Diverse

SARIE-joernalis blog uit haar ‘kantoor’ in Parys

Ek het immers die afgelope 24 uur 24 grys hare bygekry…

Gister het groukoud en witgeryp begin. Ek wil of kon nie opstaan nie. In my kop het ek lê en bereken hoeveel tyd het ek nodig om op die nuwe N1 met sy vyf bane (danksy die Wêreldbeker) tussen Parys en Pretoria te ry om die jong akteur by Brooklyn Mall te gaan ontmoet.

Neuroot wat ek is, het ek die vorige aand op Google doodseker gemaak die “Brooklyn Sentrum” waarna die skakelbeampte verwys, is wel die “Brooklyn Mall”. Ek het die roete bestudeer en selfs vriend Gert gebel om seker te maak die Mall en die Sentrum is dieselfde plek.

Mmmm, ja, ek hét vroeër die middag met die skakelbeampte bevestig, maar teen agtuur die aand kon ek dit nie meer hou nie en het “tog net weer” ‘n SMS gestuur om te bevestig ek kry die knaap by ‘Level 1 Shop 40’ alias die Mug & Bean in die “Brooklyn Mall“.

Nee, dis nie die eerste onderhoud wat ek in my loopbaan gaan doen het nie. Ek is al 28 jaar ‘n selferkende beheervraat met neurotiese vlakke effe hoër as ander mense s’n. Maar kan dit skade doen om “net seker te maak”?

Toe ek in die bed lê en wonder hoeveel tyd ek nodig gaan hê om betyds te wees vir die afspraak, was dit juis my neurose wat my onder die donskombers uit in die -5 grade vars Paryslug ingejaag het. Die woljas en handskoene, het ek geweet, sal moet waai as ek Pretoria bereik. Ek is al ‘n ekspert op laag-op-laag-kleredrag vandat ek in Parys bly. Hier in die holte van die koepel langs die rivier daal die kwik bietjie laer as selfs in Potchefstroom wat 45 km weg is. Die miswolk as jy die rivier oorsteek, is kenmerkend van dié tyd van die jaar, en as ek dit agter my laat, weet ek dis nog net 80 km tot by die tolhek en dan is Johannesburg om die draai.

Voor die Wêreldbeker het ek elke verslag oor die verkeersknope op die roetes na die stadions opgeslurp en vas geglo ek sal vir ‘n maand vieruur in die nag moet opstaan as ek Johannesburg of Pretoria toe moet ry. Cross my heart!

Gister was boonop die dag wat die skole weer begin het, en ek het verwag dat die verkeersknope my net duskant Soweto gaan vang.

Maar … So glad soos seep! Viva die maande se frustrasie met die padwerke! Nie eens verby Soweto en die probleem-afritte in Johannesburg, William Nicol en Rivonia, het my teruggehou nie. Dis dié dat ek toe twee uur voor die tyd by die Mug & Bean regskuif met my boek.

My oorlede man het telkens gesê hy wonder hoeveel uur per dag mors ek deur betyds te wees. Maar, my angsvlakke kan nou maar eenmaal nie sulke druk hanteer nie. Ek het Leonie Bridges eenkeer seker 20 keer gebel terwyl ek op pad na haar huis in ‘n verkeersknoop beland het. Sy het as ‘t ware gereed gestaan met ‘n glas water en kalmeerpil toe ek uiteindelik arriveer.

Om te keer dat ek ‘n beangste spektakel van myself maak, is ek dus “betyds”. Ek haat ook onderhoude in koffiewinkels, want dis te raserig en my diktafoon neem elke hoes en klingel van ‘n teelepel op. Dus, dit op sigself werk op my senuwees. Ek het al koffiewinkelbestuurders gevra om asb. net vir ‘n rukkie die musiek sagter te sit. Ek kies vanselfsprekend altyd die stilste hoekie, maar ook so geleë dat ek my prooi kan sien aankom.

As jy by die tafel langs my kom sit, sal jy sien hoe ek my tafel organiseer. Notaboek en twee penne (mens weet nooit) links van my. Selfoon reg voor my. Die diktafoon kry altyd nuwe batterye en dié word netjies langs die selfoon gesit. Slaggereed.

Ek het gister op Elizabeth Gilbert se Eat, Pray, Love se vyftiende hoofstuk probeer konsentreer terwyl ek wag. Ek het drie koppies swart filterkoffie gedrink.

Ek moet hier noem, my ander fobie is om altyd te weet waar die naaste toilet aan die koffiewinkel is. Ek is ‘n ekspert op die ligging van die openbare toilette van omtrent elke winkelsentrum in die land. By dié Brooklyn MALL is die toilette ten minste 500 m van die Mug & Bean af.

So ‘n halfuur voor die knaap moes arriveer, het ek besluit ek kan nie op ‘n vol blaas my beste doen nie. Dilemma. Ek kyk eers of die twee manne by die tafel langs myne eerbaar lyk voor ek hulle vra om my koffie en notaboek dop te hou. Ek vra sommer die kelner ook. “Net om seker te maak.” Die diktafoon en selfoon gaan in my handsak saam toilet toe.

Met verligting pak ek na ‘n rukkie weer al my toerusting uit en begin om om die minuut te kyk hoe laat dit is. Gaan hy betyds wees? Hy is ‘n bietjie laid back, so die kans is goed dat hy laat gaan wees, besluit ek. Maar hy is op die nipper. Man so na my hart. En watter twee goue ure was dit nie! Hy laat my selfs ontspan!

Om myself te beloon vir dit wat ek die oggend bereik het, stap ek in by Exclusive Books. En dis toe waar die papaja die fan strike! My sel lui. Die liewe Henriëtte vertel my opgewonde my een storie word een boek vorentoe geskuif en dat daardie boek nou op pad is fabriek toe… En daar is nog so twee mense wie se kommentaar ek NOU moet kry.

Neem my persoonlikheidstipe in ag as ek vir jou sê ek dog ek platz van angs. Ek het sommer al die boeke in my hand gekoop om my aanval van insecurity te kalmeer. Hoe gaan ek dit betyds regkry sonder my kontakboeke en lyste nommers? Ek gaan sit net daar op die grond en begin die witwarm stoom uit my selfoon bel. Henriëtte stuur nommers aan en ek bel.

Iewers deur die middag het ek begin besef die Vrystaat is nog ver en ek sal moet huiswaarts keer. Dit bring my by nog een van my fobies. Malls se parkeergarages. Ek het nog duisende rande se terapie nodig om die keer te verwerk toe my kar gesteel is.

Voor ek uit my kar klim, maak ek altyd seker ek memoriseer die vlak en plek waar ek staan… Met my selfoon steeds teen my oor geknyp en my trollie vol boeke, besef ek toe gister met my uittog uit die Brooklyn MALL dat ek nie eens meer weet aan watter kant van die sentrum ek geparkeer het nie. Net dat dit die rooi vlak is.

“Why is there not a red level? I parked my car there!” vra ek ‘n sekuriteitsman met onderdrukte histerie.

“Because the red level is on the other side of the mall…”

“Please take me there,” smeek ek.

Geduldig stap hy saam tot by my kar en ek stop hom R50 in die hand. (Ek was intens dankbaar.) As ek fokus, fokus ek met mening en daarom het ek vreesloos vir metro cops deur die verkeer gevleg met my foon vasgeplak teen my oor.

Kort duskant Grasemere-tolhek het ek my eerste kommentaar gekry. Ek skryf dit net daar in my notaboek en bel Henriëtte om as we speak die goue woorde in my storie in te voeg. Nog net een mens wie se kommentaar ek moet kry…

Ek los boodskappe op sy sel, by sy skakelbeampte (en ek vermoed ook by die sekuriteiswag van die gebou waar hy werk), maar teen die tyd wat ek die Parys-afrit neem, besef ek hy is “seker onbereikbaar”. By die huis los ek vir hom ‘n boodskap op Facebook en stuur e-posse na hom en sy skakelbeampte. Toe sy radioprogram vanoggend nege-uur geëindig het, was ek gereed vir hom op die foon. Sy skakelbeampte het nog iets gesê van hy is besig met ‘n ander oproep. “Ek sal aanhou, dankie,” het ek met my vriendelikste stem gesê. Wat ‘n galante heer is hy nie oor die foon nie! Maar nee, ek moet myself nog verder martel, besluit ek. Daar is een man in my storie wat ek al weke soek en ek “wil net seker maak” my inligting is korrek. Ek het hom getwitter, gefacebook en geSMS. Ai, dit was so lekker toe ek die laaste feit op sy plek het en ek met ‘n geruste hart my storie kon deurstuur. Het ek iewers genoem ek is ‘n neuroriese wrak?

  • Tannemys

    Lekker gelag! En nee, ek sou nooit kon raai jy is…mmmm… neuroties nie.

  • Judy

    Lekker-lees storie die. Ek sien uit na die volgende.

  • JP van Nieuwenhuizen

    Ek verstaan hoe jy voel.

  • Tiaan Roodt

    Wat n’ briljante stuk met eerlike emosies!

  • Zack Basson

    Diep insig, ‘n wonderlike stuk om te lees. Sien uit na die volgende.

  • Lieneke Pieterse

    Dis my mamma en ek is trots op die werk wat sy doen.

  • Rita van Dyk

    Hi Martie, ek wil net gou seker maak dis die regte Martie Swanepoel met wie ek praat! Ek weet jy sal nie elke artikel onthou wat jy geskryf het nie, maar as jy vir my jou e-pos adres stuur kan ek dit vir jou "scan" en stuur. Die opskrif was "Die katvrou van Pretoria" en jy was saam met my na die Animal Anti-Cruelty League se plek naby Rosslyn. Die datum van die artikel is 28 April 1993 – wens ek het nog so mooi jonk gelyk soos op daardie foto! Ek wil graag met jou praat oor ‘n opvolg artikel oor Tricha Naude in Pretoria wat mens kan beskryf as die "Moeder Theresa" van weggooikatte. Sy voer meer as 800 van hulle in en om Pretoria met niemand om haar te help nie!

  • ttpGAt ugfjvrgcyofa, [url=http://mfifzqviobss.com/]mfifzqviobss[/url], [link=http://ginwiuvjocny.com/]ginwiuvjocny[/link], http://uqrhrykvzmri.com/

  • WT2nZs syshkofjwmoz, [url=http://wxceidxzmzne.com/]wxceidxzmzne[/url], [link=http://kemhmjapjzsh.com/]kemhmjapjzsh[/link], http://iyuiutfdawkm.com/

  • Sounosuke

    sagt:ich bin der MEinung das Voip frfcher oder spe4ter zum echten PRoblem ffcr Die Provider weredn wird. Ob sie versuchen, dem entgegenzuwirken oder nicht, irgendwann weredn die LEute wissen, wie man die Dinger crackt