Diverse

Oor Oktober

Daarbuite wys die wêreld sy nuwe lentegroene soos wintervoos bome en plante weer lewe kry. Nóú is die tyd dat jakarandas tapyte van pers oor die teerstrate gooi, en so ’n sweempie jasmyn in die lug hang. Net om ons te herinner dat winter finaal sy vertrek neem.

Dit ís die mooiste, mooiste tyd.

Maar ook ’n moeilike tyd. Nou nie dat ek die mooi seisoen die skuld wil gee nie. Dis net dat allerhande weerlooshede en vrae en hartseer hulle nog altyd in dié maande van die jaar by my kom tuismaak het.

Dis deur my oorsensitiewe September/Oktober-“oë” dat ek die wêreld die laaste paar weke so bekyk . . .

Sê “Caster Semenya” en jy ervaar ’n gevoel van ongeloof en ontnugtering. Tot nou die dag was sy die onbekende atleet wat in die stof van verafgeleë Limpopo grootgeword het. Daar waar sy water aangedra en vuurhout bymekaargemaak en teen vooroordele baklei het. Maar sy kon hardloop soos die wind. Daardie einste stofpaadjies van Masehlong was haar oefenplek. Toe gaan staan en wen sy goud vir SA in die 800 m by die Wêreldatletiekbyeenkoms in Berlyn – in die vinnigste tyd nóg vanjaar! Sy het die wedloop van haar lewe gehardloop en die Afrika-stof in die oë van haar mededingers geskop. In haar glorierykste oomblik het sy egter ongemaklik op die wen-podium gestaan, en selfbewus die woorde van ons volkslied geprewel. In die kollig, ja, maar nie oor haar buitengewone talent as atleet nie – eerder oor wie én wat sy is.

Ongevoelig. Onaanvaarbaar. Hoe anders bestempel ons die ontydige vrae oor die geslag van die jong Semenya? Wat maak ons van die uitlek van die nuus aan die wêreldpers, ure voor haar wedloop, dat sy onderwerp is aan geslagtoetse. Hoe verduidelik ons vir haar dat sy nou in haar eie land ’n politieke speelbal geword het?

Die dood van die seun van SARIE se vorige redakteur, Lizette Rabe, in die lente van sy lewe, is seer.’n Skrander, beskeie jong man met planne en verwagtinge vir sy toekoms. By SARIE weet ons Lizette se kinders is haar álles. Hoe troos ons ’n ma wat ’n kind verloor, ’n pa wat ’n seun aan die dood afstaan en broers wat ’n sielsmaat verloor?

Hoe gemaak met die vrae in hul gemoed?

In hierdie dae val my oog op die mooi Moments in Time-kalender op my lessenaar. Dertien foto’s van 13 mense – mans, vroue, dogtertjies en seuntjies – wat almal met kanker leef. Dis nie hul siekte wat hulle bymekaartrek nie, eerder hul stories van moed en geloof. Elke foto vertel ’n eenvoudige verhaal van net nooit opgee nie.

Viktor Frankl, die bekende Oostenrykse filosoof, het ons juis geleer ons het altyd ’n keuse. Ons kan besluit wat om met elke omstandigheid en gebeurtenis te maak. Maklik is dit nie, want dikwels voel ons ons het geen beheer oor ons eie heil nie.

Dat die lewe ons genadeloos rondgooi en emosioneel verrinneweer.

Maar die menslike aard is lewenskragtig. Dít weet ons. In ons grootste teenspoed vind ons altyd weer hoop, en in ons weerloosste oomblik ontdek ons altyd weer innerlike krag. Ek dink aan Tallie, ons anonieme blogger op sarie.com. Met ’n man wat sy werk (en sy selfvertroue!) verloor het, beur hulle om finansieel en emosioneel staande te bly. Sy pak haar stryd met eerlikheid aan – sy voel sleg as sy wil en lig haar kop op as sy kan.

Só ervaar ons almal ons September/Oktobers. Dís die lewe, en ons dra sy letsels. Maar daar’s ook altyd ’n môre, en daardie reis vat ons dag vir dag.
Mét die wete dat ons veel sterker is as wat ons ooit kan dink . . .