Diverse

Parfuum bly ‘n reis deur die verlede.

Elke tyd het sy geur.

Net onlangs met ’n besoek aan Londen beland ek by die parfuumhuis Jo Malone.

Dis somer, tog is die dag koud en grys. Maar die winkel is gevul met warm geure wat met my emosies speel. Hier gaan dit oor die kreatiewe kombinasie van geure – hemelse mengsels van romantiese blomme, sensuele vrugte en eksotiese kruie. Voor my staan 19 botteltjies, elk met ’n eie aroma en kleurryke storie. My hart spring toe ek wildevy en cassis (die wonderlike ekstrak van swartbessie) ruik. Daardie geur kén ek!

As kind het ek met ’n vyeboom in die agtertuin grootgeword. Ek het daardie vrugte rypgebid, en smiddae ná skool sommer met skoolklere en al in die boom geklim om die stroopsoet vye te pluk. By my ouma op Hermanus het ons elke jaar klein, groen vytjies ingelê en saam met botter en vars bruinbrood geëet. Toe ek in Sicilië was, het my neus my op markdag reguit gelei na die tafel met die houtbakke gevul met my gunsteling-vrug, en het ek net daar op die sypaadjie gaan sit om ’n kardoesvol rooi, heuningsoet vye saam met dun skywe parmesaankaas te eet.

En toe ruik ek die bottel wit jasmyn en kruisement. Soos die ster-jasmyn wat in Johannesburg teen die kant van my stoep oprank en gul blom. Soggens ruik die fyn, wit blommetjies vars soos lente, in die middaghitte syfer die soet geur deur elke deur en venster, maar dis saans dat jasmyn sy ware hart wys. Dan hang die blomme swaar aan hul takke en vul die hele tuin met ’n duiselende, eksotiese parfuum.

Maar jasmyn laat my ook giggel. Op universiteit het ek ’n paar rand afgeknyp om vir my ’n ordentlike parfuum te koop. Met my eerste formele dansparty bedek ek my toe in ’n mis van jasmyngeur – my aandrok, my hare. Teen tienuur die aand was my aandpakmetgesel ’n skadu van sy ou flambojante self. Met dik, geswelde oë en ’n rooi, jeukende neus kon hy skaars asemhaal. Als die jasmyn se skuld! Vir hom het ek nie weer gesien nie.

Maar die parfuum was jare lank my sielsgenoot.

En toe, net so skrams, ruik ek die sitrus in die bottel Lime Basil & Mandarin. Suurlemoen soos Jack, ons Jack Russell, daarvan gehou het. Skerp en vars soos ’n sagte winterreën. Suurlemoentyd het hy onder die bome in die tuin geboer en die goudgeel vrugte uit die takke gespring. Wanneer hulle te hoog geraak het, het hy moedeloos onder die boom getjank of in die boom geklouter op soek na die vrug wat hom ontwyk. Dan het hy sy vonds versigtig afgeskil en met oë styf toegeknyp die surigheid stukkie vir stukkie opgeëet. Wintertyd het Jack nooit soos hond geruik nie – nee, eerder pure suurlemoenbloeisel.

Die vrou agter die toonbank vra my watter plantegeur sinoniem met Suid-Afrika is. Fynbos, sê ek. Fynbos wat ons manjifieke berge, valleie en kuslyn soos ’n kosbare tapyt bedek. Fynbos, wat die kleinste, maar rykste planteryk in die wêreld is. Wat sterk ruik soos veld in die warm somermaande, en soos ’n vars kweekhuis in die koue, nat maande.

’n Unieke, gerusstellende reuk. Tóé verlang ek huis toe. Elke plek hét mos sy geur.

Michélle van Breda

SARIE  Augustus 2008