Diverse

Ou goeters

Daar hang hemde in my kas wat ek doerie jare ’n paar maal aangehad het en toe nooit weer nie. Maar elke keer wanneer ek hulle wil uithaal om in die mandjie te gooi vir die huisloses en die hopeloses, aarsel ek en los hulle net daar op die hangers. Nie van suinigheid nie, nee: Ek haal heel maklik geld uit my beursie vir die hongeres en hompiekedompie-lopers. Dis ’n soort sentimentaliteit én ’n soort simpelgeit.

Jare gelede het ek ’n sporthemp (nogal met ’n skeepstuurwiel op) present gekry – ’n hemp met sulke rooi, blou en wit blokke. Die stuurwiel-wapen hang nou aan drade (ek wil ook nie hê dit moet reggemaak word nie). Die blokke trek los van mekaar, die skifplekke is stadig besig om gate te word – maar ek slaap nog elke somer in my hempie. Party oggende gaan ek sommer met my slaaphemp (wat eens ’n ghrênd hemp was) na die Mall toe. (En niemand kyk of lewer kommentaar nie.)

Iemand in hierdie huis het my geliefde paar flenterjeans op ’n dag net laat wegraak. Met daardie jeans het ek huis geverf, op die dak en in die stof van die kelder rondgekrap en onder my kar gewerk: Lekker oliekolle op en alle kleure verf wat geen skoonmaakmiddel kon uitkry nie. Dit was juis die aantreklikheid. Ek treur nou nog oor my vuil flenterjeans.

Daar was ook ’n paar skoene wat ek lank gelede in Rosebank gekoop en by die vrou wat dit aangedra het, gekla het dat dit te duur is. Sy het die skoene (lieflike leer, sag gevoering, nommerpas vir my wie se een voet effens groter as die ander is) onder my neus bly hou en gesê: “Koop dit. Ek belowe jou jy sal nie gou weer sulke skoene koop nie en jy sal nooit spyt wees nie.”

Met daardie skoene het ek ’n paar stede platgeloop, insluitende die yskoue Moskou, waar die vrieskoue van die teer af opkom. Soms het ek hulle deeglik geïnspekteer en my verwonder aan die pragtige leer, sonder barsies of iets. Maar op ’n dag het die rubbersool van die regtervoet middeldeur gebreek. Ek is na ’n skoenmaker en hy het net sy kop geskud: Hy kon daar niks aan doen nie. Ek is na die skoenwinkel toe en die vrou het gesê dié skoene word nie meer gemaak nie. Ek het dit lank, stukkend, in my kas laat staan. En toe uiteindelik hartseer uitgegooi.

Soos ek soms hartseer is oor ander dinge wat weggeraak het, of wat ek weggegooi het. Wat het byvoorbeeld geword van die afdruk van Hoop wat op haar harp speel teen die agtergrond van ’n stormsee – die Hoop wat in my ma-hulle se slaapkamer gehang het? Wat het geword van my pa se Berlynse dagboekie? Hoekom het ek my Boekie vir Piet (klein opstelle oor wyle Piet Cillié) aan iemand geleen – ’n spesiaal gedrukte eksemplaar nommer 8?

Aan die ander kant: Die dag toe ek by die koerant weg is, het ek en my sekretaresse my lessenaar (oorlaai, deurmekaar, eintlik liederlik onnet) skoongemaak. Ons het bokse vol papiere opgeskeur en weggedra. Uiteindelik was die tafel skoon, laaie en al. En wat het ek eenkant gesit om saam huis toe te neem vir my “versameling”?

Niks. ’n Mens gaar op en jy dink dis uiters belangrik dat dit op jou tafel bly, of jy stel uit om ’n brief te beantwoord en naderhand is dit nie meer ter sake nie, of die meeste dinge het eintlik nie besondere waarde nie. Behalwe natuurlik vir die mense en goeters waaraan jy emosioneel begin vasklou, soos die bure se seuntjie wat eenmaal sy klein “slaapkombersie” by ons kom soek het. Sy pa was erg dankbaar toe ons dit onder ’n stoel kry. Daarsonder sou hy glo nie slaap nie. Dalk bly ’n mens ’n kind oor sekere goed.

Of dalk besef jy dat sommige dinge vir jou besonders word, soos die liefde vir sekere mense. En vir God: Hoe meer jy die Here probeer dien, hoe meer word dit deel van jou. Net: Dié liefde breek nie soos my ou paar skoene nie. En die res is eintlik maar papiere op ’n deurmekaar lessenaar.