Diverse

Rafael & kie

Vanmiddag het ek verwonderd sit en kyk na ’n kleurafdruk van sy beroemde skildery: Die engel Michiel oorweldig Satan. Dis ’n merkwaardige kunswerk, asof die engel self ’n kruis vorm. Sy/hy (want die engel het manlike én vroulike trekke) het groot vlerke, ’n lieflike vroulike gesig, sterk krygersbene en fris arms. (Daar word beweer dat elke engel ’n vroulike tweelingvlam van lewe het.) Met haar een voet staan sy op die duiwel se skouer. Hy lê plat, met sy gesig na onder, met vreemde blikkerige vlerkies, wat soos takbokhorings na bo steek. Rafael se Michiel het ’n groot spies in die hand, gereed vir die genadeslag tussen die blaaie van die bose. Die skildery is in 1518 voltooi.

En ek het by myself gewonder: Is die kunstenaarsverbeelding so onmoontlik? Waarvandaan het hy die inspirasie vir so ’n grootse werk gekry? Verbeelding alleen of was hy iemand wat gesigte gesien het?

Die engel Rafael, volgens Joodse en Christelike oorlewering, is self een van die voorstes in die koor, saam met Gabriël, Ariël en kie. Die skilder, weer, se ouers (sy pa was ’n onsuksesvolle skilder) het hom na dié engel genoem en die jong man het hemelse werk gelewer. Hy, wat in die laat vyftiende eeu gebore is, het maar slegs 37 jaar oud geword, maar het reeds die mense van sy tyd in ekstase gehad. Daar word vertel dat die pous bitterlik gehuil het toe hy van die jong man se dood gehoor het.

Nog ’n interessante feit is dat baie van die afbeeldings van kinderengeltjies waarskynlik tot ’n groot mate na Rafael teruggevoer kan word. Hy het twee pragtige stoute engeltjies met bolkiesies geskilder: Een wat met haar ken op haar hand leun soos Rodin se Denker en die ander wat met haar ken op gevoude arms lê. Hulle bekyk die wêreld.

Dit maak my half vrolik om die twee te bekyk: Daar is heiligheid, ondeundheid, nuuskierigheid en skoonheid in. My eie porselein-engel (slegs bolyf) wat hier voor my op my staanhorlosie sit, lyk soos Rafael se engeltjie nommer twee. Teen die muur het ek ’n wit engeltjie wat huppel. Op my rekenaar lê ’n silwer engeltjie met haar ken op haar hande, soos Rafael se nommer een.

Dink wat jy wil van my kitsch engeltjies, maar oor die kuns van Rafael en sy engele kan ’n mens kwalik stry.

Dis interessant dat die Renaissance-kunstenaars soveel engele uitgebeeld het. Dit was immers ’n tydperk van “hergeboorte”, van ’n herontdekking van die aarde en klassieke, van die verwondering aan skoonheid – skoonheid van die aardse en ewige. Die aardse het hulle met seker hale geskilder. Die ewige ook.

Het ons dalk in moderne tye iets verloor van hierdie vervlegting van ewige en aardse? Het Rafael en soveel ander kinderengele geskilder omdat kinders nog so naby aan hul oorsprong in die ewigheid is? Het die jong Rafael sy “sesde” sintuig behou om verder te kyk as die tasbare? Duidelik het hy aangevoel wat Wordsworth geskryf het: “Heaven lies about us in our infancy.”

Ek het hieraan gedink nadat ek onlangs ’n begrafnis gehou het. By die tee het ’n kleuter aan haar ma se arm gepluk en hardop gevra: “Mamma! Mamma! Het Mamma die engeltjies op Ouma se kis gesien? Hulle het seker toe vir Ouma kom haal?” (Ek het gegrinnik en padgegee voor die ma na my kant kon kyk vir ’n antwoord.) Soos Rafael die skilder het Rafael die engel glo ook ’n klomp kollegas. Daar is Michiel, die vegter en beskermer, die een wat die Satan so karnuffel. Daar is Gabriël, die krag en wysheid. Hierdie twee word in die Bybel genoem. En daar is Ariël, die engel van die aarde en van groei, en Zadkiël, beeld van geregtigheid. Jofiël staan ’n mens glo by met moed. Daar is glo nog ander en, natuurlik, die skares engele om die Troon.

Sou die engel Rafael die skilder Rafael gehelp het? (Rafael beteken “God maak lewe heel” of “God maak die siel heel”.) Help en beskerm engele ons? Dink gerus maar my kop word sag, maar ek glo dit. En, dalk soos jy, het ek dikwels heelmaak nodig.