Diverse

Chris Swanepoel se reis-blog: ‘n Fobie vir krappe

Hy het sy BSc Wyn-en-wingerdkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en was die afgelope drie jaar werksaam as assistent-wynmaker by Simonsig. Nou het hy besluit om sy vlerke te sprei en verdere wynmaak-ondervinding in die buiteland te gaan opdoen. En die beste van alles? Hy deel sy reise en ervaringe met jou hier op sarie.com. Hy is mal daaroor om rondom ‘n lang, gedekte tafel te kuier, met mooi musiek en goeie wyn. En laataand vermaak hy sy gaste met sy kitaar.

FEBRUARIE 2011: Suid-Australië

’n Fobie vir krappe

“Matt Schmidt, assistent-wynmaker by D’Arenberg, is ’n intense en passievolle persoon. Wyn is natuurlik een van sy liefdes, maar tussen die wynmaak deurbrou hy ook sy eie bier aan’t huis, “Homebrew” soos die Aussies dit sal noem.

Baie van die biere in Australië, net soos hulle wyne, is ongefiltreerd en dit word nie gebrei nie (natuurlik geld dit nie vir alle bier en wyne nie). Dus sal jy ’n bier in ’n winkel koop en dit is nie vreemd om gis-selle op die bodem van die botteltjie te sien dryf nie (ons drink baie Coopers in Suid-Australië). Dit is ook nie vreemd om ’n bietjie sediment aan die sy van ’n duur bottel wyn te sien nie. Natuurlik beteken dit nie die wyn is sleg of die bieris “vuil” nie, inteendeel, dis die produk in sy meer “natuurlike” vorm.

Matt se “homebrew” verskil van bottel tot bottel, en getrou aan sy persoonlikheid, hou hy ’n rekord van elke bier soos dit in die bottel gaan. Al die biere het ’n botteleringsdatum, tipe gis wat bygevoeg is, metode en byvoegingsrekords wat genoteer word in Matt se bierboekie. Na ’n lang dag sal Matt altyd so een of ses langnek “homebrew’s” uithaal vir sy gaste, en dieselfde geld vir sy wyn.

Ek het kennis gemaak met my eerste proesel van d’Arenberg-wyn by Matt se huis in Seaford. Aangesien ek vir die volgende paar maande daar gaan werk, was dit vir my ’n groot oomblik. Alhoewel ek ’n hele paar “homebrew’s” al voor was,was dit vir my ongelooflik hoe die wyn nie “nuwe-wêrelds” proe nie. Die wyn het goeie mineraliteit, vrug en lyf gewys asook ’n aroma van “earthyness” en effense “farm yard”-karakter. Dit was glad nie wat ek verwag het nie. Die wyn is hulle voorbeeld van ’n Bordeaux-styl-wyn.

Ek moet ook net noem, soos ek die storie hier sit en tik, ruik ek die heerlike aroma van die Indonesiese kos wat my gasvrou aan ‘t koke is. Sy is oorspronklik van Bali en is nou getroud met Peter, my gasheer. Dit is so interessant om die verskillende kulture in Australië te beleef. Ek het my kar gekoop van ’n Lebanees, ek het saam met twee taxidrywers gery, een van Indië en een van Hongarye.

Matt nooi so vir my, Jaco (’n mede-Suid-Afrikaner), Jack (hoofwynmaker by d’Arenberg) en Wiggy (werksaam by Wirra Wirra-wynkelder – sy regte naam is Luke) om saam met hom te gaan krap vang. Ek moet net noem dat ek ’n vreeslike fobie het vir krappe!

Dit het ontstaan toe ek as ’n jong laaitie kennis gemaak het met ’n lewendige kreef op Paternoster. Iemand het dit wys gevind om my met hierdie kreef rond te jaag en van daardie dag kan ek nie ’n kreef of ’n krap verdra nie. Natuurlik eet ek kreef en ek is mal oor krap, my ma maak meesterlike krapkerrie waarvoor ek vreeslik lief is.  Met hierdie in gedagte kan julle jul net voorstel wat deur my kop gegaan het toe die uitnodiging aan my gerig word. Ek het net geweet, hier kan ek nie uit nie en my krap-vrees moet ek vir myself hou – dit is iets waaroor ek bietjie skaam is.

Saterdagoggend vertrek onssee toe, so ongeveer 3 ure se ry van Seaford af, net noord van Adelaide. Op pad word daar “Matt se homebrew” geniet en die  bakkie is propvol gereedskap vir die “crabbing”. Ingelaai is vier ysterharke met houtstele, vier 60 cm x 80 cm-plastiekhouers, ‘n lang stuk dun tou, genoeg ‘homebrews’ en ou skoene en sokkies. Ek het natuurlik geen emosie gewys nie, alhoewel ek nie geweet het hoe ek sou reageer as ‘n krap my aan my kuit  of  aan een van my vingers vasknyp nie!

Ons het by die strand aangekom en ek het natuurlik geen idee gehad wat om te verwag nie, of hoe ons die krappe gaan vang nie. Wat ek wel geweet het, is dat ek vreesbevange is! Die strand het meer soos ‘n “swamp” voorgekom met die sand wat deur lae gedroogde seegras bedek is en die water wat tot 500 m in nie dieper as ‘n meter is nie. Al die manne het hulle ou sokkies en skoene aangetrek, ‘n stukkie tou aan sy plastiekbak gebind en die ander punt van die tou aan sy lyf vasgemaak sodat die bak agter jou kan sleep, en ‘n hark oor sy skouer gegooi. Ek het oë toegeknyp en bloot net die manne se routine gevolg. Die sand is modderig soos jy instap, jou bene sak weg in die pappery en dit vat bietjie harde werk om deur die eerste 30 tot 40 m te loop voordat jy by harder sand uitkom. Jou bene is omtrent kniediepte onder die water en dit is toe dat Matt sê ons moet begin hark. Hy het genoem ons moet al langs die rand van die seegras hark op die wit sand onder die vlak water. Ek was verheug toe ek agterkom ek moet die krap met die hark opskep en nie met die blote hand nie!

Na so 10 harke voel ek toe iets. Met die eerste gevoel het ek gedink dit was ‘n klip, maar toe ek die blou knypers by die sand sien uisteek, het ek geweet – dis krap hierdie en ek moet skep! Met een vinnigehaal skep ek, ligdie krap uit die sand en gooi hom binne-in my plastiekbak. Dit moes alles in een beweging gebeur het, waarvan ek niks kon onthou nie. Maar my krap was wragtag in my plastiekhouer. Matt het hom gemeet en hy was die regte grote volgens diewet. Hierdie tipe krappe word “blue swimmer crab’s” genoem. Ek het ongemerk die sweet van my bolip afgevee…

Soos ons dieper in die see ingestap het, so het die krappe meer geraak. Daar is ‘n verskil tussien die manlike en vroulike krappe. Die manlike krappe is blou en groter as die vroulike krappe en die vroulike krappe is vaalbruin van kleur.

Matt het genoem dat die vroulike krappe lekkerder as die mannetjies proe. Ons het elkeen in ons eie rigting beweeg en na so ‘n uur en ‘n half het ek 40 krappe in my bak gehad en my krapvrees is geklop deur adrenalien wat vinnig deur die are pomp. Matt het die manne bymekaargeroep, ons bakke was vol. Dit was ‘n groot gesukkel om met die swaar bak deur die dik modder te loop, maar gelukkig het daar ‘n yskoue bier op die strand gewag! Ons krapvangs was ‘n sukses, ‘n volle 177 krappe!

Dit was volgens Matt ‘n ongelooflike goeie dag aangesien dit nie altyd so maklik gaan nie. Met ons krappe in die bakkie ry ons toe weer huiswaarts elk met ‘n bier in die hand. Ek was vreeslik bly die “crabbing” was verby aangesien ek ‘n hele paar keer in die lug gespring het na ek op ‘n krap getrap het (dit het ek natuurlik nie vir Matt genoem nie, Suid-Afrikaners is mos nie bang nie!!!)

By die huis het ons begin voorberei om die krappe gaar te maak. Matt het die krappe met vars water afgespuit en inkokende seewater gedompel. Daar was ongeveer 30 krappe in die pot se kooksel. Slegs 12 minute van kook was genoeg om die krappe  gaar te kry. Die toets vir gaarheid is as die krappe se kleur na rooi verander.

Met al 177 krappe gaar, toe afgekoel in vars koue water, was dit tyd vir aansit en die groot krap-feesmaal kon begin! Ek was verbaas toe Matt sê ons gaan geen sous saam met die krappe eet nie. Ek hou van bietjie mayonnaise veral as ek kreef eet, maar na my eerste proesel het ek agtergekom hoekom jy hierdie krap bloots moet eet. Die krappe het ‘n heerlike, uniekesoet smaak. 

Om Matt se lang tafelwas dit Jack en sy familie van drie, self’s sy 3-jarige dogtertjie, ek, Jaco en Matt en sy verloofde, Kate. Krap-eet in Aussie is ‘n feesmaal en geen beentjie word ontsien om nie uitgesuig te word nie. “Verskoon my hand” het ek nog verskoning gemaak, maar met die hande eet en krap-eet is sinoniem. Seker hier waar die spreekwoord ‘dat die sop so spat’ sy oorsprong gekry het! Hiermee saam het ons ‘n yskoue Burgandy Chardonnay geniet, die perfekte wynmaat vir ons krap-vangs! Daar was baie krap en daar was baie Chardonnay.

Die orige krap is yskas toe en my Aussie-vriende het talle resepte vir gaar krap. Moet sê, om die krap net so koud te eet met ‘n stukkie brood of in ‘n slaaivorm is pure genot, lekker! Dan dieheerlikste krap-omelet wat ons gemaak het. Hiermee ivir julle dan die resep, vars uit die suide van ‘Daar Onder”.

Klits tesame: 3 eiers (vir jou hoeveelheid mense natuurlik aangepas), ‘n teelepel oester-sous en ‘n teelepel sojasous, sout en peper na smaak. Giet in ‘n pan met gesmelte botter en maak jou omelet. Meng saam: Een teelepel gerasperde vars gemmer, gekapte sprietuie en jou gaar, koue krapvleis met ‘n bietjie soet oester-sous. Die word dan in die omelette opgerol en besprinkel metnog ‘n titsel soet oester-sous. Ware ‘manna uit die see’.

Matt noteer elke krap-uitstappie in ‘n boekie. Hy doen dit al vir die afgelope 20 jaar! Dit was regtig ‘n ongelooflike ondervinding al is ek werklikwaar vreesbevange vir die krapvangs! Die yskas is steeds vol koue gaar krappe en is ‘n groot hulp as die koskas leeg is en die “pay cheque’ nog op pad is.

Dit is die lewe.

Ons begin hierdie week pars op D’Arenberg en my 12 uur ’n dag werkskofte wag – so ook sal die ‘crabbing’ ook eers moet wag vir die volgende paar harde pars-maande! Daaroor meer in my volgende skrywe.

Cheers my mates”

– Chris Swanepoel

D ‘Arenburg Suid-Australië

 

 

  • Isabella Niehaus

    Lekker om jou te ontmoet Chris Swanepoel. Ek het lekker gelees en sien uit na jou volgende storie. Bella

  • CarleneMartin31

    Various people in the world receive the home loans in different creditors, because this is easy.