chris_swanepoel_blog
Diverse

Nuwe blogger: Chris Swanepoel se reis-blog

Hy het sy Bsc Wyn en wingerdkunde graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en was die afgelope drie jaar werksaam as assistent wynmaker by Simonsig.

Nou het hy besluit om sy vlerke te sprei en verdere wynmaak ondervinding in die buiteland te gaan opdoen. En die beste van alles? Hy deel sy reise en ervaringe met jou hier op sarie.com

Hy is mal daaroor om rondom ‘n lang gedekte tafel te kuier, met mooi musiek en goeie wyn. En laataand vermaak hy sy gaste met sy kitaar.

KULTUURSKOK

Sondag 23 Januarie 2011

Na ’n vreeslike lang en uitputtende vlug is ek in my hotel in Glenelg, Australie! Op pad het ek ‘n Fransman ontmoet in die vliegtuig, Xavier. Hy het ‘n klein wynplaas in Bordeaux en met ‘n groot kennis van wyn was dit ‘n baie interessante gesprek. Ek besef opgewonde, dat ek so pas my eerste kontak op my ervarings-reis ontmoet het, die lewe gaan immers mos ook oor wie jy ken!

Ek land in Sydney vir ’n oorklim na Adelaide. Die vlugtyd was lank en ek het ‘tyd’ verloor. Die tydsverskil tussen SA en Sydney is ’n volle 9 ure en 8 ½ ure tussen SA en Adelaide.

Glenelg is ’n pragtige kusdorpie , byna soos ’n voorstad van Adelaide. Hier is  die jong mense volop en daar is ’n lewendige gevoel wat in die lug hang. Ek besluit toe om ’n bier te gaan drink aangesien ek nie alleen in my hotel wil sit nie. Die bar se naam is “The Grand”.

My eerste bier wat ek in Australië drink is ’n Carlton, dit kom nie in ’n draught nie maar in ’n “pint”. Hy smaak nie so lekker nie, maar ’n koue bier na ’n lang pad was nog nooit sleg nie!

Die plek was redelik leeg rondom my. Ek sit toe by ’n klein tafeltjie met my klein nota boekie en begin die plek beskryf. Aan my linkerkant het ek ’n paar manne by die bar gesien staan en die res van die plek het hier en daar iemand wat by ’n tafeltjie sit .

Ek dink toe dit is seker leeg omdat dit ’n Sondag is. Die bar is teen die see en is omring met glas. Soos ek sit en skryf gewaar ek ‘n paar dames wat na my kant toe kyk. Die een dame waai na my kant toe en probeer iets se, maar die musiek is net te hard om te hoor. Sy staan toe op en stap nader. Net soos sy naby my tafel kom, gly sy en foeter wraggies agteroor, plat  op haar rug! Sy moes verseker al ’n bietjie wyn ingehad het! Ek word voorgestel en genooi na hulle tafel, en ek volg… natuurlik!

“Hallo mate” hoor ek toe van al drie die dames. Hulle, Maddy, Mel en Carly, kon dadelik agterkom ek is ’n buitelander en hier in Australië hou die dames van buitelanders! My rustige aandjie het toe gely na ’n groot partytjie! Ek het vinnig agtergekom dat Sondae op Glenelg nie rustig is nie.

Die mense in Australië is vreeslik gaaf en hulle aksent dra by daartoe. Dit klink altyd of hulle gelukkig is! My eerste week in Australië was regtig ongelooflik en ’n effense kultuurskok. Hulle kuier vreeslik op Sondae in Glenelg, die dames trek baie min klere aan, hulle is skaam vir niks nie en hulle is so rustig soos die hemel self.

Maandag  volg en is spreekwoordelik :  ’n “blur”, ek slaap heeldag!

Dinsdag 25 Januarie 2011

Ek ontwaak eers 10uur , die “jetlag” of vlugsiekte en die groot kuier put mens vreeslik uit. Ek moes uit my hotel en in die Glenelg backpackers intrek, waar die groep wynmakers wat deel sal wees van my oeriënteringsweek almal sal tuisgaan. Die backpackers is redelik aangenaam met ’n enorme kroeg, dans area, buitenste kuierplek, wasgeriewe, internet geriewe en skoon badkamers. Gelukkig was ek in ’n enkelkamer aangesien dit effens steurend is indien jy wil rus in ’n gemeenskaplike kamer vol vreemdelinge- die is haas onmoontlik.

Nadat al my besittings in die kamer toegesluit was, het ek die strand gaan opsoek. Dit is geleë ongeveer 100m van die backpackers af. Op die bekende “Jetti street” is al die kuierplekke en restaurante. Ek koop toe vir my ’n botteltjie lemoensap vir drie dollar, ongeveer R20! By ’n ander eetplekkie daar naby koop ek vir my ’n broodjie vir 8 dollar, ongeveer R50! Dit is waar ek regtig agtergekom het Australië is nie vir armgatte nie. Soos ek my broodjie sit en eet het hoor ek die gedreun van V8 motors in die strate, almal ry karre met groot dreunende enjins.

Bibber, die agentskap waarmee ek Australië toe gekom het, is in beheer van die ’n oriëntasie week . Om by hulle aan te sluit is nie goedkoop nie, maar die wynplase hier aanvaar nie maklik jou aansoek as jy nie deur hulle werk nie. Bibber vertolk noodsaaklike take vir jou soos: jou visum en ander nodige papierwerk en admin,  bankrekenings, pensioenfondse, tax ens. Die oriëntasie program skop af met ’n ontmoetings aandete vir die kursus-gangers.

Hier eet ek toe my eerste Kangeroo gereg. Ek het geen idée met watter vleissoort ek die moet vergelyk nie… bees, vark, lam of boksoort?  Sou dit  Springbok wees, is die smaak van ons eie boksoort  tien maal beter! Die Kangaroe is op ’n gasbraai gaargemaak of soos hulle sal se, “Barbie”. Saam met die ete drink ons hul plaaslike bier, Coopers. Dit is ’n aangename bier. Die res van ons spyskaart was meer bekend, hoender repies en stukkies bees filet. Bygeregte was eenvoudig maar lekker. Ek ontmoet wynmakers van oor die wêreld en ek voel tuis en baie bevoorreg- ons het baie om oor te gesels.

 

Woensdag 26 Januarie 2011

Vandag is Australië Dag, en ons  besoek die Barossa vallei, ek is opgewonde want hoe lank droom ek nou al oor hierdie geleentheid. Ons word vervoer per bus en dit is ’n redelike lang rit vanaf Glenelg.

Die eerste wynplaas wat ons aandoen is “Whistler” en hier ervaar ek my eerste proesel van die bekende Aussie Shiraz. Ongelukkig was ek redelik teleurgesteld na groot verwagtinge. Die wyn was oorryp en “porty”, die Riesling was plat met geen “zip” nie en die rooi vonkelwyn was glad nie na my smaak nie met tannine wat met die vonkel baklei. Ek het myself belowe dat ek nie ’n indruk sal vorm by die eerste plaas wat ek besoek nie.  Die vallei sal ek na terugkeer- op my eie tyd.

Met die terugkeer in Glenelg het ek die grootste partytjie van my lewe beleef, Australië dag is GROOT makietie! Die strand is vol mense, almal is goed gewyn en die atmosfeer is feestelik. So ’n dag lyk my word nie net beleef nie maar behoorlik ook geleef.

Chris kom aan in Barossa

 

Donderdag 27 Januarie 2011

Na ’n groot aand besoek ons ’n  wildpark in Adelaide. Ek is in my element. Ek het kangaroes en wallabies gevoer, koalas gesien en vele meer. Dit is ’n moeite werd besoek aangesien meeste van die bekende diere in hierdie park te sien is. Die hokke is ruim en dit kom voor of die diere in groot spasie leef.

Vanaand is die aand vir ’n stadsbesoek, besluit ek en ’n paar SA-manne wat ek ontmoet het.  Na ’n stewige kuierjie in die backpackers en die dorp skiet sewe van ons, drie Suid Afrikaners (Jaco, Kobus en ek), een Duitser (Johannes), ’n Kanadese meisie (Blake), ’n Italianer (Stefan) en ’n Engelsman (Liam) na Adelaide met twee taxi’s. Dit kos 25 dollar per taxi na die stad. Die aand was woelig en baie lekker, almal het so goed oor die weg gekom, en tog is almal van reg oor die wêreld.

 

Vrydag 28 Januarie

Die het gekom en gegaan en ek het nie meer ‘vlugsiekte’ om te blameer nie. Die Aussies kan hard kuier en ek het rus nodig!

 

Saterdag  29 Januarie 2011

Ek het die Duister gehelp om ’n kar te koop, ’n 1996 Ford Falcon V6! Ek was sy tolk vir sy gebroke Engels. Ek, die Duitser (Johannes Kopp van ’n wynlandgoed buite Stuttgardt) en ’n Hongaarse wynmaker (Marton) keer terug na Barossa om my eerste “nie-goeie-ontmoeting” van Australiese wyn te gaan oortref.

Ons eerste stop is die landgoed, Wolf Blass. Hulle is deel van Penfolds en gesamentlik word hulle deur Foster’s besit. Wolf Blass pars ongeveer 45 000 ton per jaar. Om julle ’n idee te gee, by Simonsig waar ek vir 3 jaar wyn gemaak het en drie oeste beleef het, het ons 2500 ton gepars.

Wolf Blass spog met ’n enorme lys van wyne. Die dame agter die toonbank by die proelokaal was vreeslik gaaf met ’n besonderse goeie wynkennis. Die kwaliteit was redelik goed, selfs by die goedkoper wyne. Hulle vonkelwyn, alhoewel die druiwe van koeler areas afkomstig is, was vars, skoon en vrugtig. Die Riesling was weereens vir my nie iets om oor huis toe te skryf nie, maar dit was die 2008 Langhorne Creek

Cabernet Sauvignon, $43 per bottel, wat my die meeste beïndruk het. Die wyn het mooi vol vrug, die hout is in balans en ’n effense mintyness gee dit ’n vars karakter. Op die pallet is die wyn sappig, vol en die nasmaak sit nou nog in my mond. Australië, julle mag maar  wyn maak.

Ek was ook bevoorreg genoeg om die 2007 Barossa Shiraz te proe. Dit is hulle duurste en mees bekende wyn, $170 per bottel. Hierdie wyn val onder hulle platinum label. Hy is vol ryp vrug, nie teveel hout op die neus nie, maar wat my dadelik gepla het(seker my pallet wat nie gewoond is nie) is die hoë alkohol. Op die staan daar 15%, maar ek is seker dit is bietjie hoer. Sover kraai Cabernet Sauvignon vir my koning in die Barossa.

Die volgende besoek was Two Hands. Hulle is ‘n kleiner kelder gevorm deur twee vriende, dit is dan ook die verduideliking van  die twee hande op hulle etiket. Hier het ons $5 betaal vir ’n proe, maar dit was verseker die moeite werd.

Die wyne was in die algemeen goed en verbasend was hulle Riesling bietjie beter, maar dit het my steeds nie oorreed dat ek ’n Riesling van die Barossa sal koop nie. Na die proe van al die wyne het Shiraz uiteindelik koning gekraai. Die 2009 Sophie’s garden Padthaway Shiraz, deel van hulle Garden series, was spicy en “in your face”. Op die pallet was die wyn vol en sappig met ’n lang nasmaak. Alhoewel die alkohol hoog was het die vrug van die wyn dit gemasker. Hierdie was ‘n goeie Shiraz vir $60, wat wel vir ’n Suid Afrikaner baie duur is.

 

Sondag 30 Januarie

My kuier/werksweek in Adelaide is verby en ek voel al half-half Aussie. Ek vertrek na die Mclaeren vallei waar ek my volgende drie maande as deel van die D’Arenburg (soek die webtuiste, www.darenberg.com.au,  op om te sien waar ek my begewe) wynspan sal wees vir my eerste oes in Australië. Ek neem ’n taxi wat my , $60 (+-R400) uit die sak jaag. Die temperatuur is 42 grade Celsius en ek dood behoorlik van die hitte.

Na 35 minute bereik ek my bestemming: Seaford is die area, so 2km vanaf die see. Hier word mens toegelaat om jou kar op die strand te parkeer en te “barby”. Daar is regtig hordes mense op die strand wat dit doen! Die water is warm en die see is baie stil. Ek bly saam met ’n paartjie in hul huis, my kamer is netjies en ons deel ’n badkamer. Peter is ‘n Aussie en sy vrou is van Bali. Sy maak lekker warm Indonesiese kos.

 

Dinsdag 1 Februarie 2011

Hier sit ek nou en more begin  ek werk, ek is baie opgewonde, my wynervaring begin. Ek het die mees diverse groep mense ontmoet, ek het ongelooflik lekker gekuier en die beste van alles is die ongelooflike kontakte wat ek opgebou het van reg oor die wêreld. Dit is verseker goud werd.

Na ’n week van Australië is ek al klaar soveel ryker en deel van die rykdom is die kontakte. Ek kan nou soveel plekke reg oor die wêreld besoek waar ek iemand sal ken, dit is rykdom.

Ek kan net dink wat ’n jaar van toer oor die wêreld vir my sal doen! Na ’n week kan ek verseker se dit is die moeite werd. Ek kan nie help om te dink aan die wyse woorde van Richard Brandson nie: Om sukses te behaal moet jy kanse vat, moet jy kanse vat, en nog kanse vat- terwyl jou verantwoordelikhede nog min is…

Cheers mate!!!!

Chris Swanepoel

D’Arenburg , Mclaeren vallei, Aussie

 

 

  • J

    Dit klink vir my na die lewe vir enige jong mens wat na die uitdagings van die lewe soek. Boonop kan hy skryf met passie. Mooi man.

  • Janette Wiehahn

    Kan nie meer wag vir jou volgende storie. Dit is asof ek saam met jou reis. JANETTE

  • http://janetmalherbe.webs.com Janet Malherbe

    Klink na ‘n wonderlike ervaring, geniet dit en maak die beste daarvan!

  • Rene Barbarossa

    Lyk my jy beleef net lekker dinge en die wyn van oral het maar n lekker skop!!!

  • Niel R

    Ag, dis nie so cool nie, ek bly in Brakpan en ons gaan elke naweek Kuilsrivier toe. Daar is soveel meer om te sien en doen. Maar ek moet bieg, dit lekker om ‘n wynmaker te wees!

  • Jeannerie

    Goeie genugtig!Die man klink vir my soos familie!Pasop net vir die Aussies,mate!Ek geniet jou brokkies en wens jou alle voorsped toe op jou reis.Matigheid voor oe!Zampram

  • Jana

    Sal zamp*** nou so mooi, heel eerste kommentaar lewer! Klink fantasties na familie! So trots.

  • Cecile

    Chris, jy raak nou n pionier.Ek is seker hierdie ervaring sal seker maak dat jou lewe altyd interessant en opwindend sal bly, iets waarna ons almal soek!

  • M van Kaapstad

    Besonderse passie, besonderse ervaring, besonderse skryftalend als verpak in so n jong siel! Verjong ons siele en ons volg jou reis met n passie,,, Dankie!

  • Riette Welgemoed

    Ek kyk daagliks op die netwerk vir jou volgende skrywe, wanneer kan ons dit weer leer te lese kry..? Sien uit na jou New Zealand ondervindinge. Blykbaar die mooiste land onder die son!