Diverse

Sjoe, hoor ek vriende, kollegas, bekendes en onbekendes sug.

Ons het nog nie eens die ekstra kilogramme afgeskud wat ons oor Kersfees opgetel het nie. Of die ongewenste geskenke omgeruil nie. Ons probeer nog ons ritme vind. Ons wou nog die jaar so voel-voel begin, planne maak, strategie uitwerk, en kyk nou – gedaan!

Ek het al verlede jaar oor dié ding begin skryf. Dat ons ons moeg jaag. Al vinniger om by te hou by die wêreld en sy blink. Dat ons tyd-arm is, en nie meer kans kry, of maak, om stil te staan by dié dinge wat belangrik is nie. Dat die lewe by ons verbyglip.

So praat ek toe ook in onlangse toesprake hieroor. Net ’n maand of wat gelede ook in Bloemfontein by ’n vroueoggend. Ek moet erken ek het die vorige aand, toe ek die komeet met sy wonderlike, lang stert helder bo die oop, Vrystaatse horison sien, gewonder of Bloemfontein sou identifiseer met dié boodskap, omdat die stad vir buitestanders die rustige lewe is.

Hoe verkeerd was ek nie! En nee, dit was nie net ma’s met kinders en ’n veeleisende werk wat deur my woorde geraak is nie. Maar ook jong mense – 25, 28 – wat ná die tyd moedeloos hul storie wou vertel.

Die kwarteeu-krisis (quarterlife crisis) is juis iets waaroor kenners ál meer praat. Jong mense van 25 en ouer wat gedruk voel om die regte keuses te maak, die regte skuiwe op die regte tyd. Daar is byna nie tyd, of ruimte, vir foute nie. Die druk om vroeg-vroeg hul stempel af te druk en groot verantwoordelikhede te dra, veral in die werkplek, is genadeloos. En saam betaal ons die prys. Uitbranding wat eers onder 40-jariges en ouer voorgekom het, kom nou ook onder 30- en 20-jariges voor. Ons leef in ’n wêreld van 2-minuut-noedels, waar depressie, slaaploosheid en eetsteurnisse algemene verskynsels is.

Die oorweldigende reaksie telkens op my praatjie het my laat besef die beginsel van Stadig Leef/Slow Living (’n toenemende wêreldtendens wat ’n teenreaksie op vandag se malle gejaag is en waaroor SARIE al geskryf het) is nie meer ’n luukse nie, maar ’n noodsaaklikheid.

Ontsnap aan die wêreld se gejaag gaan ons nie sommer nie. Maar ons kan ons prioriteite regkry en ons tyd beter bestuur sodat ons meer in beheer vóél. Ons kan leer om grense te stel en soms nee te sê, sodat ons gehaltetyd kan bestee aan dít wat vir ons belangrik is en waarvoor ons wel ja gesê het. En soms kan ons net sit en dagdroom. ’n Bietjie stilte, weg van die geraas, doen wonders om beter oor onsself en die wêreld te voel.

Ons kan weer met mening die mooi soek in die lewe se stadige dinge – daardie komeet (!), reëndruppels, die see en veld, vriende, familie. Ons kan lees en wegraak in ’n boek, in musiek, in die tuin met ons vingers in die grond. Ons kan beslúit om geduldiger te wees, toegankliker, om meer begrip te hê. Vandag ís dit om kop te hou terwyl die wêreld om ons syne verloor. Nie toe te laat dat ons net meegesleur en leeg anderkant uitgespoeg word nie.

Paasnaweek is byna hier en dis dié tyd vir Stadig Leef. Om ons energie en ewewig te herwin. Vir baie van ons is dit ’n ryk, spirituele tyd, vir ander ’n koestertyd saam met familie en vriende. Benut dié tyd. Dis kosbaar en dis joune. Gebruik dit goed en sinvol.

Michélle van Breda

SARIE April 2007