Diverse

O, Parys

Soos alle wêreldstede het Parys sy skitterkant en sy donker kant. Toe ek nog baie jonk was, het die kunstenaarsplein van die Montmartre my getrek soos die soet ingelegde perskes in my ma se spens in my peuterjare. (Ek het myself uit elke bottel gehelp en dit weer toegedraai. Ma kon nie verstaan waarom haar perskes aan die gis gegaan het nie.)

Ek het die laaste paar jaar gedink dat Parys soos daardie ingelegde perskes was: Dat dit in my gedagtes begin gis het. Maar toe gaan ek weer. Dié keer was ek glad nie eens naby die Montmartre nie. Ons het ’n klein hotel aan die linkeroewer van die Seine gekry en die moltrein vanaf Charles de Gaulle reguit soontoe gevat. En by ’n verkeerde stasie afgeklim, al slepende aan ons tasse. Toe ek in die sonskyn kom, kyk ek regs en daar staan en glimmer die manjifieke Notre Dame-katedraal in die helder lig van die Franse laatsomer. Mense het al die sitplekke by ’n sypaadjie-restaurant volgesit. Ek was waar ek wóú wees.

Dit was die eerste keer dat ek Parys vanaf die linkeroewer van die Seine sou beleef. Hulle praat ook van die Latynse buurt, omdat dit die plek is van die beroemde Sorbonne-universiteit waar studente en professore met mekaar Latyn gepraat het. Dis ’n buurt van alle soorte winkeltjies en stalletjies in die boulevards en klein straatjies.

Op só ’n besoek begin ’n mens eers agterkom hoe die Engelse ons verfomfaai het deur ons te laat glo dat hul kultuur die oorheersende een is. Wanneer ’n mens in daardie oord van Parys by die standbeelde van digters en skrywers verbyloop, besef jy dat ons – die meeste met Hugenote-voorsate – ’n stuk kultuur iewers langs die pad verloor het. Het Shakespeare byvoorbeeld beter sonnette geskryf as Ronsard? Is daar ’n Engelse essayis te vergelyk met Montaigne? En wat van Victor Hugo (van Les Misérables-faam), wat in die Panthéon begrawe is?

Op die Seine het die bote vrolik op en af gevaar. Voor die Notre Dame was daar feitlik gedurig ’n tou mense, maar dié wat wou gaan bid, is deurgewuif. Die dienste was plegtig, met die aartsbiskop in wit by die hoogaltaar. Skelms is daar ook: ’n Vrou het probeer om aan my ’n groot goue ring te verkoop. Ek het geweier. Gelukkig, want ’n sjiek Franse polisievrou het nader gestaan en my gewaarsku om nie eens met dié mense te praat nie. En te voel waar my beursie is.

In die Champs-Elysées (nou wel nie op die linkeroewer nie) – die inkopiestraat waar die euro’s asof in ’n koor vir jou tot siens sing – het ek die lekkerste kaasburger geëet wat ek nóg geproe het: die broodjie van die sagste lae pasteikors en die vleis asof dit so in die broodjie smelt. Natuurlik moet ’n mens ook daar iets koop om saam te neem: In my geval ’n ligte magenta trui wat nou in die kas sy kans vir die herfs afwag.

Maar die groot genade is om net op die linkeroewer rond te wandel. Ek het soms gaan staan en my aan ’n gebou verwonder, en aan die uitleg van ’n straat. Van die Panthéon-plein sprei die strate soos ’n waaier uit, en al die geboue vorm ’n patroon wat op sy eie ’n kunswerk is.

Ek wens ek het so ’n klein woonstel aan die Seine gehad, met plantjies in potte op die balkon, naby die Notre Dame. Ek sou my dae daar omgesit het en gekyk het tot op die heuwel van Montmartre. Ek sou ’n sonnet in Frans probeer skryf het. Ek sou gereeld gaan loer het wat by die Sorbonne aangaan en Frans vlot leer praat het.

Dis of alles – kos, rivier, straatjies, bouwerk, Sorbonne, Notre Dame – ’n soort eenheid word, van die aardse tot die ewige. Ja, ek sou graag hier wou leef, in die stad waar die roosvenster in die Notre Dame (vir my waarskynlik een van die mooiste kunswerke diékant van die ewigheid) jou daaraan herinner dat die wêreld wat kom ’n sekere onvervangbare kwaliteit moet hê.

Anders, hoe verklaar jy Parys?