Diverse

Op ’n koppie midde-in die dorp het ‘n alleen-kers elke jaar tydens die feestyd helder geflikker.

Vir ’n plattelandse kind soos ek, wat skaars straatligte geken het, was hierdie vonkelende liggies deel van die betowering van ons Kersfees elke jaar op Hermanus.

Nou die aand verlaat ek my kantoor aan die onderpunt van Adderleystraat in Kaapstad, en skielik is daar lig! ’n See van rooi, groen, geel en goud. Die stad se Kersligte is die vorige aand aangeskakel en in ’n oogwink is die straat in ’n sprokieswêreld omtower.

Die versoeking is groot, en ek val saam met honderde ander bewonderaars in die ry en kruie-kruie op deur die stad. Reënboogkleure weerkaats van lamppale en span feestelik oor die straat. Van die straatligte dans verskietende sterre, en voor my flits ’n tablo van Kaapstad met mooi Tafelberg in rooi op die agtergrond.

Ek herken die Wyse Manne, engele met trompette en duiwe met louriertakkies. Daar’s Maria op haar donkie, Josef getrou langs haar en baba Jesus in ’n gloed van goue liggies. Daar’s Afrika in gloeiende proteas, kameelperde, walvisse en seekoeie. Daar’s Vader Krismis, perfek met sy welige baard en lyf gesellig rond. Daar is sakke gevul met geskenke, Kersfees-klokkies en sneeuvlokkies. En heel bo in Adderleystraat staan ’n alleen-Kersboom – ’n massa skitterwit liggies.

Dis ’n stil somersaand en mense klim uit hul motors en neem foto’s, sommer so straat-af. Almal betower deur hierdie ligte wat die feesgety aankondig en elk ’n storie vertel.

Ek voel soos ’n kind en besluit om Adderleystraat weer van bo tot onder te ry. En toe herken ek hom – die vriendelike, grasgroen Kers-krokodil. Die een wat sy reuse-kake stadig oopmaak om die fynste voëltjie vry te laat. Ek onthou meteens die aand ’n hele paar jaar gelede toe ek en my ma my suster se rooikopseuntjie, Nicolas, op sy eerste safari van Kersliggies geneem het. Tóé was ons ook soos kinders – opgewonde om hierdie pret te deel met ’n driejarige seuntjie. Ons het beduie en gewys en gepraat. Nicolas het met groot oë in alle rigtings gekyk, en elke nou en dan met ’n vingertjie in die lig sin probeer maak van die see van ligte bokant hom.

Op en af, om en om het ons gery. Die Kers-krokodil was my en my ma se gunsteling. Teen die vierde keer dat ons by die gedierte verbygery en hom in ’n gretige koor aan Nicolas uitgewys het, het hy eenvoudig geantwoord: Ek mis my ma! Ons het verbaas omgekyk en ’n bleek gesiggie gesien wat duidelik moeg was vir die stad se blink liggies. Die opwinding was verby. Huis was waar hy wou wees!

Is daar in hierdie eenvoudige storietjie nie ’n waardevolle lewenswaarheid nie? Die lewe is vol blink ligte en polsende ritmes. Die nuwe jaar sal gevul wees met opwinding, geleenthede en uitdagings wat ons betower, en ja, ook verlei. Daar sal tye wees dat die gras (of vriendelike groen krokodil!) aan die ander kant groener en vriendeliker lyk; die liggies blinker. Ons sal ander weë verken, ander mense, selfs ander lande leer ken.

Maar dit kan nooit die waarde van familie en goeie vriende – die koestering van huis – vervang nie. Want dít is waar ons warmte en troos soek wanneer die wêreld ons op ’n rondomtalie-rit neem – om en om. Dít is waar ons gerusstelling en begrip vind wanneer die lewe se blink begin taan.

Michélle van Breda

SARIE Januarie 2007