Diverse

Ons is goeie mense, ons Suid-Afrikaners. Niks sal my anders laat dink nie.

Dít ondanks dekades van skreiende ongelykheid en verdrukking. Dít teen spyte van teenspoed – van misdaad tot Manto en Eskom – wat ons die laaste jare so treiter en onmeetbare misnoeë en hartseer besorg.

’n Paar jaar gelede loop ek af in Londen se Oxford Street. Dis die besigste straat in Europa – ’n inkopie-mekka vir enigiets van modes tot meubels. Almal stamp en stoot en beur vorentoe, en Londen se bekende rooi busse brul by ons verby. Hier maak niemand oogkontak nie – almal kyk net-net by jou verby. Almal vreemdelinge van elke uithoek van die wêreld op pad na êrens.

Ek sien ’n man met ’n netjiese grys pak en grys hare van voor aankom. Hy kyk vir my, en ek groet met ’n glimlag – soos ons in Suid-Afrika maak – en stap verby. Twee blokke verder tik iemand my onverwags op die skouer. Ek draai om en sien dis die man met die grys pak. “Jy’s nie van hier nie,” begin hy, “want in Londen groet mense nie. Hier glimlag mense lánk nie meer nie.” Hy wil weet waarvandaan ek kom, en dan sê hy dankie dat ek gegroet het, ook vir die glimlag. Dit het sy dag gemaak en hy wou dit vir my kom sê. En daarmee verdwyn hy weer tussen die malende massa.

Ek het ’n ruk op die sypaadjie bly staan. Want wat ons nog in SA as vanselfsprekend aanvaar, die warmte wat ons vir mekaar koester ondanks al ons probleme en verskille, kry jy nie meer in baie ander dele van die wêreld nie. Dáár is ’n glimlag tussen vreemdelinge só onverwags dat die gryspak-man teruggehardloop het om dit vir my te kom sê.

Hier ís dit anders. In Suid-Afrika sal ons die vrou agter die geldlaai in die supermark groet en ’n vinnige geselsie aanknoop, al is die winkel hoe besig. Hier is dit nie vreemd nie as die veiligheidswag saans op sy rondes vir my sê: “Naand, Mevrou, dis goed om jou weer te sien” en ek in alle eerlikheid die kompliment teruggee. Laat staan mense hier in ’n tou en so tussen die onderlangse gebrom deur deel hulle ’n storie en vir seker ’n grap of twee. Hier probeer die meeste mense eers ’n plan maak voordat hulle kla. Dís hoe buitelanders ons ken – warm, gemoedelike, vriendelike mense. Dís immers hoe ons onsself ken.

Die reënboognasie …

Die vreemdelingehaat wat ons die afgelope weke in ons land sien, is nie deel van dié prentjie nie. Die wreedheid teenoor ons mede-Afrikane maak van ons vreemdelinge in ons eie land. Ek is – soos jy – skaam, hartseer en ontnugter, maar nooit sal ek gló dat dít die ware hart van die Suid-Afrikaner is nie. Niemand sal my oortuig dat dié haatlike onverdraagsaamheid deel is van die siel van hierdie land nie. Ek sien ons land in die gewone Suid-Afrikaners wat nou hul hart vir derduisende ontredderde mense landwyd oopmaak. Wat met ubuntu hul tyd, besittings, geld en gebede géé om weerlose mans, vroue en kinders te help.

Wat hou ons toekoms in? Want volgehoue armoede en wanhoop dryf mense na ongekende, donker plekke. ’n Regering wat bly misluk om sy beloftes na te kom lei tot wanhoop en versplinterde drome, en maak slagoffers van gewone mense. Dit ontneem hulle hul menswaardigheid.

Ons hoop lê in óns – in elke man en vrou – se medemenslikheid. In ons verdraagsaamheid teenoor mekaar – ’n les wat ons ons kinders moet blý leer. Elke dag. Ons hoop lê in ’n onverwagse glimlag wat sê: Ek erken jou; ek respekteer jou.

Michélle van Breda

SARIE  Julie 2008