sep06izak9
Diverse

Prysuitdeling

Alles baie feestelik met Nataniël (van SARIE se Kaalkop-faam), wat een van die seremoniemeesters was, en André le Roux (van Op die vrou af-faam) en sy vrou langs my aan tafel. By die ghrênd ete het kameras geflits, bekendes geposeer, bekroondes geglimlag, geselskap gedreun, verloorders beleefd gebuig, kelners rondgehol, en die prysuitdeler blad geskud met mense wat hy van g’n kant ken nie, arme vent.

Dit was ’n aand van die literati en glitterati, ’n wêreld wat ek al ’n paar jaar gelede gegroet het, maar weer onverwags kon beleef. Niks het eintlik verander nie. Ek het geesdriftig saam gesels (hoe anders?), maar ook ’n speelse advertensie in ’n Engelse tydskrif onthou: “Katterigheid-poeier” (bitching powder). Wanneer die wêreld waarin jy jou bevind vervelig raak, kon jy volgens die advertensie glo ongemerk ’n knypie van die katterigheid-poeier rondstrooi en dan sit en dophou hoe die gaste vir mekaar begin knypies en krappies uitdeel.

Die poeier werk glo baie goed tussen ma’s by sportgeleenthede waar hul kinders deelneem, of tussen filosowe en predikante, of sportmense as hul span verloor. Maar die “advertensie” waarsku dat jy dit NOOIT by ’n byeenkoms van skrywers, uitgewers en literatore moet gebruik nie. Om nog dié poeier by die geleentheid te voeg sou hulle mekaar laat te lyf gaan.

Maar dié aand was alles mooi vrolik en stylvol en glans, en beskaafde, interessante gesels. Tog het ek sit en dink aan al die prysuitdelings wat ek al in my lewe bygewoon het, hoe ons in rye gestap het om ons Sondagskool-diplomas te kry waarop ons elke jaar ’n seël kon plak omdat ons die klasse getrou bygewoon het. Daarmee saam het ou Juffrou Bester ons nog elkeen ’n kaartjie ook gegee, een wat ek nou nog in my Bybel het. Haar les wat die grootste indruk op my 7-jarige gemoed gemaak het, was dat die hel sewe keer warmer is as die aarde. En “die aarde” was vir ons die Boland en veral Wellington waar die hoenders in die somer doodgebrand het. In my verbeelding het ek gesien hoe die hare skroei en die vere waai daar waar die ou duiwel met sy vurk die vuur stook. My Sondagskoolprys was ’n soort troos, ’n assuransie teen die vuur.

’n Mens wonder wat ou Juffrou Bester sou gesê het toe ek later meer as een Mej. Suid-Afrika in Sun City gekroon het en gesien het hoe die jong vroue in trane uitbars of voor die voet mense omhels en vertel hoe hulle van Suid-Afrika ’n beter plek wil help maak in die jaar van hul “bewind”. Sommige wat verloor het, het sommer dadelik die pad gevat. Ander het, wen of verloor, partytjie gehou tot die son opgekom het. Ek onthou veral vir Amy Kleinhans, hoe sy liggies gebewe het en na my hand gesoek het, die aand toe sy gewen het.

Ek was meer as een maal by toe Springbokspanne aangekondig is, met ou Dok Craven en al sy sêgoed: Hoe spelers gewag het dat hul name uitgelees word, of hulle die groen en goud sou dra. Ek het ’n groot rugbyvoorspeler, wat ek goed geken het, in ’n hoek sien trane afvee. Hy is nie gekies nie. Hy is nooit gekies nie. Ek het maar suutjies verbygeloop, seer om sy onthalwe.

By ’n SARIE-geleentheid het ek Franklin Sonn (toe nog onderwysman en ’n beoordelaar in SARIE se “Sterstudent”-wedstryd) meesterlik aan ’n ouerpaar hoor verduidelik hoekom hul seun nie gewen het nie, maar dat hulle op hom trots kon wees. Dalk was die ouers reg, want van die wenner het ons nooit weer gehoor nie, en ek het die wedstryd gestaak.

Maar die meeste van hierdie geleenthede was pret, soos die aand van die M-Net-pryse en die dae van uitdeel van Sondagskool-diplomas. Ek het lankal nie meer enige erg aan ou Juffrou Bester se stories van die hel nie, maar op ’n manier het sy gehelp om my respek vir God te leer – daarom bewaar ek haar kaartjie. En miskien is die Skepper se grootste prys hier die gawe van nuwe lewe, van ’n lente ná ’n winter – ook emosioneel en spiritueel, van bome wat bot langs die lanings, en ’n sagte gevoel hier binne dat jy bevoorreg is om dit weer te beleef.