n vars-mark wat net groente en vrugte en vleis verkoop. Die trollie is weer eens vol vars produkte. Nou is ons kar propvol inkopiesakke, wyn en kratte vol vars vrugte, groente en vleis.

“Ons moet gou by die kwekery stop om nog plante op te tel,” sê Hardy asof dit ‘n opdrag is. “Waar gaan die plante inpas?” vra ek benoud vir Louis. “Vader alleen weet, jy gaan hoog in die takke wees vandag daar agter in die kar,” sê Louis vir my met ‘n glimlag.

Ons stap deur die kwekery, op soek na die spesifieke soort plante wat Hardy wil plant. Ek sien ‘n hok vol hasies in die verbystap. “Ek wil ‘n hasie hê!” sê ek vir Louis heel opgewonde. “Ja!” sê hy heel positief. “Koop vir jou ‘n hasie en dan eet ons die ding twee dae later.”
 
Ons al drie is pootuit. Dis omtrent vyf uur se kant toe ons klaar maak en ons ry huis toe met oë wat swaar is. Ons wil nou net by die huis kom, kos maak en ontspan.

Terug op ons dorp is dit vol mense, want hier is ‘n fees aan die gang. Die mense drink en hulle is lekker gesellig. Musiek speel kliphard en alles gaan net te jolig. Wat ons nie weet nie, is dat iemand voor La Creuzette se hek geparkeer het, wat toegang tot die huis onmoontlik maak.

Hier sit ons: Dis nog warm, en die kar is vol bederfbare vars produkte.

Hardy klim uit die kar, skryf die indringer se nommerplaat neer en spring op sy fiets en ry na die feesterrein toe om dit aan te kondig.

“Watse persoon kan nie sien dat dit ‘n hek is nie?” sê Louis. “Kom Nina, ons blaas die bande af. Dan druk ek my sigaarstompie op die kar dood, want dit lyk so lekker nuut.”

“Ek moet regtig badkamer toe gaan,” sê ek heel benoud.

“Ag nee, man, piepie sommer op die kar,” sê Louis vir my. “Sê nou maar ons was nou in die huis en ek het ‘n hartaanval of ‘n beroerte gekry en dan staan die bobbejaan se kar hier, wat dan? Dit sou nie snaaks gewees het nie.”

Ek staan en lag en Louis stap met ‘n missie om en om die kar. Ons probeer die kar stoot tot in die middel van die pad, maar niks gebeur nie. Ons voel hulpeloos. Ons probeer om die geslag en ouderdom van die persoon uit te werk. “Dis ‘n jong vrou en sy is blond,” sê Louis. “Nee,” sê ek, “dis ‘n jong paartjie, ‘n mens kan mos sien.”

Hardy is al ‘n uur weg en ons hoor ‘n aardige geluid, iemand wat probeer om ‘n mikrofoon aan te skakel. “Ja, nee, tipies Boussac, so gechill met musiek en als tot daar ‘n probleem is,” sê Louis.

Ons dra toe die meeste van die goed huis toe van onder van die pad af. Om net die vars goed in die yskas te kry. Louis maak vir ons tuna-slaai en Hardy drink twee biere na mekaar en Louis skink vir ons twee ‘n glas wyn.

Ons drie sit soos zombies om die tafel, want wat nou? Die kar is voor die hek en daar is nog ‘n hele tuin agter in die kar. Louis kom bedink ‘n plan: “Weet julle wat moet ons die aap laat doen?” Hardy kyk hulpeloos na Louis en ek vra toe: “Nee, wat?”

“Ons sê vir die persoon hy of sy moet die sakke terug in die kar laai, en al die goed van onder af boontoe dra, soos wat ons gedoen het.”

Asof dit al ons pyn en lyding sal genees. Ons al drie het al na Dexter, die TV-reeks gekyk. “Of ons maak soos wat hulle in Dexter maak. Ons gooi die lang tafel vol plastiek, plaas die persoon in die middel van die tafel en ons drie staan daar met baadjies en laat daai musiek van Dexter speel en sê, weet jy hoekom jy hier lê? En maak die persoon heel paniekerig.”

“Hardy sal alles maar moet hanteer,” sê Louis. Hardy kyk na hom en sê: “Ek het al klaar.” Ons kyk na Hardy. “Wat bedoel jy, jy het al klaar wat gedoen?” sê Louis.

“Ek het die kar se antenna afgehaal en ‘n nota gelos wat sê, as jy jou antenna wil terughê, kom sien my eers,” sê Hardy. Louis kyk met groot oë na my en lyk heel beïndruk met Hardy. Hardy lyk dalk so onskuldig, maar hy het sy eie maniere van goed doen, waar Louis die heel dramatiese pad sal vat. Met ‘n inleiding en ‘n goeie slot.

Ons mae is uiteindelik vol en ons kan ontspan, maar die persoon het nog nie die klokkie kom lui vir die antenna nie.

Die musiek speel al hoe harder en die mense op die dorp is lekker gesellig. Ek hoor vir Madonna en Micheal Jackson in my ore en bid vir rus en vrede. En twaalfuur die nag skiet die Franse vuurwerke af.

Ek word met ‘n harde geluid wakker en dog dis die einde van die wêreld en hier is oorlog hier buite. Hardy moes by die arme honde in hul kamer gaan sit het om net vir hulle te laat bedaar. Gelukkig het dit nie vir ure aangehou nie en ek kon weer rustig sonder Madonna en die vuurwerke verder slaap.

Die volgende groep wat ons verwag het, was die kreatiewe skryftoer, aangebied deur Riana Scheepers. Die eerste aand, toe Louis vir hulle kook, was dit net ek en hy in die kombuis. Hardy, wat gewoonlik elke sekonde in die kombuis oor Louis se skouer kom loer het, was nêrens te sien die aand nie. Hardy het van ‘n “energy bunny” na ‘n “chill factor” getransformeer. Gelukkig het alles perfek verloop met my en Louis in die kombuis.
 
Dit was ‘n ongelooflike groep, vol idees en lus vir die lewe. Dit was my heel eerste ontmoeting met Riana. Sy is ‘n vrou vol lewe en vol energie. Riana se ma, Myra, was ook op die toer. Hulle altwee het lewenslus – ‘n mens kan nou sien, die appel val nie ver van die boom af nie.

Hier was altesaam nege gaste. Fantastiese mense. Vanaf veertig tot tannies van agt en negentig, wat ‘n mens nie bang maak om oud te word nie. Want die gin & tonic’s het in die aand gevloei en die tonge het gerol. Riana gee vir elke skrywer elke oggend ‘n klein glasie soetwyn. Sy sê dit laat jou ontspan en laat die kreatiewe souse uit jou brein vloei. Louis het oggend nommer drie sy bottel Armanac gaan haal. In die aande het elke gas ‘n beurt gehad om sy of haar storie met almal te deel. Daar was ‘n gelag en ‘n paar trane gepink.
 
Hardy het weer eens vir ons almal bederf met heerlike disse.
 
Dit was ‘n fantastiese groep, met fantastiese mense. Ons volgende groep is die Tuintoer. Hulle arriveer die 19de Junie. Ek leer so baie van al die verskillende mense wat ek hier ontmoet, dat dit vir my regtig spesiaal is. Soos die ou gesegde sê: “‘n Mens is nooit te oud om iets nuuts te leer nie.”

  • Marinx

    Ai, dit lees lekker Nina!!

  • Marguerite van Wyk

    Jy skryf te lekker Nina. Voel of mens saam met jou daar is. Geniet die laaste rukkie baie!

  • Isabella Niehaus

    Was sooooo lekker om jou te sien…en vir Hardy en Louis.Jy moet enjoy elke dag en ek gek oor jou skrywery!!

  • Riana

    Wat Nina natuurlik nie sê nie, is dat sy ‘n weergalose skoonheid is wat stil-stil alles laat gebeur terwyl die res van die mense die voordeel van haar arbeid geniet. Maar daardie vonkelblou oë van haar mis niks nie!
    En bowendien kan dié meisiekind skryf!