Diverse

Ring van diamant

Maar mense wat werklik juweelkenners en liefhebbers is, of hou van kosbare of blink goed, sê die waarde lê dikwels in die sentiment wat jy vir sekere stene of armbande of halssnoere koester.

’n Tyd gelede het ’n vriendin van lange jare ’n werklike nagmerrie beleef. Ek onthou goed dat sy dikwels Sondae by die kerk ’n spesiale diamantring aan haar vinger gehad het, ’n geweldige knoets wat selfs my aandag getrek het: suiwer blouwit, en destyds al ’n fortuin werd. Sy het gespot en vertel dis haar pensioen vir haar oudag – nie heeltemal waar nie, want sy besit meer as genoeg. Sy ken die hele wêreld op die voornaam en reis ’n halfdosyn maal per jaar oorsee, indien nie meer nie.

Op ’n vlug van Johannesburg na Hongkong het haar diamant ring soek geraak, tesame met ’n Rolex-horlosie en ’n goue armband. Sy het dit eers agtergekom toe sy by Hongkong uit die vliegtuig klim. Toe het die drama begin: Daar is oral gesoek en navraag gedoen, sy het dae en nagte sit en tob in die hotel, en toe smartlik teruggevlieg. Die lugdiens het beloof om alles in die stryd te werp om haar ring te vind. Waar daar tuis te soek was, het sy gesoek.

Een goeie dag het sy gebel om my te kom spreek. Sy wou uitpraat oor haar ring soos ’n mens uitpraat oor ’n geliefde wat skielik dood is. Sy het hier gesit met haar oë wat “afvloei van die trane” soos die psalmis dit mooi digterlik beskryf. Sy kon nie ophou tob nie. Sy kon nie ophou soek nie. Sy kon nie ophou huil nie. Sy was by ’n dokter vir kalmeermedisyne. En sy was bitterlik ontevrede dat die lugdiens na haar oordeel nie genoeg ondersoek aan sy kant gedoen het om te kyk of die ring iewers gevind kon word nie. Sy het haar na ’n prokureur gewend om die lugdiens aan te por om te soek.

Só het dit weke lank aangehou totdat sy besluit het om maar in ’n ietwat beter stemming weer Hongkong toe te gaan. Dalk het sy gehoop dat sy die ring tog iewers in Hongkong sou raakloop. Voor haar vertrek gaan haal sy haar reiskoffer uit die garage. Sy begin inpak en haar hand raak skrams teen een van die reksakkies aan die binnekant van die tas. Sy voel iets hards. Toe sy kyk, is dit haar rooi leerbeursie met haar ring binne-in, plus haar Rolex en haar goue armband. Sy gebruik daardie sakkies “nooit nie” en kan glad nie onthou hoekom sy dit daar gaan sit het nie. Sy dans op die wolke nadat sy gister en eergister gedink het haar lewe het saam met haar diamant in die niet verdwyn.

Ek moet sê haar trane was vir my roerend, maar diep in my hart het ek gedog dis wêreldsgoed. Ek het mos gesê met juweliersware is ek onbeskaamd ’n barbaar.

Maar Jesus het ’n verfynde kyk op mooi goed gehad: Hy vertel van pêrels en skatte en ’n vrou wat tien muntstukke gehad het. Sekere vooraanstaande vroue van daardie tyd het goue muntstukke as juwele op hul bors gedra om te wys hoe ryk hulle was. (Niks verander eintlik nie.) Sy het seker soos my ou vriendin oor haar munt senu-instortings en angsaanvalle gehad.

En nou verstaan ek ewe skielik die volle betekenis van die gelykenis, hoekom die vrou féés gehou en haar vriendinne genooi het om saam met haar bly te wees. Die lesse uit hierdie moderne weergawe van Jesus se vertelling lê voor die hand. Moenie sommer bes gee of aan die grens gaan of beskuldig nie, ensovoort. Soek. Dink. Kalmeer. Vra hulp. Vier dit deeglik as jy iets moois terugkry. Indien nie, was dit aan jou geleen.

(Ek dink my ou vriendin is nog effe skaam oor die hele gedoente, maar dalk word ek nog genooi na ’n klein fesie. Ná sy die prokureur betaal het!)