j_sl
Diverse

SARIE, Kurt, Niekie, die Idols en die burgemeester

Toe Kurt Darren wegtrek met Loslappie begin die saal bewe van opwinding. Die gehoor klap saam en ook nie lank nie of ‘n paar staan op en begin heupe en arms swaai. Kurt loop sommer tussen die mense in en laat hulle oor die mikrofoon saamsing.

‘n Regte reënboog-oomblik by die burgemeester van Kaapstad se verwelkomingsparty Woensdagaand vir die land se nuwe parlementslede. ”Loslappie” is lékker- oor alle taal- en kultuurgrense heen.

Kurt vertel ”Loslappie” het nou ‘n Engelse weergawe. Hy moes dit verwerk vir Europese gehore en het ons ‘n ”peuselhappie” daarvan gegee. Baie beskaafd, effens nostalgies. Wys jou net hoe woorde en ritme ‘n liedjie kan verander.

En toe’s Jason en Sasha-Lee ook daar! Sy’s piepklein, selfs in haar stilettos. Hulle het weer die duet ”I finally found someone” gesing, nes daai Sondagaand oomblikke voordat ons op TV gehoor het Sasha-Lee het vanjaar Idols gewen. Maar, soos seremoniemeester Marc Lottering ook sê: Ons is ‘n unieke land. Ons het twee Idols.

Komediant Marc was soos gewoonlik op sy stukke daar op die Kunstekaap se verhoog. Hy het gewaarsku as ons skielik ‘n vrou met snaakse grimering en chopsticks in haar hare sien rondhol, is dit net een van die cast members van Madame Butterfly (tans daar opgevoer), wat op die verkeerde dag kom werk het!

Spaanse danse kan óók ver-Afrika word. Sit die dansers net in ‘n ry konkas en met die geluid van die hoëhakskoene in die drom is kastanjette heeltemal oorbodig. Voeg ‘n bokhoring, marimba- en Afrika-perkussie-klanke en die Cape Town Opera Ensemble by die program en jy’t ‘n partytjie wat skrik vir niks.

Diva Jennifer Jones, met haar treffende bob-haarstyl, het die gehoor betower met haar kragtige stem en haar hele lyf wat saamsing. Jy kan maar sê sy’t ‘n Tina Turner-teenwoordigheid. Haar ”Spirit of the great heart” het ons koue rillings gegee.

Die (nuwe) Speaker van die parlement, Max Sisulu, het die nodige gravitas aan die aand verleen met ‘n kort toespraak waarin hy belowe het samewerking tussen alle sfere van plaaslike en nasionale regering gaan ‘n kenmerk van die nuwe bedeling wees. Die gewone mens se lot moet verbeter word, ongeag ras of geografie.

Die nuwe burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, het bygevoeg SA se politieke wittebrood is verby. Nou moet die werk begin!

Oor ‘n glasie wyn (ons s’n) en ‘n sigaret (syne) kon ons ‘n woordjie inkry met die gewese RSG-omroeper Niekie van den Berg. Hy sê dit was ‘n emosionele oomblik toe hy nou die dag as DA-parlementslid ingehuldig is.

”Dit voel soos ‘n voltooiing. Deur die jare het ek as omroeper met elke belangrike en onbelangrike politikus gepraat. Ek was by Nelson Mandela se inhuldiging, Kodesa 1 en 2, soveel parlementopenings. Ek het altyd gepraat oor dié goed, nou’s ek daar waar die besluite geneem word.“

Net jammer ons het nie vir pres. JZ en premier HZ (Helen Zille) gesien nie. Dalk werk hulle klaar te hard om partytjie te hou!