Diverse

Noord en suid

Behalwe vir my ouerhuis bly ek nou in hierdie huis in Johannesburg langer as wat ek ooit op enige ander plek gewoon het. Ek het die boomryke buurt en die stad gewoond geraak, selfs op ’n manier daaraan geheg geraak, hoewel ek nooit sal voel “dis my plek” nie. As “my plek” iewers is, is dit in die Kaap. Dit beteken: Wanneer die vliegtuig daar neerstryk, kry ek ’n gevoel van herkenning en opwinding tussen bekende landmerke, in bekende strate met talle bekende mense.

In Johannesburg lewe ek anoniem – iets wat ek in baie opsigte nogal verkies: Om sommer net in ’n menigte te verdwyn. Soms loop ek my egter vas, soos toe ek eendag in die bank hardop tekere gegaan het oor ’n verkeerde bankkaart. Ná my woordvloed loop ek deur toe en tot my ontsteltenis groet iemand in die tou my kliphard: “Môre, Dominee!”

In die Boland en die Kaap verdwaal ek nie. Ná jare in Johannesburg ontdek ek nog steeds woonbuurte, strate, winkels en inkopiesentrums wat ek nie ken nie. Johannesburg is ’n klein New York. Die Kaap is ’n baie groot dorp in die mooiste natuurskoon denkbaar, met ’n tipe sagtheid in die lug wat nêrens geëwenaar word nie.

Om ’n Johannesburger te wees moet jy ’n grootstadmens wees, iemand wat van ’n gewoel om jou hou: Allerlei verskynings van mense. Hulle trek in, bly ’n tyd en vertrek dalk weer stilweg sonder om te groet. Ek ken van die mense in my straat, maar ook nie juis nie. In die Kaap was dit nogal anders. Buurt verskil van buurt.

Hoekom ek hier woon? Ek wou naby my kantoor wees in ’n straat waarvan ek hou. Ek hou nog steeds van my buurt en huis, en die klimaat van Johannesburg is onverbeterlik. Ek hou van reën in die somer. En op ’n manier het ek hier wortel geskiet, hoewel nie diep nie. My pa het hier skoolgegaan voor hy terug Boland toe is en was aan die Goudstad verknog. Dalk het iets daarvan aan my afgegee. En ek was buitendien tot nou toe gewoon te lui om te trek en die voordele van ’n getroue huishulp en ’n huis wat my in elke opsig perfek pas, prys te gee. Dis of my huis om my vou, en min woonplekke doen dit vir my.

Maar die Kaap!

Hoe beskryf ’n mens die gevoel van die wingerde na Stellenbosch en die Paarl se kant toe? Hoe ervaar jy daardie suiwer dae soos kristal? Hoe verruil jy die koestering van die berge en die see vir die koppies van Johannesburg, waar ek nou nog nie mooi weet waar is noord en suid nie? Miskien bly ek juis uit die Kaap weg omdat dit my te veel aan ’n idilliese, beskermde jeug herinner. Johannesburg is ’n harde, manlike stad. Die Kaap is ’n Moederstad. Die noorde is patriargaal. Die Kaap is matriargaal.

Daar is klieke, ja, in Kaapstad én Johannesburg. Hulle dink baie van hulself, ja, die Kaap en Johannesburg. In Johannesburg bestuur mense onbeskof; in die Kaap onnosel. In Johannesburg vertel hulle gou vir jou hoe groot ’n transaksie is waaraan hulle deel het, of hoeveel hul huis gekos het. In die Kaap is “ou geld”, wat nie graag verduidelik of oor gepraat word nie. In Johannesburg wemel dit van eetplekke, maar in die Kaap ook en hoe hulle almal ’n bestaan maak, weet nugter.

Die Kaap is baie mooier, maar Johannesburg het mooier tuine. In die Kaap lewe hulle “oop”. Ons durf dit nie hier doen nie, en bly agter ons mure en leer privaatheid waardeer. Jammer as ek dalk op ’n toon getrap het, maar eintlik is ek tussen die twee. Lank genoeg in albei gewoon om minstens vir myself ’n opinie te vorm.

Maar die waarheid is dat ek al meer daarvan bewus word dat ek ‘n “tussen-stede-mens” is en eintlik ’n adres in die ewigheid het. Die ou sendeling Willebrord het mos gesê ons is soos swaeltjies wat deur ’n groot vertrek vlieg: By die een venster in en by die ander uit. Die kort rukkie in die groot vertrek is die lewe hier.

Die ruimtes is die ewigheid en lewe. En in die verste ruimtes, oral, is God, wat eintlik ons tuiste is.