Diverse

Onthou-bui

Toe verskyn Jaap Steyn se boek Sonkyker en ek kon dit nie neersit nie. Baie gebruike en insidente waarvan hy vertel, kon ek as ’t ware weer saam met hom beleef. Dit was ons wêreld, ons wat kort ná die Depressie gebore is, wat aaklige armoede gesien het (die nadraai van die Armblanke-vraagstuk), en self in huise grootgeword het waar met alles spaarsaam en meet en pas gewerk is.

Louise (Haas Das) se pa was hoof van ’n laerskool in ’n armoedige deel van die Paarl. My pa was ’n wynman in ’n tyd toe wyn nie juis snobmode was nie. Jaap se pa het geboer op ’n swak plasie wat hy geraap en skraap het om te betaal.

Nogtans: Louise vertel hoe haar pa hul hele gesin per trein Maynardville (die bekende opelugteater in Wynberg) toe geneem het vir Shakespeare-opvoerings. Haar pa het hulle voor die tyd eers die trant van die drama vertel. Haar ma het ’n mandjie kos gepak en hulle het lekker geëet en gekyk om daarna weer op die trein te klim terug huis toe.

Ek en Ma is ook soms per trein Kaap toe vir een van die “shows” in die Alhambra, die mooiste, feetjie-agtigste teater wat ek nóg gesien het, al is dit lankal stof. Daar het ek Claudio Arrau hoor klavier speel, Louis Kentner en Gina Bachauer. Op daardie verhoog het ek Jussi Björling hoor sing en Erna Zack. Of vertonings gesien soos Annie Get Your Gun en The Wizard of Oz.

Sulke uitstappies was luukses. Ma het toebroodjies en koue hoender ingepak, wat ons in die Tuine gaan eet het. Koffie is uit ’n fles geskink. En soms vir ’n ware “treat” is ons vir tee en koek na die Delmonico, destyds se restaurant met styl waar die groot waaiers teen die dak gedraai het. Daar was van my maats wat in standerd vyf nog nooit in die Kaap was nie. In die Paarl is ’n OK Bazaar gebou en die storie het die ronde gedoen dat elke kind wat vir die eerste keer daar kom, verniet ’n Coke kon kry. Ek en my skoolmaats is soontoe en het rondgestaan en gewag. Ons wag nou nog. Op ’n ander dag het ’n maat my soontoe gevat, trots om sy suster te sien wat pas ’n “groot jop” by die OK gekry het. Mooi in ’n wit uniform het sy by die “toiletries” gewerk. Hy het my vertel sy werk by die “toilet”.

In ons gesprek het Louise opgemerk: “Jy weet, ons het in omstandighede geleef wat fyn beplan gekos het, maar eintlik fantasties was. Ons het in vandag se terme niks gehad nie, veral nie ons ouers nie, want hulle was nie materialisties nie, maar ons het álles gehad: liefde, versorging, lekker gewone kos, tyd vir die kunste: klavier, blokfluit, viool. Ouers wat omgegee het en wat ons gedryf het ons moet léér en baie lees. Hulle het hul eie lewens in ons belê.”

Ek het eendag by Louise in Johannesburg ingeloer en haar ma (pas ’n weduwee) het in die sitkamer gesit (sy en my ma was groot vriendinne). Ek het gevra hoe dit gaan. Sy het blymoedig gegroet dat dit goed gaan, maar haar oë het in Louise se pragtige huis rondbeweeg. Sy het saggies gefluister-sê: “Maar ek hou nie van al dié weelde nie . . .”

Dit was hulle geslag. Trotse mense wat nie deur besittings beïndruk is nie. Die beroemde Henry Thoreau het op ’n dag besluit om vir ’n tyd lank in die bosse by Concord, Massachusetts, te gaan woon: “Simplify!” was sy motto. “Simplify!” Nie heeltemal sonder wysheid nie.

’n Ruk gelede het ’n jong professionele man by my gespog met sy ghrênd selfoon wat alles kan doen. Onlangs vertel hy my dat hy so met dié foon gesukkel het – kort-kort breek iets – dat hy dit eenkant gesmyt het. Nou is ’n “cheapie” goed genoeg. Dalk is hy iets aan die leer van Thoreau, Jaap, Louise, ons voorouers en kie.

Terwyl ek skryf, het ek iets gaan nalees in Jeremia 22:15. Die profeet vra vir die spoggerige koning wat sy paleis met sederhoutpanele versier: “Maak dit van jou ’n koning omdat jy wedywer in sederhout? Het jou vader nie geëet en gedrink en reg en geregtigheid gedoen nie?” (OV.) Wyle Elise Müller, destyds bekende kortverhaalskrywer, het my nog hierop gewys. Maar gaan lees maar self.

En dink saam met my . . . so in my onthou-bui.