Diverse

Oral praat Suid-Afrikaners oor een ding: Eskom en daai ding met ons krag.

Beurtkrag.

Wat ’n onaangename Nuwejaarsboodskap vir Suid-Afrika. Wat ’n flou, askies-woord vir ’n nasionale katastrofe. Net toe ons begin regmaak vir ’n taai 2008 met pryse en rentekoerse wat nog kan styg, sê Eskom ons sal dit alles in kerslig moet doen. Ons kan ons klaarmaak vir ’n páár jaar in skemerland.

Ek is, soos ongetwyfeld alle Suid-Afrikaners, ontnugter. Want hierdie is die hoogtepunt van onbevoegdheid. Die Sunday Times se voorbladberig skreeu: Guilty! The bright sparks behind our plunge into darkness, en ekonoom Dawie Roodt waarsku in By (Beeld, Die Burger en Volksblad) as hierdie ramp nie reg bestuur word nie, kan dit SA meer skade aandoen as die sanksies van destyds.

Stadig maar seker begin die werklikheid insink. Ons myne wat steier, hospitale wat struikel, besighede wat stoei, werkers wat ons dalk sal moet besnoei. Die euforie van die Wêreldbekerrugby is vergete; 2010 se Wêreldbekersokker lyk meteens ontstellend ver.

Inbellers op Radio 702/Cape Talk se versugting (aanvanklik) dat dit weer intiem en romanties is om by kerslig te eet, is onvanpas oppervlakkig wanneer ’n Pretoriase restaurateur laat weet hy gooi daagliks derduisende rande se kos weg, en dat 11 restaurants binnekort in die Jakarandastad sal sluit. Na aan duisend mense sit in die donkerte op Tafelberg vasgekeer, onder hulle oorsese toeriste, en die kabelkarretjie wieg tussen hemel en aarde.

Ek onthou ’n middagete, ’n paar jaar gelede, wat ’n handvol redakteurs met die destydse adjunkminister van minerale en energie, me. Lulu Xingwana, gehad het. Sy het so skrams verwys na ’n Kaapse kragprobleem en die term “brown out” gebruik. Al wat ek van “brown outs” geweet het, was wat vriende en kollegas my vertel het ná besoeke aan Afrika-stede.

Min het ons tóé besef hoe groot hierdie penarie, nie net vir die Kaap nie, maar vir die hele land sou wees.

So, nou het ons ’n probleem. ’n Grote. Ons is kwaad en mismoedig. En ons voel magteloos. Ek dink dís wat my die meeste vang. Daardie magteloosheid. Die man en vrou op straat wat wéér die slagoffer is, en ’n plan moet maak.

Maar almal van ons wat al voorheen hiérdie emosie ervaar het, wat al in ons lewe ’n slagoffer was, weet die beste antwoord is: Maak ’n plan. Gaan oor tot aksie. Enige aksie.

Want hoewel ons magteloos voel oor ’n deel van ons daaglikse lewe, beteken dit nie ons het nie mag oor die res nie. Nou’s die tyd om ons dae en ons dinge so goed moontlik te orden sodat ons net weer êrens in beheer voel. Net weer iewers die hef in die hand het. (Ek pak nou sommer kaste reg en het sowaar weer begin oefen!) En dan saam met die res van SA ons deel te doen om hierdie krisis te help verlig – ons 10 persent krag te spaar, soos die regering vra. Eintlik het ons nie ’n keuse nie. Hier waar ek laatnag in Adderleystraat afkyk, brand in baie geboue reeds net ’n paar ligte. Dis ’n begin.

Ons wéét uit ondervinding uit elke krisis vloei die kreatiwitieit. Die spreekwoord lui nie verniet ’n boer maak ’n plan nie. Swaar gaan ons by tye kry, maar saam-saam sál ons met die kreatiewe, werkbare antwoorde vorendag kom. Ons is mekaar se behoud.

Michélle van Breda

SARIE Maart 2008